Oor klerekaste en koopverslawings

Die afgelope paar weke loop ek rond met die gedagte dat ek ‘n paar swart jeans/jeggings moet gaan koop, omdat dit is wat my winterklere kas kort. Elke oggend trippel ek rond, niks om te dra nie, niks om te dra nie, as ek net die swart broek gehad het…

Imagine my surprise toe ek Maandag oggend ‘n trui uit die boonste hoek van my kas pluk en iets anders tuimel daarmee saam af. Die swart broek wat ek moes koop omdat my kas net nie dieselfde daarsonder sou gewees het nie. Reeds in my kas. En toe onthou ek. Ek het dit in Maart/April gekoop.

Ek spot altyd oor my “habit”. Maar dalk is my gewoonte eerder ‘n verslawing. Te veel klere.

Ek hou van aantrek. Is nie ‘n fashionista nie, maar geniet klere, mode, eksperimenteer, aantrek, mooi lyk. Toe ek nog baie ambisie gehad het, het ek selfs ‘n mode-rige blog begin: Yum-Yum Style, Peanut Butter proof fashion. Omdat ek ‘n ma is. En my kinders, onder andere, hulle snot aan my klere afvee.

Ek dink ek maak myself wys dat my verslawing (Hallo, my naam is Jane en ek het ‘n klere verslawing) nie regtig saak maak nie, omdat ek nie vreeslik baie geld daarop uitgee nie. Ek dra tweedehandse klere, ruil met vriendinne, koop by fabriekswinkels en krap goed in dodgy winkels in dodgier dele van die stad uit. Maar – dit begin my lewe en kaste oorneem.

En toe *dramatiese musiek*, die nuwe buzzword. Capsule wardrobe. Daar’s baie weergawes, google maar self, maar dit behels dat mens jou klerekas per seisoen aanpak, ‘n sekere aantal items as riglyn kies en dan daarvolgens jou uitrustings beplan. En dis dit. Die hele seisoen dra jy jou kapsule. Jy koop niks by nie, want jy het mos nou mooi beplan. Die klere wat nie in die kapsule pas nie staan dan oor tot ‘n volgende seisoen of ‘n ander kapsule. Die klere wat nie in die kapsule is nie word weggepak. Sodat jou kas lig en oop en netjies is en jy makliker kan aantrek. Want klere en mode behoort nie stres te veroorsaak nie. Saam met dit probeer mens dan ook die volgende vrae vra:

  1. Pas dit my;
  2. Hou ek daarvan;
  3. Lyk ek goed daarin.

En so behoort jou klerekas kleiner te raak en meer van jou styl weer te gee. Behoort.

Ek het vir die laaste bietjie van die Herfs ‘n kapsule probeer. Nie naastenby genoeg beplanning gedoen nie en waarskynlik te “veilig” beplan. Baie navy. Baie. Ek was na 2 weke al verveeld. Maar ek het aangehou. Behalwe die kere wat ek gekroek het. Of omdat ek iets gekoop het, of omdat ek in ander dele van my kas rondgekrap het vir iets wat ek eerder wou dra. Maar vir die meeste van die tyd was ek gehoorsaam. En dit het dit regtig baie makliker gemaak om aan te trek. Want daar was beperkte keuses. Decision fatigue is a thing. Mens neem reeds soveel besluite elke dag, om nog elke oggend oor klere te hmm en hah is onnodig.

Wil ek dit weer vir winter doen? Waarskynlik. Wil ek die riglyne verbreek sodat ek nie skoene of jasse of serpe as deel van die toegelate hoeveelheid items hoef te tel nie? Beslis. Ek dink egter dat ek eerder 5 uitrustings moet uitwerk wat ek maklik kan aantrek. En dis daardie klere wat ek dan aantrek op die oggende wanneer ek net op niks kan besluit nie. Baie mense begin hierdie stelsel ook toe te pas – uniform dressing. Dit behels dat mens oor en oor weergawes van ‘n tema aan trek. Strepiestops of linnebroeke of altyd tekkies dra.

Maar, diep, in my hart van harte, weet ek dat ek nooit baie suksesvol gaan wees met capsule wardrobes of uniform dressing nie. Die rede is tweeledig. Ek hou te veel van aantrek, veral kreatief aantrek. En ek het ‘n koopverslawing.

Advertisements