Brief vir die toekoms (2)

Liewe Arjun

Ek lees vanoggend in ‘n tydskrif artikel met Nigella Lawson (die tv-chef) die volgende oor ouerskap raak: dat dit bestaan uit lang dae en kort jare. Ek verstaan dit. Jy word amper 2. Ek druk nog elke dag jou warm lyfie vas en onthou jou klein voetjies in die hospital, vol naald gaatjies gedruk om jou suiker keer-op-keer te toets. En nou staan jy voor die veiligheidshekkie buite die spens en dring aan op koekies. En nie sommer enige goedkoop koekies nie, jy trek jou neus op vir Marie beskuitjies.

Nigella is nogal ‘n seksbom. Kry vir jou ‘n sexy vrou. Wat hou van jou en haarself en julle twee saam. Wat kan lag. Oor alles. Maar nie te veel nie, die lewe is nie altyd ‘n grap nie. Jou Groenewald familie is ‘n klomp narre. Veral as ek, jou tannie Grethe en jou oom Christoph bymekaar kom. Die lewe is maar ‘n saai plek sonder humor en mens vang buitendien meer vliee met suiker as asyn.

Ek kan nou al sien dat jy hou van ‘n grappie en ‘n poets. Jy’s mal oor hoog swaai en woes spring en jou belaglike danspassies op die sitkamermat laat my vreeslik lag. Jou pa is baie trots daarop dat jy ‘n lekker head-bang gooi as daar ‘n rock liedjie speel. Ek wonder net waar jy dit geleer het?

Jy’t ‘n spul woorde in ‘n mengelmoes van Afrikaans en Engels (en ek hoor selfs nou die dag robala – wat slaap in Sotho beteken). Die belangrikste woorde vir jou is oop, uit, buite en tata. Jy kerm om iewers heen te gaan vandat jy in die oggende jou oe oopmaak en is vreeslik vriendelik met alles en almal. As ek jou sou toelaat, sal jy heeldag by die hek staan en praatjies maak met die mense wat verbystap. Dis ‘n goeie eienskap. Wees altyd vriendelik en hoflik en behandel mense met respek.

Ek en jou pa krap ons koppe oor hierdie vreeslike sosiale kind wat ons het. Jou ma is amper anti-sosiaal en jou pa speel ‘n goeie game. Mense dink hy is vreeslik sosiaal, maar eintlik wil hy net alleen gelaat word met sy projekkies. Kyk mooi wat hy doen. Jou pa kan enige iets doen. Leer by hom. Hy’t by sy pa geleer.

Soos wat my ouers ouer word begin ek al hoe meer met die gedagte rondloop dat mens nie besef wat jy alles by jou ouers kan en moet leer voordat dit te laat is nie. Hou aan met lief wees vir ons, ons gaan jou later begin irriteer. Stadig loop en praat. Goed vergeet. Oor en oor dieselfde stories vertel. Doof raak en dit nie wil erken nie. Wees geduldig. (Geduld – daardie een eienskap wat beide jou pa en jou ma glad nie het nie!)

Ek het meeste van ons familie se besonderhede op die stamboom program Geni opgeteken. Jy kom uit ‘n sterk en goeie familie. Jou ouma Christa se jy het ‘n goeie pedigree. Ek sien die honderde name wat voor my gekom het, maar na my staan net jou naam. Descendant. Daardie gedagte laat my hart fladder. Dis ‘n groot verantwoordelikheid vir my.

Moenie te swaar dra aan die verlede nie. Wees jou eie mens. Maar moenie vergeet waarvandaan jy gekom het nie. Jy’s baie spesiaal. Jy’s ‘n nuwe Afrikaan. Al jou oer oupas en oumas is trots op jou.

Dit weet ek verseker.

Jou ma

Image

 

Speel-speel

Arjun is die afgelope paar dae sy pa se kind. Ek sien hom as sy pa se kind, want daar is geen manier hoe ek gaan erken dat iets van my so bedonnerd en skuins beneuk kan wees nie. (Die woord is eintlik befok, maar mens moet seker nie sulke woorde gebruik om kindertjies te beskryf nie). Hierdie buie van die mannetjie het toe die laaste twee aande die Netjane-gesin na 7 saans uit die huis gedryf. Ons het in die buurt gaan stap met die stootwaentjie en Arjun wat heel tevrede blaf geluide maak. Suburbia personified.

Arjun het egter ‘n glyplank, swaai en klimraam verslawing en as ons wandeling ons naby ‘n speelpark gebring het, het hy bloumoord gegil totdat ons gestop het. Elke wolk het ‘n goue randjie en die stappies het die volgende observasies tot gevolg:

1. Swaai is fantasties! Om hoog te swaai, met die wind in jou hare, vry soos ‘n kind, moet vir alle volwassenes aanbeveel word. Dis iets wat ek in jare nie gedoen het nie en dit sal in 2013 my meditasie wees.

2. Ek bly al vir oor die 25 jaar in dieselfde area, maar ek kan net op ‘n goeie dag my bure se name onthou en sal hulle waarskynlik nie in die Spar herken nie. Vanmiddag staan daar ‘n pa en sy dogtertjie ‘n sokkerbal en skop en Arjun wil natuurlik saamspeel. Die pa is te vriendelik, ons praat oor die boek wat hy probeer lees (The Alchemist) terwyl die dogtertjie en Arjun op die hobbelperd ry en ek kom agter die kind gaan volgende week na dieselfde skool as my peetkinders toe. Hulle bly om die draai van ons. Ek weet nou nog nie wat die man se naam is nie.

3. Toerusting in parke is in ‘n verskriklike toestand. Rondomtalies werk glad nie, die bande waarop wipplanke moet wip is gebreek, die swaaie se kettings is geknoop en die houtsitplekke lyk maar lendelam. Ons bly in ‘n “gegoede” area, mens sien redelik gereeld mense wat die parke gebruik, maar iewers het Joburg City Parks vergeet van die speelgoed. Ek is een wat nogal hou van ‘n crusade, maar waar begin mens kla? By die DA wyksverteenwoordiger? In ‘n land waar mense sonder kos gaan slaap, nie lopende water het nie en elke dag net oorleef is speelgoed seker ‘n luukse, maar ek voel deesdae so asof daar nie meer moeite gedoen word om ‘n sekere standaard te handhaaf nie en almal eerder afgetrek word. (Ek het in die huis oorkant die park grootgeword. Dis dalk daarom wat ek die verval so aan my lyf voel.)

Die stelselmatige verval van ons parke laat my dink aan die Broken Windows theory. Volgens Wikipedia:

“The broken windows theory is a criminological theory of the norm-setting and signaling effect of urban disorder and vandalism on additional crime and anti-social behavior. The theory states that maintaining and monitoring urban environments in a well-ordered condition may stop further vandalism and escalation into more serious crime”

Miskien hou die gebreekte parke verband met die feit dat ek nie my buurt se mense ken nie?

Eendrag maak mag – ek sou ‘n crusade kon begin het.