Oor skanse. En skedes

‘n Skede is die omhulsel waarin die lem van ‘n steekwapen gesteek word. ‘n Skans is ‘n tipe versterking, meestal militer. Skedes beskerm jou teen die wapens wat jy teen jou eie lyf dra. Iets soos dat jy jouself nie in die voet skiet nie.  Intern. Skanse beskerm teen dit wat van buite kom. Ekstern. Gevare waarvan jy dalk nie eens noodwendig bewus is nie, maar mens weet nooit nie, né?

Deesdae voel ek die daaglikse verslyting van my skanse en skedes amper as ‘n fisiese pyn. Asof ek “short”. My bedrading is lewendig. Soos daai Operation speletjie wat ons as kinders gespeel het en as mens aan verkeerde deel raak met die elektriese punt gaan so ‘n alarm af. Game over. Volgende ou se beurt.

Ek lewe in ‘n klein sirkel. Min vriende. Loop nie met my emosies rond nie. Low profile. Soms apaties. Insulêr. Behalwe met die wat vir my saakmaak en vir wie ek lief is. Maar die lewe klop al hoe meer aan my deur.

Die snotneus seuntjie wat sy vinger skaam-skaam deur my mandjie in Clicks se tou steek. Die padwerkers wat vir Arjun op die digger laai en sy dag maak. Die klerk by die poskantoor wat met sy heupe sukkel. Die twee kinders wat hier in ons omgewing selfdood gepleeg het. Die absolute armoede en wanhopigheid van hoeveel mense wat elke dag verby my stap.

Al die siele en emosies en energie van ander mense seil nie meer verby my nie. Dis soos stampkarretjies aan my.

En dit voel vir my ek kan nie begin omgee nie, want dan gaan ek nooit kan ophou nie. En ek het nie die nodige kapasiteit nie. Ook nie die nodige vaardighede nie. En, kom ek erken dit wat ek saggies dink nou maar hier, ek wil nie eintlik nie.

Rasioneel weet ek die volgende:

  • Ek het 18 maande laas behoorlik geslaap;
  • Ons bou ‘n nuwe huis, wat konstante stres veroorsaak;
  • Die nuwe huis beteken noodwendig dat ons gaan trek. Uit die huis en buurt waar ons al 10 jaar lank woon. Ek is opgewonde. En hartseer. En bang. En opgewonde;
  • My broer en suster het elkeen tans hulle eie “issues”, maar ek is noodwendig daarby betrokke

So my emosionele “short” is waarskynlik direk aan stres toe te skryf, maar wat ek nie goed kan uitpluis nie, is hoe ander mense wat deur baie erger goed gaan nogsteeds kapasiteit het om meer te gee? Sonder dat hulle operasies morsig raak. Sonder dat die groot alarm afgaan?

En dit laat my dink aan 2 digters. Een die real deal en die ander ‘n rockster, maar toe Wordsworth jare terug geskryf het :

The world is too much with us; late and soon,
Getting and spending, we lay waste our powers;—
Little we see in Nature that is ours;
We have given our hearts away, a sordid boon!

en toe Ed Kowalczyk gesing het:

I know that I should think about giving
And think about helping out
And think about, think about living
But I, I, I can’t seem to rescue myself

What about my bank account and my holy desert shield
That keep me dry under the arms?
Flags and mental jewelry’s all I know
And they keep me happy and warm inside

het beide eintlik seker net bedoel – doen minder, jaag minder, dink minder en voel meer. Want daarvoor behoort mens nie ‘n skede te dra nie.

Read more: Live – Mirror Song Lyrics | MetroLyrics