Vlakhaas

My ma is lief daarvoor om te se sy hardloop soos ‘n vlakhaas rond. Ek weet nie of vlakhase met minder doelgerigtheid as ander hase rondhardloop nie, maar in ons huis is ‘n vlakhaas eintlik iets eenvoudig. Verward. Oorweldig. So besig dat niks eintlik gedoen word nie. Moet seker eintlik ‘n vlak haas wees.

Volgens die HAT hou ‘n vlakhaas van vlaktes. Seker dat hy ver kan hardloop voordat iets hom inhaal of van koers af bring. Ek is tans ‘n vlakhaas. Sonder ‘n vlakte. In ‘n hamsterhok, eerder.

En dis my eie skuld.

Ek het so baie vryheid (myle en myle se vlaktes) dat ek myself moeg hardloop. En niks gedoen kry nie. Te veel dink. Dat mens net stofwolke sien trek. En eweskielik is ek moeg van vlakhaas wees. (Ledigheid is die duiwel se oorkussing…)

Dis omdat jy te donners slim is, se my ma. Wat help dit om oor alles te dink? Doen vir ‘n slag net iets.

Ek moet meer na my ma luister…

Hierdie vlakhaas gaan nou bietjie van koers verander. Arjun is baie gelukkig by sy kleuterskool, die huis is redelik onder beheer en my brein kort weer bietjie inspanning. Gefokusde inspanning. Niks vlakhaas getobbery nie.

Netjane gaan weer ‘n prokureur word. My eie praktyk met my eie naam. En ek weet dis ‘n groot stap en ek weet daar is risiko’s daaraan verbonde, maar ek gaan (vir een keer in my lewe) iets waaghalsigs doen.

Hou duim vas! (en as ek dalk niks geld maak nie en honger ly, hou maar blog kollekte vir my, asseblief…)

Advertisements