Mooi(nooi)

Ek kyk na Pinterest en lees blogs en kyk na tydskrifte en loer
deur winkelvensters en lees op Twitter en praat daagliks met my ma. Die goue
draad – alles gaan oor mooi goed. Want dis waarvan ek hou. Of dit nou klere of
skoene of retro sakdoeke of glase of pyrex mengbakke of klein koekvurkies is,
dit trek my aandag. Ek wil nie alles hê wat ek sien nie (ja, okay, goed, ek wil
omtrent alles hê), maar as daar ‘n paar dae verbygaan wat ek nie besig is met
mooi nie raak ek krapperig.

Snaaks dan dat my mooi skoene, oorbelle, vintage sy serpe,
handsakke, teekoppies, Brusselse kant sakdoekies, port glasies, koekiedrukkers,
potplantjies, canned fruit bottels, boeke, krale, lint – en so kan ek nog vir
hoeveel sinne aangaan – alles iewers lê. Agter in ‘n kas, bo-op ‘n rak, in ‘n
laai, in ‘n boks in die garage, onder die bed in ‘n plastiek krat.

Ek is ‘n versamelaar, maar iewers het ek ophou optree as kurator.
Ek wil graag die kinders blameer, maar Arjun word groot in ‘n huis met
breekbare goed. Hy raak aan niks wat “spesiaal” is nie en ek moes nog nooit met
hom raas oor iets wat gebreek is nie, so ek kan nie die verskoning gebruik dat
ek die huis moes childproof nie.

Dan wil ek sê ek het nie tyd nie, maar ek kry tyd vir Candy
Crush speel en Say yes to the dress kyk en trollie stoot in Checkers, so
weereens werk daai verskoning nie.

Ek dink dis bloot omdat ek lui is. ‘n Herhalende tema op hierdie
blog van my. Vir jare al. So asof dit vanself gaan verbeter net omdat ek dit
erken.

So hierdie is vir my ‘n projek. Eintlik het ek dit op ‘n
ander blog raakgelees – iets soos daily/weekly inspiration. Ek gaan wys wat vir
my mooi is, of waarmee ek myself besig gehou het, want mens vergeet om die mooi
in die lewe te ervaar selfs al word mens daarmee omring.

Want die lewe is te kort vir alledaags.