Brief vir die toekoms (3)

Liewe Arjun

Ek moenie eintlik nou hierdie brief tik nie, want jou nuwe boetie is skaars ‘n week oud en ek is nog ‘n gemors van hormone en melk en min slaap en ‘n keisersnit sny.

En dan’s daar jy. Die helderste ster van absolute geluk en pret en plesier. Die grapjas met ‘n tuitbekkie as jy nie jou sin kry nie, wat elke oggend wakey-wakey mamma in my oor “fluister”. Jy loop versigtig deur die huis en skree op topvolume, doodernstig, vir jou pa: “bababoetie is sleeping, we must tip-toe”.

Jy’s nuuskierig. Jy’s leergierig. Jy’s eintlik onhebbelik, maar as jy die dag te ver gaan is jy vinnig met ‘n “ek gee jou ‘n drukkie mamma”. Want jy weet jou drukkies en papbek soene maak alles reg. Ek verstaan al hoe meer die cliche dat daar ‘n stuk van jou hart buite jou lyf rondloop as jy eers kinders het. Want dit is so. Tussen jou en bababoetie en jou pa is my hart in 3 “gebreek”.

Jy pak die lewe met durf en moed aan. Onverskrokke. Braaf. Gewillig om enige iets nuuts te probeer. Deur die bank hou mense van jou. Jy charm hulle. Met jou donker ogies en glimlag. Ek’s so trots op jou. Al gebeur nuwe goed in jou lewe en word jou roetine omver gewerp, gaan jy net aan. Groot voor jou tyd. Seker van jou saak. Niks effens as dit by jou kom nie.

En elke dag wonder ek – is ek genoeg? Doen ek genoeg? Hoe verdien ek om jou ma te wees? Jou groot te maak om jou volle potensiaal te bereik? Ek’s so bang ek stel jou teleur. Veral nou met bababoetie. Ek weet hy’s klein en moet vir eers meer aandag kry en jy hanteer dit so mooi, is so bereidwillig om jou speelgoed en komberse te deel, wil so graag help en vra elke dag dat bababoetie jou handjie moet vashou, maar ek’s so bang ek kom jou te na. Gee te min van my vir jou. Want jy gee alles van jou vir my sonder om te aarsel.

Ek troos myself daaraan dat jy baie tough is. So weet net, ek probeer om beter as my beste te wees, maar soms sukkel ek.

Jou tranerige ma.

Advertisements