Tweede kans

Toe ek en Liefie Sondagoggend in die straat afstap met hy wat ‘n kruiwa vol plantjies stoot en Arjun wat doodluiters bo-op sit en vir verbygangers waai, toe besef ek dat ons gesin (en uitgebreide familie, eintlik) dalk nie heeltemal normaal is nie.

 

Ons was oppad park toe om na die hasies wat oornag daar (ek wil uitgebroei tik, maar dis nie reg nie!) verskyn het, te gaan kyk, toe ek sien hoe ‘n tuinjong hope grondbedekkers uitspit. Gooi jy dit weg vra ek? Yes, madam, sug hy. Kan ek dit kry? Yes madam, sug hy weer. Ek gaan net na die hasies kyk en dan kom haal ek dit, los dit sommer hier op die sypaadjie. Dit was te naby om daarheen te ry, toe stap ons maar met die kruiwa en gaan haal ons geaasde plante.

Bargains is in my bloed. Ek weet winskoop is die Afrikaanse woord, maar dit impliseer dat geld hande moet verwissel. My pa het nooit van die golfbaan afgekom sonder ‘n saadjie of ‘n steggie in sy sak nie. Ek voel glad nie in die gesig gevat as iemand iets tweedehands waarvoor hulle nie meer nut het, vir my aanbied nie. Ek doen dit self met mense wat ek goed genoeg ken en as ek dit ooit met jou doen, besef dat uitruil en deel en gee vir my tweede natuur is. Why buy new when used will do?

Ek is mal oor liefdadigheidswinkels en ‘n groot klomp van my beste klere kom daarvandaan. Ek onthou daai spesifieke tipe dut wat mens kan vang met ‘n afslaer se dreunstem in die agtergrond. Daar’s omtrent nie ‘n agterstraatjie wat ek nie ken nie en as iets ‘n rooi “must go” plakker ophet, word ek soos ‘n magneet daarnatoe aangetrek.

Ek en my suster koop groente en vrugte in grootmaat en deel dit dan op. As iets in seisoen is eet ons dit baie en ek maak deesdae selfs in. My kwepers was baie lekker! Ek kan ‘n morsery en oordaad nie uitstaan nie. Ek vat my eie sakke as ek inkopies gaan doen, ek gebruik Checkers se kouponstelsel en drink nie ‘n koffie by W Cafe sonder om my lojaliteitsstempel te kry nie.

My ouma was net so. My tannies en my ma is steeds so. My pa ook. Liefie gooi nie ‘n draadjie of skroefie weg nie en toe my suster hulle se tv nou die dag breek haal Liefie die ding uitmekaar vir parte. Ek herwin.

Ek is nie ‘n greenie nie en ek is glad nie suinig nie, maar dit voel vir my of ons deesdae so oorweldig word deur verpakking en heeltemal ingesluk is in die verbruikerskultuur. Dis so onnodig.

(As ‘n naskrif – ek pak gister my kas reg en maak gereed vir die winter. Ek verbeel myself ek is nie ‘n verbruiker nie, maar ek het 46 serpe…)

 

Advertisements

6 thoughts on “Tweede kans

  1. Son April 23, 2013 / 2:39 nm

    Ons het grootgeword met daai deel van alles onder mekaar. Ek en my ma en my suster het gereeld ons klerekaste uitgeruil. Soms het ek iets baie moois gesien wat een van hulle twee aan het en wou dan weet waar kry hulle dit – baie keer was die antwoord; “by jou, man!” Dan onthou ek nie eers meer dit was myne nie. So, ek gee ook glad nie om vir tweedehandse goed nie. Megan het dieselfde vernuftigheid as jy. Sy snuffel die coolste meubels daar in die Karoo uit in sulke stofvergaarde winkeltjies. Dan bbm sy my die foto’s. Ek het ook al ‘n bakkie vrag vol meubels wat sy daar vir my stoor, wat ek so via bbm gekoop het – eendag is eendag dan gaan ek dit haal 😉

  2. demoerin April 25, 2013 / 9:35 vm

    Niks fout daarmee om spaarsamig te wees nie. Ditgaan nie oor suinig nie. Ek verpes ook mors.

  3. Tersia April 26, 2013 / 8:27 vm

    Ons het groot geword om te spaar! Wens ekt iemand gehad om my klere mee te ruil, ek pas dit sò op, dit makeer niks, maar eks nou moeg daarvoor!

  4. lekkerjeuk April 27, 2013 / 7:34 nm

    Ek dink ook die aarde sal ‘n beter plek wees as ons bv ons bure kan leer ken en goed uitruil en deel. In die ou dae het ons ouers mos skotteltjies goed aan die bure gestuur, wat dit altyd gevul het wanneer hulle dit terugstuur.

  5. Twilight Mei 15, 2013 / 1:49 nm

    10 uit 1o vir julle! Ek stem vir ruil en hergebruik en bargains en al daai lekker dinge!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s