R10 het baie gekoop

Jeans aantrek. Maak nie saak hoe styf en laag nie. Want jy’s 19 en jou lyf nog meer as okay. Toppie. Swart. Styf. Waarskynlik te kort. Maar dit raak warm daar binne. Docs toeryg. Dis nie ‘n club vir hoë hakke en glitter oë en pienk lipstick nie. Niemand gaan vir die meat market nie. Dit gaan oor die musiek.

Laataand die stad oorkruis. Wes na Oos. Mense gaan al slaap, maar die dansvloer gaan nou eers begin opwarm.

The Doors.

My ma sê dit asof mens daar aanklop en dan gaan die poorte van hel ook oop. R10 maak die deure oop. Dis donker. Instant anonymity.

En die rock musiek wat deur jou bene bewe.

Instant oblivion.

****

Na ‘n paar aande van musical beds and kotsende kinders en self siek wees en borsvoed wens ek vanoggend vir daai klein thrill net as mens by die kar uitgeklim het en die winterlug gebyt het aan jou oop naeltjie, voor die R10 die deure oopgemaak het.

Na anonimiteit.

En die luukse van ontsnap van die oomblik.

Advertisements

Asem skep

As ‘n ouer kry mens baie raad oor hoe om jou kind(ers) groot te maak. Sommige van die raad soek mens self uit. Meeste is unsolicited. In Swede het daar bo almal se posbusse gestaan: “Ingen reklam, tack” – geen advertensies dankie. Ek wil so kennisgewing saammet my dra. Om 98% van mense wat met my wil praat (oor enige iets) te ontmoedig. But, I digress.

Wat ek egter wens almal met kinders (almal!) aan my duidelik gemaak het, is hoeveel mens met jou kinders moet deel. Hoe min daar van die eie ek oorbly. Dat niks jou eie is nie. Selfs goed waarvoor ‘n 2 jarige seuntjie nie noodwendig en ooglopend ‘n nut voor het of ‘n belang sal by hê nie. Soos ‘n bra.

Ek het reusagtige persoonlike spasie. Hanteer net ‘n beperkte hoeveelheid stimulasie en voel maklik oorweldig. Ek kry nie energie om by mense te wees nie. Ek hou van alleen wees. En dit maak my seker ‘n slegte ma, maar kinders is _heeltyd_ daar. Met geraas. En fisiese kontak. (En liefde, ja, ek weet, ek praat nou van uiterse gevalle, wanneer ek verstaan hoekom die stereotipe bestaan dat ma’s 2 uur al begin wyn drink)

Ek lewe tans in ‘n uiterse geval. Elke dag. Ander mense sal net voortgaan met hulle dag tot dag bestaan, want all in all, is dit nie so erg nie, maar vir my persoonlikheid is dit.

Ons het aan die begin van Desember in ons nuwe huis ingetrek. Wat nie klaar is nie. Wat glad nie so klaar is as wat dit moes wees nie. Wat toe ons ingetrek het nie eens ‘n kombuis gehad het nie en net plek-plek ligte en water gehad het. Met bouers en sub-kontrakteurs steeds op die perseel tot die 20ste Desember. Met dieselfde bouers en sub-kontrakteurs wat die 11de Januarie teruggekom het. En 4066m2 se stof en/of modder as erf. (Want die vorige eienaar het ‘n tipe total destruction met omtrent al die bome en struike en groen goed gedoen, hoekom? Want hy’t gedink hy kan).

In my ma se ou huis het sy ‘n kamer gehad wat totaal onnodig was. Sy het dit nie in ‘n gastekamer omskep nie. Sy het dit in ‘n tipe mini-sitkamer/boudoir omskep. Sy het dit haar breathing room genoem.

En dis wat ek tans nie het nie. ‘n Breathing room. Wat net myne is. Sonder stof. En geraas. En lego blokkies. Waar ek kan lees en blog en tee drink. Ek is ‘n laatlammetjie. Liefie ook. Ek is gewoond aan goed wat net myne is. Sommige noem dit selfsug. Ek noem dit oorlewing.

(het ek genoem dat ek 5 maande swanger is?)

 

Brief vir die toekoms, v2.0

Gyan

Jou naam beteken kennis, maar ek dink jy weet dit. Jy lewe asof jy al ‘n paar kere hier was. Die spreekwoordelike ou siel. Niks “frivolous” omtrent jou nie. Jy lewe ernstig. Met mening. Doelgerig. Uitermatig doelgerig. Tussen jou pa se aandagafleibaarheid en jou ma se uitstellery, weet ek nie waar jy hierdie eienskap gekry het nie. Bou daarop voort!

Eendag gaan ek dit vergeet het, want dis wat die natuur ma’s laat doen sodat hulle nog babatjies sal kry, maar laat ek dit nou maar uitdruklik hier stel: jy slaap fokken min. Ek wens ek kan sê dit raak beter, maar ek glo dat teen die tyd wat jy hierdie brief lees, jy dit waarskynlik in die na-middernagtelike ure sal doen, want dis hoe jy rol. Nog altyd. Van voor jy gebore is. Jy’s nie ‘n slaper nie. Jy’s oppad iewers heen. Goed om te doen. Wie’t tyd om te slaap.

Jy’t ‘n hengse humeur. Strip jou moer tussen een asem teug en die volgende. En raak dan net so gou weer goed. Jou pa sê jy’s net soos ek in daai geval. Voor hom maak ek of ek verontwaardig is dat hy so iets sal dink, maar ek weet dis die waarheid. Onthou net, soms is dit nie die moeite werd om so kwaad te word nie, want mens moet omtrent altyd weer goed word. En die wêreld gaan jou gereeld kwaadmaak. Veral die dwase wat daarin woon.

Jou ouma Christa noem jou Ollie. Kort vir Olifant. Ek dink sy het ‘n punt beet. Jy neem waar. Sien alles. Oorweeg langsaam die situasie en tree dan op. Maar as jy eers beweeg keer niks jou nie.

Jy’s ‘n vriendelike baba. Ernstig, maar jou hele gesiggie glimlag saam as iets vir jou amusant is. Jou boetie is jou lewe. As ek jou kry het jy gangaf gekruip om by sy kamer uit te kom. Jy is jou boetie se lewe. Eendag as julle twee jong ramme is, moenie baklei oor meisies en partytjies en rugbyspanne nie. Wees lief vir mekaar. Regtig lief. En wys en sê dit vir mekaar. Of dit nou manlik is of nie.

Jou ma is nie die wêreld se mees demonstratiewe mens as dit by gevoelens kom nie, maar tussen jou en Arjun het al my skanse verdwyn. Julle is albei liefdevol, vol drukkies en soentjies. Jy kom lê gereeld jou kop teen my of jou pa se skouer of been of arm vir ‘n bietjie rus en liefde.

Onthou dit – maak nie saak hoe oud jy is nie, by my sal daar altyd bietjie rus en liefde vir jou wees.

gyan

Nog ‘n brief vir die toekoms

My liefste Arjun

Môre word jy 4! Ek weet dis die grootste cliché, maar waar stap die tyd met ons heen?

Jy is nou ‘n regte seuntjie. Hou van hoog swaai, spring, en blitsvinnig ry op jou fietsie. Jy’s pal vol bloukolle en skrape en vol stof en modder (en kom ons wees maar eerlik, snot ook). Jy’s ‘n gawe boetie en gun vir Gyan baie van jou tyd en speelgoed en deel jou ma en pa ook ewe geredelik. Dankie daarvoor – jou boetie is ‘n knaap wat baie tyd in beslag neem.

As jy in die oggende met jou warm lyfie by ons kom inkruip en jou boetie styf vasdruk en sê “kyk mamma, dis jou whole family!” weet ek nie hoe om my hart in een stuk te hou nie. Jy druk jou boetie dat hy eintlik kreun en sing vir hom “hallo little darling!” – ek weet nie eens waar jy aan al die goed wat jy kwytraak kom nie. Jy’s vrek nuuskierig. Grou oral waar jy nie moet nie. Ek en jou pa kan nie eens in ‘n tipe grootmens kode probeer praat nie, jou ore hoor (en verstaan!) alles.

Ek is trots op jou. Jy is vriendelik, aanpasbaar, openhartig en vol moed. Jy’s ‘n jaar jonger as al die maatjies in jou kleuterskoolklas maar jy gaan net aan. Niks keer jou nie. Ek het voor jou geboorte vreeslik gewonder watter naam om vir jou te kies, maar ek kan sien ek was reg. Jy is aantreklik, sensitief, standvastig, braaf, lojaal teenoor vriende en het ‘n streng pligsbesef.

Bly altyd ‘n dromer wat lang stories kan uitdink en maklik kan lag. Moenie dat die grense van die lewe jou inperk nie. Jy bring lig waar jy gaan. Moenie ooit ophou vrae vra nie. Werk dalk aan jou hardkoppigheid – dis een van jou ma se minder goeie eienskappe wat jy geërf het…

En, die belangrikste vir ‘n ma se hart, moet nooit ophou drukkies gee terwyl jy fluister “my is liefie vir jou, mamma” nie.

My is liefie vir jou ook…

arjun.swing.crop

‘n Skyfie slaap

Ek dink nie ek het in my lewe al so min geslaap as vandat Gyan gebore is nie. Alle nuwe ouers slaap min, ek weet, maar ek is ‘n slaper. Ek is ‘n beter mens as ek slaap. Meer van ‘n aanwins vir die samelewing. Ek het groot geword in ‘n huis waar slaap heilig was. My ma glo as iemand slaap, is daar ‘n rede en die persoon moenie wakker gemaak word nie. Slapende honde wat moet bly lê was nie net ‘n spreekwoord in ons huis nie.

Arjun aard na my. Slaper.

Liefie, minder van ‘n slaper en erger nog as dit, ‘n naguil.

Gyan. Geen woorde om sy gedrag te beskryf nie, maar toe lees ek dat die algemeen aanvaarde idee van ‘n blok van 8 ure se aaneenlopende slaap betreklik jonk is. Blykbaar moet ons eintlik “segmented sleep” toepas. 2 blokke van ongeveer 4 ure elk, met ‘n uur of wat se wakker tyd tussenin. Navorsing wys dat die wakker tyd vir ‘n verskeidenheid goed gebruik is. Gebed, meditasie, lees, skryf, seks. Sommige mense het selfs by ander mense gaan kuier in die tyd. Mettertyd het die gebruik heeltemal weggeval en nou raak almal angstig as hulle nie hulle koppe neerlê en eers weer die volgende oggend optel nie.

So het ek nou maar moed opgegee met Gyan en het ons segmented sleepers geraak. Hy slaap lekker van so half agt tot so half 1 of 2 uur en dan kuier en speel hy baie gelukkig vir ‘n uur of twee en van 3 tot 7 slaap hy weer. As ek probeer om hom weer aan die slaap te kry met sy wakker word gee dit ‘n gegil af. Ek glo nie in sleep training nie en die outjie is regtig nie andersinds stout of skreeuerig nie. Die probleem is egter net dat ek nie heeltemal die eerste stuk van die slaap kry nie, want ek het ‘n lewe en ‘n man en stokperdjies en ‘n nuwe huis wat gebou word, en, en,en…  Die tyd saans as die kinders slaap is vir my goud werd. Behalwe dat ek eintlik ook moet slaap… Verder raak Arjun ook hier teen 6 uur of half 7 wakker, so ek mis weer op ‘n stukkie slaap uit. As ‘n natuurlike slaper wil my lyf se interne horlosie ook nie lekker inval by hierdie stuk-stuk geslaap nie, natuurlik ook omdat ek dit nie reg toepas nie!

Ek sê nou maar vir myself dat ek van alles wat vintage en retro is hou.

Ek neem dit nou maar net ‘n stap verder – retro slaap.

**Lees hier meer oor segmented sleep**

Hokaai, stop die lorrie

Ek kan aan baie goed gelyk dink en redelik baie goed gelyk doen, maar op ‘n manier kan ek nie heeltemal “betrokke” wees, die engelse woord is engaged, as daar te veel aangaan nie. Ek clutch uit. Kry alles gedoen, maar so asof dit iemand anders is wat die goed doen. Soos nou.

My praktyk begin bietjie stoom opbou en ek is bly vir die “regte” instruksies wat inkom, ek begin uiteindelik opgewonde raak oor die huisbouery na ons draai in die Appelhof in Bloemfontein en natuurlik kom die nuwe seuntjie oor ‘n maand – maar dis juis my dilemma. Te veel! (My ma se vriendin het altyd die storie vertel van ‘n Afrikaanse huishoudkunde juffrou wat op een van haar take in ‘n Engelse skool geskryf het “Too more information!”). Dis waar ek nou is. Too more information.

En al hierdie goed moet konkurrent gebeur. Met of sonder my wat uitclutch. Liefie se voorstel is dat ek ‘n dag in die week kies en dan oor een ding opgewonde raak.

Ek maak lysies vir ‘n vale en probeer my vlakhaaserigheid inperk, maar vang myself telkemale waar ek se, as abc net eers verby is dan kan ek…

Ek weet die lewe deel nie geluk en/of ongeluk in sulke netjiese pakkies uit wat jy dan kan kies om stelselmatig oop te maak nie. Ek verbeel myself ek was eens op ‘n tyd beter met hierdie tipe ding, maar dit voel al vir my asof my radiostasie nie lekker ingestel is nie. Daar’s te veel noise. Dalk dra die swangerskapshormone by tot hierdie gevoel, maar ek dink nie dinge gaan makliker raak na 20 Februarie nie! (Terloops, die kind het nog nie ‘n naam nie. Erg.)

Intussen kies ek maar more om opgewonde te raak oor ‘n netjiese studeerkamer.

 

 

Kom ons praat daaroor…

Ek is nie skrikkerig vir die lewe nie. Wel, meestal nie. Bul by die horings. Draai nie doekies om nie, she doesn’t mince her words. Dis ten minste die prentjie wat ek van myself het.

Toe ek vanoggend een of ander liedjie wat soos die een voor hom en na hom klink hoor, iets van dans en vergeet en partytjie hou en dan  – die koue emmer water (vir my) – “you look at me and say tonight we’ll go all the way” (of so iets). Watdiefok, soos my engelssprekende vriendin altyd sê.

Ek is 32, getroud (en is al vandat ek 19 is met Liefie gekys), het ‘n seuntjie, met nog een (gee my krag!) oppad, so seks en die gepaardgaande versies is nie vir my vreemd nie. In teendeel. Ek het warm bloed in my are. (My ma het my altyd op skool na ‘n date gevra “vat hy warm?”, maar sien, dis hoekom ek meer moet blog, my kop loop draaie vanoggend. Jou kop loop altyd draaie, sal die wat my goed ken opmerk).

Is seks, die verkryging van seks, die dink aan seks, aantrek vir seks, die moontlikheid van seks en die uiteindelike ek het nou seks gehad dit waarmee meeste mense hulle van dag-tot-dag besig hou? Want, donner, dan’s daar iets fout met my. Die liedjie het dit laat klink asof die ou se hele aandjie uit vir niks was as dit nie eindig met all the way nie. Wat van hou van die meisie, praat met die meisie, die meisie se hart leer ken?

My 9 jarige peetkind vertel my ewe hy speel Virtual Families op die Ipad en sy familie het pas ‘n baba gehad. O sê ek, ek het destyds Sims  prober speel, maar my mense wou nooit eens in dieselfde bed slaap nie, so van babas was daar geen sprake nie. Don’t worry, verseker hy my. They need to have sex first. My friend at school says you should try a passionate kiss. That always works for sex.

Ek self gaan nie nee sê vir ‘n passionate kiss nie, maar vir my tel dit ‘n baie geringe persentasie as jy net aan my been vat, jy moet my brein eers kielie!

Of is dit ‘n manlike vs vroulike storie? Een of ander oerinstink waarvan ek niks weet nie? Ek het eenkeer ‘n manlike kollega gehad (hy was die aand heel besope, ek sal hom darem daardie kwytskelding gee) wat my mooi laat verstaan het dat dit alles goed en wel is om ‘n goeie en flytige prokureur te wees, maar ek moet darem nooit vergeet van my most precious gift nie. Ja? (vra ek ewe naief). Jy sit daarop, antwoord hy.

My pa het my altyd vertel ek sit op my ore, maar nou ja, dalk het ek verkeerd verstaan…