‘n Ma se droom

Ek het ‘n droom. Dis ‘n dagdroom, want ek slaap nie meer (juis) snags nie.

In die droom stap ek by ‘n luukse Europese hotel in. Ek het ‘n vloeiende rok en skoene met hemelhoë hakke aan. Die rok is van ‘n materiaal wat nie vetkol bestand is nie en slegs gedroogskoonmaak kan word. Die skoene is net gemaklik vir 10 treë op ‘n slag, maar wie gee om, hulle lyk fantasties.

My naels is gedoen. Koraal. Om by die rok te pas. My hare ook. (Gedoen, nie koraal nie) Ek dra ‘n palmtassie, ‘n groot handsak is nie nodig nie, want ek het net myself om aan te dink. Agter my stoot die portier ‘n Louis Vuitton trommel. In die trommel is al die klere waarna ek verlang.

Ek vra vir ‘n suite. Stoot my kredietkaart oor die toonbank. Glimlag, met rooi lippe. Net 1 nag, asseblief.

Bo gekom betrag ek die uitsig. Trek my skoene uit. Loop met my koraaltone in die diep mat weggedruk. Maak ‘n koffie met die Nespresso masjien. Stoot die venster oop om die stad te ruik en ‘n bietjie van die geluide deur die dubbel geglasuurde vensters te laat insluip. Dan maak ek die venster toe. Vir daardie digte stilte. Soos ‘n kokon.

Ek trek my klere uit. Loop skaamteloos rond. Geen haas in die wêreld nie. Ek hou modeparade van al die klere in die trommel. Net om te weet ek pas nog in hulle en dat hulle weet ek is nog lief vir hulle.

‘n Lang warm bad. Totdat ek so koraal as die verf op my naels is. Die sagte japon van die hotel is snoesig. Ek lê op die bed met sy blinkwit lakens en kyk Pretty Woman. Dan Dirty Dancing. Dan Love Actually.

Intussen eet ek ‘n groot hamburger. Sonder om met iemand te deel. Niemand spoeg halfgekoude vleis in my hand uit nie. Ek drink coke. Sonder om te verduidelik dat coke net vir mammas is.

En dan slaap ek.

In doodse stilte. Ek lê die hele bed vol. My arms en bene soos ‘n seester uitgesprei. Alles is net myne. Die duvet en die kussings.

Ek word wakker met die son wat deur ‘n gaping in die gordyn filter.

Ek bad weer. Lê met my kop halfpad onderwater sonder om met 1 oor te luister na wat aangaan. Hoor niks behalwe my eie asemhaling nie.

Dan eet ek ‘n groot ontbyt. En drink tee en koffie. Stomende koppies vol. Ek bekommer nie dat klein handjies kan brand nie.

En dan gaan ek huistoe. Na my gesin toe. Want ek het vreeslik verlang.

Advertisements

6 thoughts on “‘n Ma se droom

  1. boerinballingskap November 12, 2012 / 10:26 vm

    Jou beskrywing na hierdie hunkering is baie goed gedoen. Ek kon dit so voor my geestesoog sien afspeel.

  2. jagternw1976 November 13, 2012 / 8:59 vm

    Sjoe, klink asemrowend lekker. Alhoewel ek nou nie in rokke sal poseer nie, kan ek doen met die luukse stilte en net bietjie “ek” tyd. Wonder hoeveel ander mammas voel soos jy ? Dalk 100% van hulle.

  3. Tersia November 15, 2012 / 6:52 vm

    Ag, dis lekker om na jare weer hier te kom lees-kuier!

  4. Son November 15, 2012 / 2:44 nm

    Alle ma’s voel een of ander tyd so. En die dag toe ek die eerste keer in 6 jaar weer stoksielalleen is, vir ‘n hele naweek lank (kinders het vir ouma gaan kuier) het ek nie mooi geweet wat om met myself te maak nie 🙂

  5. Natasha November 19, 2012 / 2:35 nm

    O ja!!!!!!!!
    Ek verstaan HEELTEMAL en droom saam!

  6. Twilight November 30, 2012 / 8:47 nm

    Nee kyk, ek identifiseer myself heelhartig hiermee! 🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s