Brief vir die toekoms (2)

Liewe Arjun

Ek lees vanoggend in ‘n tydskrif artikel met Nigella Lawson (die tv-chef) die volgende oor ouerskap raak: dat dit bestaan uit lang dae en kort jare. Ek verstaan dit. Jy word amper 2. Ek druk nog elke dag jou warm lyfie vas en onthou jou klein voetjies in die hospital, vol naald gaatjies gedruk om jou suiker keer-op-keer te toets. En nou staan jy voor die veiligheidshekkie buite die spens en dring aan op koekies. En nie sommer enige goedkoop koekies nie, jy trek jou neus op vir Marie beskuitjies.

Nigella is nogal ‘n seksbom. Kry vir jou ‘n sexy vrou. Wat hou van jou en haarself en julle twee saam. Wat kan lag. Oor alles. Maar nie te veel nie, die lewe is nie altyd ‘n grap nie. Jou Groenewald familie is ‘n klomp narre. Veral as ek, jou tannie Grethe en jou oom Christoph bymekaar kom. Die lewe is maar ‘n saai plek sonder humor en mens vang buitendien meer vliee met suiker as asyn.

Ek kan nou al sien dat jy hou van ‘n grappie en ‘n poets. Jy’s mal oor hoog swaai en woes spring en jou belaglike danspassies op die sitkamermat laat my vreeslik lag. Jou pa is baie trots daarop dat jy ‘n lekker head-bang gooi as daar ‘n rock liedjie speel. Ek wonder net waar jy dit geleer het?

Jy’t ‘n spul woorde in ‘n mengelmoes van Afrikaans en Engels (en ek hoor selfs nou die dag robala – wat slaap in Sotho beteken). Die belangrikste woorde vir jou is oop, uit, buite en tata. Jy kerm om iewers heen te gaan vandat jy in die oggende jou oe oopmaak en is vreeslik vriendelik met alles en almal. As ek jou sou toelaat, sal jy heeldag by die hek staan en praatjies maak met die mense wat verbystap. Dis ‘n goeie eienskap. Wees altyd vriendelik en hoflik en behandel mense met respek.

Ek en jou pa krap ons koppe oor hierdie vreeslike sosiale kind wat ons het. Jou ma is amper anti-sosiaal en jou pa speel ‘n goeie game. Mense dink hy is vreeslik sosiaal, maar eintlik wil hy net alleen gelaat word met sy projekkies. Kyk mooi wat hy doen. Jou pa kan enige iets doen. Leer by hom. Hy’t by sy pa geleer.

Soos wat my ouers ouer word begin ek al hoe meer met die gedagte rondloop dat mens nie besef wat jy alles by jou ouers kan en moet leer voordat dit te laat is nie. Hou aan met lief wees vir ons, ons gaan jou later begin irriteer. Stadig loop en praat. Goed vergeet. Oor en oor dieselfde stories vertel. Doof raak en dit nie wil erken nie. Wees geduldig. (Geduld – daardie een eienskap wat beide jou pa en jou ma glad nie het nie!)

Ek het meeste van ons familie se besonderhede op die stamboom program Geni opgeteken. Jy kom uit ‘n sterk en goeie familie. Jou ouma Christa se jy het ‘n goeie pedigree. Ek sien die honderde name wat voor my gekom het, maar na my staan net jou naam. Descendant. Daardie gedagte laat my hart fladder. Dis ‘n groot verantwoordelikheid vir my.

Moenie te swaar dra aan die verlede nie. Wees jou eie mens. Maar moenie vergeet waarvandaan jy gekom het nie. Jy’s baie spesiaal. Jy’s ‘n nuwe Afrikaan. Al jou oer oupas en oumas is trots op jou.

Dit weet ek verseker.

Jou ma

Image

 

Advertisements

3 thoughts on “Brief vir die toekoms (2)

  1. Son Januarie 15, 2013 / 7:26 nm

    Ek hoop jy gee regtig vir hom hierdie briewe sodra hy kan lees en verstaan. Dis kosbaar. Wens ek het vir my kinders sulke briewe geskryf en nie net meegesleur geraak in elke dag se kind grootmaak nie.

  2. ButterNut Januarie 15, 2013 / 8:15 nm

    Jou briewe aan Arjun is baie cool.

    PS: dis die cuteste kiddie hierdie!

  3. demoerin Januarie 22, 2013 / 9:55 vm

    Jinne…so dit beteken Lisa staan ook amper oppad 2 toe…scary!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s