My groot dag (6 jaar later!)

Omdat môre my huweliksherdenking is en omdat ek nie met die troue vreeslik baie fotos hier gewys het nie en omdat ek nog net so mal verlief (en meer) op my man is as die dag wat ons trou aan mekaar gesweer het en omdat ek dink ek het die heel mooiste troue ooit gehad en omdat alles uitgewerk het net soos wat ek dit wou hê en omdat ek, my familie en my vriende so baie goed self kon maak en uitdink en doen (ek’s ‘n gomgeweer operateur extraordinaire), wat volgens my die troue nog meer spesiaal gemaak het en laastens, omdat dit my blog is en dit beteken dat ek eintlik hier mag doen presies net wat ek wil, daarom – na 6 jaar – ‘n klomp trou fotos.

Decor.collage JP.AG.collage
bouquets.collage

jp.collage.2 jp.collage.3

Ons is in 2008 in die Oos-Kaap getroud by Intsomi Forest Lodge in die kuswoud gedeelte van die Addo Nasionale Park. Ons troue was die laaste een wat Intsomi aangebied het en dis jammer, want hulle het hulleself uitstekend van hulle taak gekwyt. Daar was net plek vir 60 mense en ons het sommer daar die seremonie gehad ook. Lekker gemaklik, almal wat op leunstoele en banke sit. Ons is eintlik die oggend reeds in my ouers se vakansiehuis se sitkamer getroud omdat die Dominee nie die wet wou oortree nie! Ek in my kamerjas en Liefie in sy pak. My hare is sommer so in die eetkamer gedoen, die haarkapper het uitgekom van Port Elizabeth af en my uitgebreide familie het ingeval (en natuurlik kommentaar gelewer!) tussendeur. Toe dit tyd word om my rok aan te trek, kom ons agter almal het gery! So my fotograaf en haar assistent het my gehelp. Talk about an ice breaker! Die troukar was ‘n ou Landrover, geverf in camo, met ‘n string tossels aan om darem soos ‘n bruidskar te lyk. So is ons toe deur die stof en oor die bulte tussen die melkplase en koeie deur na die lokaal toe.

Al die dames van Liefie se familie gedeelte van die gaste het hulle sari’s aangehad en dit het alles so mooi helder en kleurvol laat lyk. Baie van die gaste het van ver af gekom, ‘n hele klomp van Duitsland af! Ek het met die onthaal vir die eerste keer my troublomme gesien, aangesien ek die rose gekies het, klomp ou silwerbekers en bakke versamel het, sakke lint en passemetrie gekoop het en die lot by die bloemiste afgegee het en my “vision” verduidelik het. Uit alle tuine van vriende en familie het woestynrosies en ander vetplantjies te voorskyn gekom en die resultaat was pragtig. Vere, silwer, krale, rose, vetplante! Natuurlik het ek ‘n dag of 2 voor die troue ‘n oproep van die roosplaas gekry wat my laat huil het – hulle het van my rose aan ‘n ander bruid gegee – maar hulle sal ‘n plan maak met ‘n ander kleur! Mens kan maar net ja sê…

Ons het om 11 uur getrou, aangesien nie ek of Liefie ‘n danser of drinker is nie en het ‘n lekker lang uitgerekte middagete gehad. Ons het na die seremonie net ‘n paar fotos geneem en eers later die middag toe van die gaste al weg was die res gaan neem. Elke gas het ‘n roset gekry, die mans en vrouens s’n was verskillend, dit het ook as plekaanwyser gedien en meeste van die gaste het dit aangespeld ook. Toe weet almal sommer wie almal is. Ek en my ma het al die rosette gemaak, asook die versiering op die vrouens se geskenke (scented drawer liners). Die mans het ‘n pakkie karamel brownies gekry, al die pad uit die Karoo gebak en aangery deur ‘n gas. My tannie het die bruinpapiersakkies gemaak met papier wat sy self gemaak het.

Die tafeldoeke was ou bedspreie van my ma wat net mooi uitgewerk het! My grimering is deur my tannie-ma gedoen, want sy ken my en weet ek dra omtrent nooit grimering nie en ‘n aangeplakte gesig op my troudag sou my net gepla het. Ek het net ‘n blommemeisie gehad, my broer se dogtertjie. Daar was nie ‘n bruidstafel nie, ons het aan ‘n lang tafel saammet ons vriende gesit. Min toesprake. Die aand het almal weer by ‘n plaaslike restaurant bymekaar gekom. Luilekker.

En dit, dames en here, was my troudag.

(ek kon my rok nog na 2 ander formele geleenthede ook aantrek)

Verskaffers:

Blomme: Flower Thyme in Kenton-on-Sea (046 648 3999)

Fotos: Heather Stevens Photography in Port Elizabeth;

Rose: Murambi Roses in Oos Londen;

Rok: Catherine’s Collection in Pretoria. (Moenie off the rack koop nie bruide – Rina is fantasties en billik! Ek het werklik my droom rok gehad)

‘n Skyfie slaap

Ek dink nie ek het in my lewe al so min geslaap as vandat Gyan gebore is nie. Alle nuwe ouers slaap min, ek weet, maar ek is ‘n slaper. Ek is ‘n beter mens as ek slaap. Meer van ‘n aanwins vir die samelewing. Ek het groot geword in ‘n huis waar slaap heilig was. My ma glo as iemand slaap, is daar ‘n rede en die persoon moenie wakker gemaak word nie. Slapende honde wat moet bly lê was nie net ‘n spreekwoord in ons huis nie.

Arjun aard na my. Slaper.

Liefie, minder van ‘n slaper en erger nog as dit, ‘n naguil.

Gyan. Geen woorde om sy gedrag te beskryf nie, maar toe lees ek dat die algemeen aanvaarde idee van ‘n blok van 8 ure se aaneenlopende slaap betreklik jonk is. Blykbaar moet ons eintlik “segmented sleep” toepas. 2 blokke van ongeveer 4 ure elk, met ‘n uur of wat se wakker tyd tussenin. Navorsing wys dat die wakker tyd vir ‘n verskeidenheid goed gebruik is. Gebed, meditasie, lees, skryf, seks. Sommige mense het selfs by ander mense gaan kuier in die tyd. Mettertyd het die gebruik heeltemal weggeval en nou raak almal angstig as hulle nie hulle koppe neerlê en eers weer die volgende oggend optel nie.

So het ek nou maar moed opgegee met Gyan en het ons segmented sleepers geraak. Hy slaap lekker van so half agt tot so half 1 of 2 uur en dan kuier en speel hy baie gelukkig vir ‘n uur of twee en van 3 tot 7 slaap hy weer. As ek probeer om hom weer aan die slaap te kry met sy wakker word gee dit ‘n gegil af. Ek glo nie in sleep training nie en die outjie is regtig nie andersinds stout of skreeuerig nie. Die probleem is egter net dat ek nie heeltemal die eerste stuk van die slaap kry nie, want ek het ‘n lewe en ‘n man en stokperdjies en ‘n nuwe huis wat gebou word, en, en,en…  Die tyd saans as die kinders slaap is vir my goud werd. Behalwe dat ek eintlik ook moet slaap… Verder raak Arjun ook hier teen 6 uur of half 7 wakker, so ek mis weer op ‘n stukkie slaap uit. As ‘n natuurlike slaper wil my lyf se interne horlosie ook nie lekker inval by hierdie stuk-stuk geslaap nie, natuurlik ook omdat ek dit nie reg toepas nie!

Ek sê nou maar vir myself dat ek van alles wat vintage en retro is hou.

Ek neem dit nou maar net ‘n stap verder – retro slaap.

**Lees hier meer oor segmented sleep**