Abnormaal

Ek het altyd gedink dat ons gesin normaal is. Okay. Normaal-erig. Normaal genoeg om nie boring te wees nie.

Ma wat koek bak vir die tuisnywerheid, pa wat met sy duur motor werk toe gaan. Elke tweede Sondag in die kerk, want ons het net van 1 van die dominees gehou. Slim familie. Lees baie. Praat wyd. Oor goed wat saakmaak. En onbenullighede. Met baie lag. Altyd lag.

Soos mens ouer raak en meer mense ontmoet en in wyer sirkels beweeg besef mens dinge was nie altyd soos wat mens gedink het nie. Dis ‘n ontnugtering en ‘n openbaring tegelyk. Om ‘n groot deel van jare wat al verby is in heroorweging te neem.

Want met my suster wat dood is en my ouers wat geskei is en my pa en broer wat nie met mekaar praat nie en my broer wat nie baie ooghare vir my man het nie, voel niks meer vir my reg nie en besef ek dat ons net so opgefok soos die families in die Huisgenoot is.

Glad nie normaal nie.

Of dalk is dit juis wat mens normaal maak, daai klein bietjie fuckedup wees?

(Elke mens het ‘n stukkie goud. En ‘n stukkie fout)