Liefdesverklaring

Ek het nou al 10 keer aan hierdie blog begin tik en weer uitgevee en weer oorgetik. Die tema en boodskap is eintlik baie eenvoudig, maar ek wil so graag hê dat ek dit met groot swier kan oordra. Met ‘n natuurlike ritme en mooi woorde. Daai woorde wat altyd so natuurlik na my toe kom, behalwe as ek oor jou praat, want dan raak my knieë lam en my brein sponserig. My tong knoop en eintlik is ek dan net ‘n strokiesprent karakter met groot oë en byklanke.

By jou is ek nie net normaal nie, want jou oë maak my buitengewoon mooi en slim en maer en oulik. As ek by jou is, is ek ‘n superheld, ‘n wenner, iemand wat alles kan doen, iemand wat nie tou opgooi nie, ‘n helder ster.

Ek weet ek en jy maak ewe hard kotsgeluide as dit by corny liefdesverklarings kom en ek weet jy lag vir my as ek lê en Mills and Boon lees in die bad en huil op troues, al is die troue net op tv. As dit by soetsappige liefdesliedjies kom kry jy omtrent die stuipe oor die woorde (veral die Afrikaanse liedjies, waar alles moet rym), but I’ve got news for you:

Mills en Boon het nie ‘n patch op ons liefdesverhaal nie. Ek en jy pas in die refrein van elke corny liedjie wat bestaan (behalwe die wat oor hartebrekers gaan – jy’s te veel van ‘n Prins om ooit my hart te breek). Ek is baie lief en versot op jou. Nogsteeds.

 

 

Was. Verlede tyd. Dit wat verby is

Ek is laasweek met ‘n suckerpunch gevang. Ek het gedink ek sou daaroor kom, dat ek in die eersteplek nie die hou so in my hart moes gevoel het nie. Liefie meen ek moes dit in die eersteplek nie as ‘n hou ervaar het nie.

Die firma waarvoor ek gewerk het (en as ek dit so stel klink dit stupid, soos “net ‘n werk”), maar dit was vir my meer. My eerste werk, mense waarvoor ek baie lief geraak het en omgegee het, die plek waar ek ure van my tyd en hart ingesit het en waar ek en die firma so saam-saam groot geword het, het hulle 10de bestaansjaar onder hulle huidige naam en in hulle “nuwe” kantoor gevier. Die viering het saammet lentedag geval.

Ek het dit op Facebook gesien. Ek is nie genooi nie. Liefie sê toe heel verbaas (in so ‘n stadige stemmetjie, asof hy met ‘n stout kind wat nie wil luister nie praat) : “but you_don’t_work_there_anymore”. My redenasie was dat so ‘n viering ‘n groot ding is, dat ek nog op goeie voet met die kantoor is, dat daar baie mense was wat nie daar werk nie en dat ek (in my nederige opinie) ‘n groterige rol by die kantoor gespeel het en dat mens nie na die toekoms kyk sonder om darem erkenning aan jou verlede te gee nie. “I used to be important there” sê ek vir Liefie. Hy rol sy oë. “W-A-S” antwoord hy my, ewe op Afrikaans.

Wel, as as verbrande hout is, is was seker doodgeblaasde kerse.