Hokaai, stop die lorrie

Ek kan aan baie goed gelyk dink en redelik baie goed gelyk doen, maar op ‘n manier kan ek nie heeltemal “betrokke” wees, die engelse woord is engaged, as daar te veel aangaan nie. Ek clutch uit. Kry alles gedoen, maar so asof dit iemand anders is wat die goed doen. Soos nou.

My praktyk begin bietjie stoom opbou en ek is bly vir die “regte” instruksies wat inkom, ek begin uiteindelik opgewonde raak oor die huisbouery na ons draai in die Appelhof in Bloemfontein en natuurlik kom die nuwe seuntjie oor ‘n maand – maar dis juis my dilemma. Te veel! (My ma se vriendin het altyd die storie vertel van ‘n Afrikaanse huishoudkunde juffrou wat op een van haar take in ‘n Engelse skool geskryf het “Too more information!”). Dis waar ek nou is. Too more information.

En al hierdie goed moet konkurrent gebeur. Met of sonder my wat uitclutch. Liefie se voorstel is dat ek ‘n dag in die week kies en dan oor een ding opgewonde raak.

Ek maak lysies vir ‘n vale en probeer my vlakhaaserigheid inperk, maar vang myself telkemale waar ek se, as abc net eers verby is dan kan ek…

Ek weet die lewe deel nie geluk en/of ongeluk in sulke netjiese pakkies uit wat jy dan kan kies om stelselmatig oop te maak nie. Ek verbeel myself ek was eens op ‘n tyd beter met hierdie tipe ding, maar dit voel al vir my asof my radiostasie nie lekker ingestel is nie. Daar’s te veel noise. Dalk dra die swangerskapshormone by tot hierdie gevoel, maar ek dink nie dinge gaan makliker raak na 20 Februarie nie! (Terloops, die kind het nog nie ‘n naam nie. Erg.)

Intussen kies ek maar more om opgewonde te raak oor ‘n netjiese studeerkamer.