Plekhouer

Ek weet nie eens meer hoekom ek hier plek hou nie. En waarvoor nie.

Die leë blog is soos ‘n rooi liggie wat flits. Mislukking. Ongedane sake. Nog iets waarvoor ek nie tyd maak nie. En op dae waar ek baie kwaai is met myself: Een van die goed waarmee jy goed(erig) is en dit doen jy ook nie. Sondagskool skuldgevoel. Lantern onder die maatemmer.

Ek wil nie daai ma wees wat altyd moeg is nie. Maar ek is. Want ek slaap so verskriklik min. Mense wat my sien sê sommer dadelik “Jy lyk nie lekker nie”. As hulle my goed ken sê hulle “fok, maar jy lyk kak” Ek voel oor die algemeen okay. Soms bietjie dof, asof my buitelyne hier en daar uitgevee is.

But, I’m still standing.

en my kinders (al 3, ek het nog nooit eens die nuwe een hier gewys nie!) is vrek oulik

my huis is mooi

my nuwe tuin groei

my man is lief vir my

my besigheid is winsgewend

So. 1st world problems, né.

 

 

 

 

 

Red my

Ek het gister vir die tweede keer met Month of Letters begin. Dit behels, kortliks, dat mens vir elke posdag van Februarie iets met die pos uitstuur. Briewe, poskaarte, koerantuitknipsels, verjaarsdagkaartjies… Verder moet mens ook antwoord op enige pos wat jy ontvang (seker nou nie ‘n dankie aan Cell C rig vir jou telefoonrekening nie).

Ek was laasjaar heel suksesvol en het ‘n klomp lesse geleer. Het ek die tyd om dit hierdie jaar te doen? Nee. Moet ek dit hierdie jaar doen? Ja.

Want soms moet mens besef wat jou aan die lewe hou.

Modern Mrs Darcy blog oor “Things saving my life right now” en dat dit eintlik ‘n moeilike vraag is vir meeste mense om te antwoord. Want almal kan dadelik sê wat hulle lewens kak maak, maar die belangrike goed word net as terloopse goed beleef en aanvaar. Amper as onnodighede. Tussen al die ander “belangrike” goed in die lewe kan/mag (?) mens mos nie net op jouself fokus nie?

Maar dis die ding. Dink na oor dit wat jou lewe _nou_ red. Dit verander dalk daagliks. Na gelang van die seisoene. Soos jou werk- of huisomstandighede verander. Maar as dit iets soos ‘n koppie koffie in stilte is voor die huis wakker word, staan op. Maak seker jy doen dit.

My lysie is heel basies:

  1. Brief skryf. Want ek probeer twee van die goed waarvoor ek baie lief is kombineer: woorde en enige vorm van kreatiwiteit. Gaan kyk bietjie na letter art op Pinterest. Mense doen ongelooflike goed met pen en papier. Maar ek moet nog baie leer;
  2. Om iets te eet in die oggend. Binne 10 minute nadat ek wakker word. Tans is dit ‘n bakkie dubbel room jogurt met amandels. Want anders voel ek sleg, flouerig en basies moerig;
  3. Instagram. Al dien dit net as ‘n fotojoernaal vir myself. Maar ek is mal oor die feit dat daar mense amper nes ek in die wêreld bestaan;
  4. Bokse uitpak. Want anders voel ek oorweldig en lui dat ek niks doen nie en paniekerig in die algemeen;
  5. My “Get Busy” to do lysie van Typo. Dis ‘n A4 skryfblog met kolomme vir date, action en done. Super eenvoudig, maar dit werk uitstekend vir my. Die mees eenvoudige ding word opgeskryf. Want dan is dit nie meer in my brein saammet die ander 1000 gedagtes nie.

Wat red tans jou lewe?

 

 

 

Vir my sussie

Ek plaas vandag ‘n ou skrywe. En hierdie keer nie op my suster se verjaarsdag nie. As ons maar net nog ‘n verjaarsdag kon gekry het. Vandag is haar sterfdag. Einde van die pad. Die 4 uur in die oggend oproep wat niemand wil kry nie.

En die rede is dit waaroor ons al vir 6 jaar stry – haar kwynende gesondheid as gevolg van haar gewig.

Ek het net nie besef dieselfde gesprek gaan al vir 6 jaar aan nie. Want 6 jaar is mos oorgenoeg tyd om ‘n verandering te maak, is dit nie?

Was dit nie?

“…al ooit gewonder hoe dit voel om te vlieg….. ons kan wees wat ons wil aan daardie kant… geen reels…”

-Beloofde Land, Heuwels Fantasties

NetJane se blog

Ek wens mense het nie vreeslik baie draadwerk gehad nie. Ek wens dat mense nie liggeraak en vol issues was nie. Ek wens dat woorde nie kon seermaak nie. Ek wens ek het altyd geweet wat die regte ding is om te sê  en die regte ding op die regte tyd gesê.

Ek wil jou nie seermaak deur my woorde nie. Ek wil jou nie verkleineer deur my raad nie. Ek wil jou help. Omdat ek lief is vir jou en omdat jy my sussie is.

Ek is die een wat nie goed is met mense nie. Ek is die een met wie mense nie graag praat nie omdat ek hulle vreemd en ongemaklik laat voel. Ek is die een wat nie verjaarsdae en kinders se name onthou nie. Jy is die nice een. Die vriendelike een. Die een van wie mense hou. Omdat jy omgee. Omdat jy soveel van…

View original post 254 more words

Ode aan die dwalendes

Maankind skryf dat sy eendag ‘n loflied aan al die ma’s wat so in die middernagtelike ure wakker is en kinders versorg wil skryf. Ek lees toe juis haar blog tydens een so strompel wakker-slaap sessie van my.

Ode aan die dwalendes

Aan al die sluipers
die klaasvakie bekruipers
die waar de moer het daai Lego blokkie
nou vandaan gekom
mompelende struikelaars

Die nagbewoners
Wat dagbewoners ook moet wees

Die snot besmeerdes
Die kots besweerders
Die een wie se naam hulle (amper) altyd roep,

Sawubona.
I see you

Posted from WordPress for Windows Phone

Posted from WordPress for Windows Phone

Mooi(nooi)

Ek kyk na Pinterest en lees blogs en kyk na tydskrifte en loer
deur winkelvensters en lees op Twitter en praat daagliks met my ma. Die goue
draad – alles gaan oor mooi goed. Want dis waarvan ek hou. Of dit nou klere of
skoene of retro sakdoeke of glase of pyrex mengbakke of klein koekvurkies is,
dit trek my aandag. Ek wil nie alles hê wat ek sien nie (ja, okay, goed, ek wil
omtrent alles hê), maar as daar ‘n paar dae verbygaan wat ek nie besig is met
mooi nie raak ek krapperig.

Snaaks dan dat my mooi skoene, oorbelle, vintage sy serpe,
handsakke, teekoppies, Brusselse kant sakdoekies, port glasies, koekiedrukkers,
potplantjies, canned fruit bottels, boeke, krale, lint – en so kan ek nog vir
hoeveel sinne aangaan – alles iewers lê. Agter in ‘n kas, bo-op ‘n rak, in ‘n
laai, in ‘n boks in die garage, onder die bed in ‘n plastiek krat.

Ek is ‘n versamelaar, maar iewers het ek ophou optree as kurator.
Ek wil graag die kinders blameer, maar Arjun word groot in ‘n huis met
breekbare goed. Hy raak aan niks wat “spesiaal” is nie en ek moes nog nooit met
hom raas oor iets wat gebreek is nie, so ek kan nie die verskoning gebruik dat
ek die huis moes childproof nie.

Dan wil ek sê ek het nie tyd nie, maar ek kry tyd vir Candy
Crush speel en Say yes to the dress kyk en trollie stoot in Checkers, so
weereens werk daai verskoning nie.

Ek dink dis bloot omdat ek lui is. ‘n Herhalende tema op hierdie
blog van my. Vir jare al. So asof dit vanself gaan verbeter net omdat ek dit
erken.

So hierdie is vir my ‘n projek. Eintlik het ek dit op ‘n
ander blog raakgelees – iets soos daily/weekly inspiration. Ek gaan wys wat vir
my mooi is, of waarmee ek myself besig gehou het, want mens vergeet om die mooi
in die lewe te ervaar selfs al word mens daarmee omring.

Want die lewe is te kort vir alledaags.

Brief vir die toekoms (3)

Liewe Arjun

Ek moenie eintlik nou hierdie brief tik nie, want jou nuwe boetie is skaars ‘n week oud en ek is nog ‘n gemors van hormone en melk en min slaap en ‘n keisersnit sny.

En dan’s daar jy. Die helderste ster van absolute geluk en pret en plesier. Die grapjas met ‘n tuitbekkie as jy nie jou sin kry nie, wat elke oggend wakey-wakey mamma in my oor “fluister”. Jy loop versigtig deur die huis en skree op topvolume, doodernstig, vir jou pa: “bababoetie is sleeping, we must tip-toe”.

Jy’s nuuskierig. Jy’s leergierig. Jy’s eintlik onhebbelik, maar as jy die dag te ver gaan is jy vinnig met ‘n “ek gee jou ‘n drukkie mamma”. Want jy weet jou drukkies en papbek soene maak alles reg. Ek verstaan al hoe meer die cliche dat daar ‘n stuk van jou hart buite jou lyf rondloop as jy eers kinders het. Want dit is so. Tussen jou en bababoetie en jou pa is my hart in 3 “gebreek”.

Jy pak die lewe met durf en moed aan. Onverskrokke. Braaf. Gewillig om enige iets nuuts te probeer. Deur die bank hou mense van jou. Jy charm hulle. Met jou donker ogies en glimlag. Ek’s so trots op jou. Al gebeur nuwe goed in jou lewe en word jou roetine omver gewerp, gaan jy net aan. Groot voor jou tyd. Seker van jou saak. Niks effens as dit by jou kom nie.

En elke dag wonder ek – is ek genoeg? Doen ek genoeg? Hoe verdien ek om jou ma te wees? Jou groot te maak om jou volle potensiaal te bereik? Ek’s so bang ek stel jou teleur. Veral nou met bababoetie. Ek weet hy’s klein en moet vir eers meer aandag kry en jy hanteer dit so mooi, is so bereidwillig om jou speelgoed en komberse te deel, wil so graag help en vra elke dag dat bababoetie jou handjie moet vashou, maar ek’s so bang ek kom jou te na. Gee te min van my vir jou. Want jy gee alles van jou vir my sonder om te aarsel.

Ek troos myself daaraan dat jy baie tough is. So weet net, ek probeer om beter as my beste te wees, maar soms sukkel ek.

Jou tranerige ma.

Vir my Pa. Vir Vadersdag

 

Pa,
 
Ek het vergeet om Pa se pakkie vir Vadersdag te pos. Daar’s
‘n blou baadjie in om by Pa se oe te pas en lekkergoed, want ek weet hoe baie Pa van ‘n klein skaftan hou. Ek ken net die woord omdat Pa dit vir my geleer het.
 
Saammet soveel ander woorde. Rangeerwerf, trajek, tes, en ‘n duisend wat ek alweer vergeet het, omdat ek langs Pa kon sit terwyl Pa blokraaie invul. Ek gebruik ook ‘n klomp wat nie bestaan nie, maar in Pa se kinders se huise het dit nou al gebruiklik geword. Ons sit net die “soos Dawie altyd se” caveat by.
 
Ek weet nie meer hoe dit gekom het dat ons Pa, skelm, agter Pa se rug, Dawie noem nie. Want ek weet Pa haat daai verkleiningsvorm!
 
Dankie dat ek ‘n liefde vir lees en woorde en sinsnedes uit liedjies en verdwaalde strofes uit verse by Pa geleer het. Hoekom Pa ander se woorde nodig gehad het weet ek nie, want Pa het ‘n goue tong. Vir argumenteer, redeneer en vir kak praat.
 
My tuin is nie so mooi soos Pa s’n nie. Ek weet nie mooi hoe om steggies te maak nie, maar ek loop nie verby ‘n vetplantjie of aalwyn sonder om te dink dat Pa daarvan sal hou nie.
 
Ek mis ons saam fliek kyk.  Pa en ek is altwee suckers vir ‘n liefdesverhaal. Al hou ons onsself so tough en traak-my-nie-agtig. Daar het nooit ‘n bedelaar aan die deur geklop wat nie met ‘n broodjie of blikkie kos daar weg is as Pa die deur oopgemaak het nie.
 
Dankie dat Pa al die jare so hard (waarskynlik te hard) vir ons gewerk het. Ek het nooit iets kortgekom nie, maar was ook nie bederf nie. Ons het oor ‘n wye verskeidenheid goed in die huis gepraat en my horisonne was wyd oop. Pa het my geleer om dieper te kyk. Na mense en probleme en goed.
 
Pa is die heel beste Oupa.
 
Geniet Pa se Vadersdag. Ek weet ons praat nie genoeg nie, maar dis maar hoe ons tweetjies is. Selfs van aangesig tot aangesig is ons soms maar dun op woorde.
 
Ek verlang. Ons moet weer ‘n slag Canasta speel.
 
Baie liefde
Pa se witbroodjie.