Lewensles

Ek sit laasweek in Woolworths. Vir die uitverkoping gegaan, vir die kinders, julle weet mos… Haak toe vas by Trenery et al. Kry swak diens. Ek gaan drink toe koffie by W Café terwyl Iyla haar melk drink. Ek sit ver van die paar ander mense, ek’s nie een vir lappies oor die tieties gooi nie, maar wil darem nie die ander mense te erg pla nie.

Die Wifi werk nie.

‘n Ou, verslonste tannie kom nader geskuifel. Kom sit by die tafel agter myne. Hop weer op en kom praat met my. My naam. Baba se naam. Ouderdom. Geslag. Is die kind gedoop/geseën? Ek antwoord. Beswaarlik.

Ek praat nie eens met mense wat ek ken nie! Mense is nie my “ding” nie. En dis die maklikste skans om agter te skuil. Ek wend nie eens ‘n poging aan nie.

Toe ek wil betaal bring die kelner die strokie, maar sê die tannie het reeds betaal.

‘n Gawe boodskap staan daarop geskryf.

My suster het so in engele geglo. Ek moet dalk ook, want hoe anders verklaar ek die goedheid van die mensdom waarin ek so min glo?