Daar sien ek my ga(s)t(e)

Laat tannie Jane nou vir almal wat wil luister iets leer.

Ken jou eie beperkinge.

My ma het hier gekuier van einde Mei tot die 20ste Junie. Ons het ‘n fantastiese tyd gehad en ek was die wêreld se swakste huisvrou wat heeldag in die strate gelê het. Maar lekker is ook lekker en dan’s dit klaar.

My skoonma kuier nou hier. Hoe de moer ek dit reggekry het dat die een 12:15 op die 20ste op die vliegtuig klim en die ander een 13:40 op die 20ste van die vliegtuig afklim, weet ek nie so mooi nie, maar dit het toe nou so uitgewerk. Ek vermoed iewers het ‘n klein stemmetjie vir my gefluister: “hoe erg kan dit wees? Suck it up en kry klaar”.

Wel. Dis erg. En dis hoekom ek almal aanraai om hulle beperkinge te ken.

Dit gaan nie oor die ma/skoonma ding nie. Dit gaan oor my huis is klein en die spaarkamer is nou Arjun se kamer en aangesien hy nou al ‘n halwe brein het en nie meer wil slaap as daar ‘n speelmaat in sy kamer is nie het ons die enkelbed vir die gaste in ons cinemaroom ingeskuif, maar dit beteken dat ‘n klein kamertjie nog kleiner word en ek en Liefie nie meer middernagtelike movies kan kyk nie en dis koud en daai kamer is eintlik die lekkerste en maklikste kamer om warm te maak en dis waar ek lê en boek lees in die oggend son en nou raak die maand van Junie vir my te lank.

En toe word ek siek en as ek siek is raak ek kwaai want ek voel nie lekker nie en ek wil net alleen wees en in stilte en vrede met my kop vol snot iewers op ‘n bank lê en gemors daytime tv kyk. (Sien paragraaf hierbo oor cinemaroom)

Ek droom nou al dat ek in ‘n hotel inbook sodat ek lank in die bad kan lê en al die warm water kan opgebruik en kaal kan rondloop en baie tv kan kyk en in die algemeen net stilte kan ervaar.

Ek is oor 30. Ek moet teen hierdie tyd al van beter weet. Mense is nie my ding nie. Of dit nou familie is of nie. Dit voel vir my of ek my vel van my lyf wil aftrek van irritasie.

As ek dit eendag regkry om my droomhuis te bou gaan daar ‘n reuse vleuel vir gaste wees. En in my droomhuis gaan die gaste droomgaste wees. Soos baie soet kinders.

Mense gaan hulle sien, maar nooit, ooit hoor nie.

Advertisements