Happerig

Dit voel so vir my ek wil nie meer deel van die wye wêreld wees nie. Ek wil in ‘n kleiner sirkel beweeg, minder mense ken, minder goed doen om ander te behaag. Ek wil nie toeganklik wees nie.

Wie is jy om my te bel en as ek dan ewe beskaafd “nee dankie, ek stel nie belang nie” sê, my beet te pak met woorde en ‘n rowwe “maar hoekom nie?”

Hou op my spasie te betreë in die winkelsentrum en een of ander Dooie See modder skoonheidsmiddel aan my gesig te wil smeer. Ek het al in die Dooie See geswem en weet goed wat die modder vir jou vel doen, as ek dit wou gehad het sou ek dit aktief uitgesoek het.

En hoekom is daar elke dag ‘n plakkertjie oor gate motor repairs op my hek geplak en elke keer wat ek dit aftrek kom ‘n stukkie van my hek se verf saam af.

Ek wil nie volkleur besigheidskaartjies bestel nie.

My selfoonnommer het nie die lotto gewen nie.

Moenie my donnerse venster vol seep spuit by die verkeerslig nie.

NEE, ek wil nie ‘n verestoffer koop nie. Nes gister toe jy ook my klokkie gelui het en my baba wakker gemaak het en die dag voor dit ook.

Hoekom add jy my op Facebook? Toe ons destyds saam op skool was kon jy skaars van jou troon af klim om dalk ‘n woord met my te wissel, gewoonlik oor skoolwerk, omdat ek slimmer as jy was (is).

Hoe ouer ek raak hoe knorriger raak ek. Soos een van daai honde wat eintlik vriendelik is, maar hap as jy perongeluk aan sy ore of stert raak.