As die waarheid sag is

By Kamers vol Geskenke wil ek ‘n baadjie aanpas. Is ek ‘n large of ‘n medium vra ek die verkoopsman. Sometimes one should face facts darling, antwoord hy. Large.

Ek wil eers vies word, maar waarheid is waarheid, né? Ek sien dit in fotos. In die spieël as ek in die oggend uit die stort klim, op die skaal se syfers (foktog!). Ek lyk sag. Nog nie heeltemal rond nie en nie op die oog af oorgewig nie, maar sag. Soos deeg wat al die eerste keer gerys het en afgeslaan moet word.

Ek het backfat (daai stukkie vet wat as jy nie oppas nie oor jou bra-bandjies peul), darem nog nie muffin top nie, maar seker oppad na bingo wings toe (daai flapperige armvet van ouer dames). Super skinny jeans wil nie die tog oor my bo-bene aanpak nie en my bikini wat ek nog lekker in 2009 Mosambiek toe gedra het is nou itsy bitsy teeny weeny. Dit pas nog. Maar daar’s te veel lyf vir die bikini.

Rubenesque.

Ek weet ek het 2 babas agter die blad en ek moes seker nooit swanger met die tweede een geraak het voordat ek nie al die gewig van die eerste een afgeskud het nie, en nou sit ek met ten minste 5, waarskynlik nader aan 7, kilogramme aan my lyf wat nie daar hoort nie. Ek onthou toe ek hierdie debat met myself gehad het toe ek 18 was en ‘n gawe Karooseun in my oor gefluister het “‘n mooi meisie soos jy mag maar fatsies hê”, dit laat my nou glimlag, maar dan besef ek dat 15 jaar verby is en ek nogsteeds ‘n stryd met die “fatsies” het, en dan laat dit my glad nie glimlag nie.

En toe sien ek nog die Dove advertensie waar vrouens moet kies deur watter deur hulle ‘n gebou moet binnegaan. Beautiful of average. En ek weet ek sou average kies.

Maar kom ons wees maar eerlik. Ek verjaar Vrydag. 34. So ek het waarskynlik ‘n vroeë mid-life crisis.

Die bikini
Die bikini