Tweede kans

Toe ek en Liefie Sondagoggend in die straat afstap met hy wat ‘n kruiwa vol plantjies stoot en Arjun wat doodluiters bo-op sit en vir verbygangers waai, toe besef ek dat ons gesin (en uitgebreide familie, eintlik) dalk nie heeltemal normaal is nie.

 

Ons was oppad park toe om na die hasies wat oornag daar (ek wil uitgebroei tik, maar dis nie reg nie!) verskyn het, te gaan kyk, toe ek sien hoe ‘n tuinjong hope grondbedekkers uitspit. Gooi jy dit weg vra ek? Yes, madam, sug hy. Kan ek dit kry? Yes madam, sug hy weer. Ek gaan net na die hasies kyk en dan kom haal ek dit, los dit sommer hier op die sypaadjie. Dit was te naby om daarheen te ry, toe stap ons maar met die kruiwa en gaan haal ons geaasde plante.

Bargains is in my bloed. Ek weet winskoop is die Afrikaanse woord, maar dit impliseer dat geld hande moet verwissel. My pa het nooit van die golfbaan afgekom sonder ‘n saadjie of ‘n steggie in sy sak nie. Ek voel glad nie in die gesig gevat as iemand iets tweedehands waarvoor hulle nie meer nut het, vir my aanbied nie. Ek doen dit self met mense wat ek goed genoeg ken en as ek dit ooit met jou doen, besef dat uitruil en deel en gee vir my tweede natuur is. Why buy new when used will do?

Ek is mal oor liefdadigheidswinkels en ‘n groot klomp van my beste klere kom daarvandaan. Ek onthou daai spesifieke tipe dut wat mens kan vang met ‘n afslaer se dreunstem in die agtergrond. Daar’s omtrent nie ‘n agterstraatjie wat ek nie ken nie en as iets ‘n rooi “must go” plakker ophet, word ek soos ‘n magneet daarnatoe aangetrek.

Ek en my suster koop groente en vrugte in grootmaat en deel dit dan op. As iets in seisoen is eet ons dit baie en ek maak deesdae selfs in. My kwepers was baie lekker! Ek kan ‘n morsery en oordaad nie uitstaan nie. Ek vat my eie sakke as ek inkopies gaan doen, ek gebruik Checkers se kouponstelsel en drink nie ‘n koffie by W Cafe sonder om my lojaliteitsstempel te kry nie.

My ouma was net so. My tannies en my ma is steeds so. My pa ook. Liefie gooi nie ‘n draadjie of skroefie weg nie en toe my suster hulle se tv nou die dag breek haal Liefie die ding uitmekaar vir parte. Ek herwin.

Ek is nie ‘n greenie nie en ek is glad nie suinig nie, maar dit voel vir my of ons deesdae so oorweldig word deur verpakking en heeltemal ingesluk is in die verbruikerskultuur. Dis so onnodig.

(As ‘n naskrif – ek pak gister my kas reg en maak gereed vir die winter. Ek verbeel myself ek is nie ‘n verbruiker nie, maar ek het 46 serpe…)

 

Advertisements