‘n Ma se droom

Ek het ‘n droom. Dis ‘n dagdroom, want ek slaap nie meer (juis) snags nie.

In die droom stap ek by ‘n luukse Europese hotel in. Ek het ‘n vloeiende rok en skoene met hemelhoë hakke aan. Die rok is van ‘n materiaal wat nie vetkol bestand is nie en slegs gedroogskoonmaak kan word. Die skoene is net gemaklik vir 10 treë op ‘n slag, maar wie gee om, hulle lyk fantasties.

My naels is gedoen. Koraal. Om by die rok te pas. My hare ook. (Gedoen, nie koraal nie) Ek dra ‘n palmtassie, ‘n groot handsak is nie nodig nie, want ek het net myself om aan te dink. Agter my stoot die portier ‘n Louis Vuitton trommel. In die trommel is al die klere waarna ek verlang.

Ek vra vir ‘n suite. Stoot my kredietkaart oor die toonbank. Glimlag, met rooi lippe. Net 1 nag, asseblief.

Bo gekom betrag ek die uitsig. Trek my skoene uit. Loop met my koraaltone in die diep mat weggedruk. Maak ‘n koffie met die Nespresso masjien. Stoot die venster oop om die stad te ruik en ‘n bietjie van die geluide deur die dubbel geglasuurde vensters te laat insluip. Dan maak ek die venster toe. Vir daardie digte stilte. Soos ‘n kokon.

Ek trek my klere uit. Loop skaamteloos rond. Geen haas in die wêreld nie. Ek hou modeparade van al die klere in die trommel. Net om te weet ek pas nog in hulle en dat hulle weet ek is nog lief vir hulle.

‘n Lang warm bad. Totdat ek so koraal as die verf op my naels is. Die sagte japon van die hotel is snoesig. Ek lê op die bed met sy blinkwit lakens en kyk Pretty Woman. Dan Dirty Dancing. Dan Love Actually.

Intussen eet ek ‘n groot hamburger. Sonder om met iemand te deel. Niemand spoeg halfgekoude vleis in my hand uit nie. Ek drink coke. Sonder om te verduidelik dat coke net vir mammas is.

En dan slaap ek.

In doodse stilte. Ek lê die hele bed vol. My arms en bene soos ‘n seester uitgesprei. Alles is net myne. Die duvet en die kussings.

Ek word wakker met die son wat deur ‘n gaping in die gordyn filter.

Ek bad weer. Lê met my kop halfpad onderwater sonder om met 1 oor te luister na wat aangaan. Hoor niks behalwe my eie asemhaling nie.

Dan eet ek ‘n groot ontbyt. En drink tee en koffie. Stomende koppies vol. Ek bekommer nie dat klein handjies kan brand nie.

En dan gaan ek huistoe. Na my gesin toe. Want ek het vreeslik verlang.

Onvanpas

Ek weet eintlik niks.

‘n Duisend keer se wen in Trivial Pursuit beteken niks langs ‘n braaivleisvuur nie. 2 Grade help ‘n bietjie oor ‘n koppie koffie, maar kort voor lank wil meeste mense oor koeitjies en kalfies gesels. Dan moet mens onthou dat hulle seuntjie laasmaand waterpokkies gehad het en dat die ouma opsoek is na blyplek in die ouetehuis.

Ek sukkel met mense. My lewe lank al. En ek weet nie hoekom nie. Groepe onbekendes maak my angstig, teen die tyd dat ek ‘n byeenkoms bywoon het ek al ‘n verskeidenheid scenarios in my kop uitgespeel, die een vreemder as die ander. En ten spyte van my beste voornemens, stap ek altyd weg en voel so bietjie soos ‘n poephol. Die een wat te min gepraat het. Die een wat te veel gepraat het, die een wie se humor vir niemand anders snaaks was nie, die een wat verveeld was.

Ek het geen tekort aan selfvertroue nie, het ‘n opinie oor omtrent als en is nie ‘n muurblom nie, maar iets in my short circuit as ek moet mingle. Social. Meet and greet. Ek kots omtrent.

Dis hoekom dit vir my so fantasties is as ek dit die dag regkry om iemand wat my “vang” te ontmoet. En dit regkry om daai persoon as vriend te kan tel.

(So.)