(Nie) in die gees van Kersfees (nie)

My kersboom is op en ‘n groot nuwe blink ster skitter bo-aan. Ek het tinsel by Checkers gekoop en dit vang elke stukkie lig vir ekstra glinster. Die liggies skyn. (As Arjun nou die dag besluit hulle mag). Maar ou Jane. Jane is niks lus vir Kersfees nie.

Dit voel nie vir my na die einde van die jaar nie. Ek voel nie rustig nie. Sien nie uit na stilte en vakansie en vrolike samesyn nie. Dalk is dit die hoeveelheid kere wat ek nou al van baie verskillende mense gehoor het dat 2012 vir hulle ‘n vreeslike jaar was en dat hulle net wil aanbeweeg dat ek hulle nou al begin glo, maar iets skort.

Ek kry gewoonlik so teen November se kant ‘n skielike gevoel dat dit nou somer is. ‘n Liedjie op die radio gewoonlik. Daai ene ook vanjaar nog nie gehoor nie.

My reel is verder dat dit eers Kersseisoen is as “Last Christmas” van George Michael in een of ander winkel speel – dit het gebeur, wonderbaarlik net die ander dag, as mens in ag neem dat dit deesdae al in Februarie Kersfees begin raak. Maar selfs dit het nie gehelp nie.

Ek was gister in die winkels met my broer se kind van die platteland af. Dit het my koud gelaat. Die verorbering van goed en kos en geld. Wat wil die mense regkoop? Wie het die geld om so vreeslik te koop? Kyk, ek is GLAD NIE een wat terugdeins van koop af nie, maar as jy nie vir my super belangrik is nie, koop ek nie vir jou iets nie. Ek doen nie meer “o, so en so moet ook seker iets kry” geskenke nie. En as ek vir jou iets koop, dan moet jy darem weet ek het gedink voor ek gekoop het. As ek nie iets kry waarvan jy werklik sal hou nie, dan kry jy ook eerder niks nie.

Dit voel so vir my ek wil die mense skud. Wakker word ou. Daar’s belangriker goed. Leer jou kind eerder maniere. Of soen jou vrou meer. Of so iets.

Jane die Kersfees Crusader.

(Stuur maar bietjie ho-ho-ho hierdie kant toe)