7 Jaar. En stoepe

WordPress vertel my die blog is 7 jaar oud. Ek is stom. Omdat ek dit nie geweet het nie, nie weet hoe ek hier gekom het nie en omdat ek myself (soos ek al hoeveel kere vantevore opgemerk het) nie regtig meer ‘n blogger kan noem nie.

My kop is besig en my lewe is besig en my hart is besig. Maar’s ek is gelukkig. En tevrede. Tog mis ek die blog. Want, soos almal weet, 7 jaar is genoeg tyd vir almal om al my skandes te ken, ek is lui.

So lui, dat ek baie bly was oor Scrapydo se Toeka-Tokkel onderwerp – Stoepstories. Want, hey presto, ek het 7 jaar terug, amper tot op die dag toe, ‘n bloginskrywing oor stoepe gemaak.

Stoep praatjies

Die son skyn nou al elke dag vir 3 dae lank (‘n Stockholm rekord!). Die lug is ‘n perfekte blou kleur. Oral lê nog bietjies bietjies sneeu. Die feit dat die sneeu nie smelt nie, selfs met die sonskyn moet vir julle ‘n aanduiding gee dat dit lekker koud is. Ek dink die temperatuur trek by -5 en dan praat ons nog nie eens van die aanvoelbare temperatuur nie. Ten spyte van die koue wil ek so graag my koppie koffie vat en dit buite gaan drink. Ons bly op die tweede vloer en het nie die luuksheid van ‘n balkon nie. Ek kan in die binnehof gaan sit, maar dis donker en nat en glad nie lekker nie. Dis ook nie dieselfde om in die (piepklein) parkie voor ons huis te gaan sit nie. Dis eintlik nie eens ‘n park nie – meer soos ‘n groepie bome met 4 of so bankies tussen in geplaas – seker maar vir die woonstelbewoners se gebruik, nie dat ek ooit sien iemand sit daar nie. Die regte groot park met paadjies en bome en speelgoed en monumente is omtrent ‘n blok weg wat sal beteken dat ek my koffie in ‘n warmfles moet gooi en dan daar gaan drink. Ek’s nie lus vir ‘n piekniek nie, ek wil net my koffie iewers buite drink.

Waarna ek vandag verlang is ‘n stoep.

Die huis waarin ek grootgeword het was om die swembad gebou, so oral was eintlik stukkies stoep, maar my plek was so in die hoek van die tuin op ‘n bankie waar ek mooi die doen en late van die huishouding kon dophou, sonder dat hulle altyd opgemerk het waar ek was. My eerste eie plek het so ‘n regte posseël grootte tuintjie gehad en mens moes met 2 trappies aftree van die sitkamer af om in die tuin te kom. Daai trappies het lekker son gekry, dit was my “stoep”. Ons huis het ‘n lekker stoep wat mooi oor die tuin uitkyk en heeltemal beskut is van die wind en weer. Ek het ‘n lekker leunstoel en dis waar ek sit en dink. Vakansietyd op Stilbaai saammet al die niggies en nefies het die stoep te lekker oor die rivier uitgekyk en ek onthou nog Ouma wat elke aand daarop aandring dat al die stoele ingebring moet word, vir ingeval dit reën. Toe ons later ons eie huis in die Oos-Kaap bou was die “deck” die hoogtepunt. My ma is ‘n knaphand met die “decorating” en daai deck lyk soos ‘n 5 ster hotel se sitkamer. Natuurlik waai die wind meeste van die tyd en jy moet jou tye aan die seekant van die huis goed kies, maar om daar te sit is regtig iets. My tannie se huis op ‘n sitrusplaas in Addo het ‘n regte plaas stoep gehad. En as die son so sak oor die boorde kon die wêreld maar vergaan. Dieselfde met ‘n ander tannie se plaasstoep in die Waterberge. Die huis is baie hoër as die res van die omgewing gebou en dis ‘n goeie 8 trappies van die tuin na die stoep, mens voel regtig soos King of the Hill.

Ek krul myself nou maar in my eie vensterbank op en verbeel my ek sit nie in die sitkamer nie. Die venster is op so ‘n skrefie oop, net om ‘n bietjie van die buitewêreld se klanke in te bring en ek droom van bosveld vlaktes en suburban bliss.

Advertisements

Oorvloed van briewe

Ek het al vantevore geskryf oor hoe baie ek van geskrewe briewe hou. Maar soms gebeur die lewe, né?

Ek het onlangs by die Postcrossing beweging aangesluit – mens stuur poskaarte aan mense wat aan jou onbekend is van regoor die wêreld en jy ontvang dan weer van ander mense poskaarte. Dit raak later ‘n tipe obsessie. Om die perfekte poskaart te kry om by die persoon te pas, die oopmaak van die posbus om te sien of iets gekom het, die vreemde dorpe en stede se name, lande wat mens nie noodwendig op ‘n kaart kan plaas nie. Ek is weer soos ‘n kind. Skryf in gekleurde penne, plak stickers, washi tape – alles om die poskaart te versier.

My nuutste eksperiment: A month of letters. Mens pos iets elke dag van Februarie, behalwe op Sondae en publieke vakansiedae. En as iemand aan jou skryf, skryf jy terug. Ek is baie opgewonde! As daar enige bloggers/lesers is wat as deel van hierdie uitdaging ‘n brief van my wil ontvang, los asseblief julle posadres in die kommentaar of stuur ‘n epos aan my met die adres. justjaneblog (at) gmail (dot) com

Belowe ek sal julle nie spam nie! Of glitter stuur nie!