Sê dankie vir die tannie

Mevrou & Co maak ‘n t-hemp. Daarop staan Sê dankie vir die tannie. En alhoewel dit waarskynlik as sosiale kommentaar bedoel is, is daar baie nut agter die uitdrukking. Want ‘n kind leer maniere by sy/haar ouers of grootouers of oppassers of ander gesagsfigure wat ‘n rol in hulle lewe speel. En op ‘n dag is dit te laat en die deur klap toe en daar is nie maniere in die kind nie.

Dit neem lank om maniere aan te leer. Dit vat baie geduld. Dit vat gemanierde gedrag wat nageboots kan word. Oor en oor en oor. Elke dag. Dit beteken ook slegte gedrag word bespreek en reggemaak.

So as jou 5 jarige my aanspreek oor hoe ek nie goed genoeg of reg by die skool parkeer het nie, is dit nie snaaks nie, dis ongeskik, ongevraagd en onnodig. Jy giggel nie en sê what a madam nie, jy sê, jou klein klits, bepaal jouself by dinge waarvan jy weet en sê sommer jammer vir die tannie.

So as jou kind sy boetie kliphard vir geen rede reg voor jou oë skop, kyk jy nie verdwaas en sê, haai boetie, wat maak jy nou nie? Jy sê, mens skop/slaan/byt nie ander mense nie. Dit maak seer. Al is jy kwaad. Want as jy nie die gevolge van slegte gedrag verduidelik en hoe die gedrag ander mense beïnvloed nie gaan die kind dit nooit besef nie.

So as my kind met sy goeie hart ‘n granola bar nog in sy pakkie vir jou kind gee, stuur jy nie vir my ‘n WhatsApp wat eintlik meen my kind moet ophou deel nie, jy sê vir jou kind, is jou maatjie nie gaaf om te deel nie, maar mamma wil eerder nie hê jy moet ander mense se kos eet nie.

So as iemand die skoolhek vir jou oophou, merk jy op, dankie. Ek waardeer dit. Of dalk hou jy die hek vas, eerder as om soos ‘n blouligbrigade deur te storm.

Ek probeer elke dag my kinders maniere te leer. En gaafheid. En respek. En dat hulle een klein stukkie in ‘n baie groot wêreld is.

So toe ‘n klein snot op die speelterrein my 3 jarige uitjou omdat hy klein is, en hy kyk op en sê: Hallo. My name is Gyan. What’s your name? Toe weet ek, sê dankie vir die tannie se gevolge strek wyd.

Die wêreld is reeds vol rand-psigopate en narsiste. Moenie nog grootmaak nie.

Advertisements