Brief vir die toekoms

Liewe Arjun

Ek skryf vir jou hierdie brief met die langhand, sodat jy kan weet dat so iets nog bestaan. As ek kon, sal ek eintlik wou gehad het dat die brief vol stempels en ‘n seël van ‘n vreemde land by jou aankom, sodat jy kan droom van verre lande en onbekende paaie. Jy kan in my seëlversameling ook gaan kyk as jy wil. Nie veel van ‘n versameling nie, maar nou ja, dit het my as 10-jarige aan die droom gesit.

Jou oom Christoph het my daarmee gehelp toe ek ‘n kermgat dogtertjie was. Hy hoef dit nie te gedoen het nie, hy is immers 9 jaar ouer as ek, maar hy’t ‘n sagte hart. Hy’t my met briewe aan die tandmuis ook gehelp. As jy teen die tyd ‘n boetie of ‘n sussie het, help hulle ook so mooi. Ek sê dit in die brief, want ek weet hoe kinders raak. Weet alles. Wil nie luister vir hul ma wat met amper trane in haar oë en ‘n vlinderslag in haar sentimentele hart oor die “outyd” wil praat nie. Dis nie “cool” nie, ma. Ek hoor jou dit al sê.

Daar’s eintlik beter woorde as cool, terloops. Doen moeite om die regte woord vir elke geleentheid te gebruik, anders is alles later een of ander vorm van “lekker”. Ek doen nie die moeite om nou sulke mooi Afrikaans met jou te praat sodat jy dit net in onbruik kan laat verval nie.

Ek en jou Pa wonder daagliks of ons goed genoeg as ouers is. Genoeg doen en gee. Ons is bang dat dit nie genoeg is om jou net onvoorwaardelik lief te hê nie. Spot dat jy ‘n tiener gaan word wat deure klap en “ek haat julle!” gaan skree. Dan dink ek dat ek eintlik heeldag Baby Einstein dvd’s moet speel, of so iets, maar jy hou nou so baie daarvan om met die besem deur die huis op jou bak klein bababeentjies te loop en vee, ek wil jou nie vermoei met “belangriker” opvoedkundige speelgoed nie. As ons nie te vrot gedoen het nie, sê dit vir ons. Ouers is maar net mense wat eens op ‘n tyd ook kinders was.

Ek weet ek moenie jou grootword vooruitloop nie, maar ek is so bang al die drome en vrese wat ek elke dag vir jou het uit my kop uit waai en dat ek gaan vergeet waaroor ek dink as ek terloops 3 uur in die oggend wakker lê – so vergewe maar jou ma vir haar krabbels. Ek het eintlik maar ‘n sagte hart.

Veral as dit by jou kom.

Baie liefde
Jou ma

Advertisements

7 thoughts on “Brief vir die toekoms

  1. Son Mei 2, 2012 / 8:52 nm

    Dis ‘n uit-die-hart-uit brief, wat my nou ‘n traan laat wegpik. Arjun is ‘n gelukkige seuntjie om julle as ouers te hê.

  2. mnrnel Mei 3, 2012 / 5:14 nm

    Baie dankie vir die woordepaadjie in die opvoedingsbos. Kan ek asseblief maar die stam van jou brief gebruik om toekomsbriewe vir my eie twee prinsesse te komponeer?

    Ek het die brief beleef as naakte eerlikheid wat soos warm water oor my lyf rol in die stort. Dankie.

  3. demoerin Mei 9, 2012 / 4:23 nm

    Baie mooi, en so waar Jane. Hel, ek wonder dieselfde elke dag. Seker maar die ouer se strop om die nek, die gewonner.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s