Geskiedenis les

Ek het eenmaal gelees dat elke mens met ‘n rugsak deur die lewe gaan en dat jy mettertyd vrek swaar gaan dra as jy al die klippe wat oor jou pad kom inlaai.

Ek verstaan dat sekere gebeure nie dadelik verwerk kan word nie en dat hulle vir ‘n rukkie saamgedra moet word, maar ek is ‘n groot voorstander van die “get over it” beginsel. Dis maklik vir my om ‘n voorstander te wees, want my lewe was/is nog altyd maklik. In Engels is daar ‘n mooi frase: “a charmed life”.

Ek koester nie wrokke nie, ek haal nie met haat of woede ou koeie uit die sloot uit nie en ek vergeet maklik beuselagtighede. Ek is nie onnosel oor sulke goed nie, ek leer my les en stap aan. My suster sê altyd: “o, het jy dit gewipe?”. Soos daai borde waarop die kinders teken en dan skud/vee – daar’s nog vae buitelyne, maar die prentjie is weg.

Toe ek vanoggend hierdie aanhaling van Katherine Anne Porter lees “The past is never where you think you left it”, toe wonder ek oor my lewensuitkyk.

Die groter klippe moes tog my hande bietjie growwer gemaak het of die kleineres moes stof gelaat het. Dié wat ek saamgedra het se krieseltjies lê iewers verkrummel in die hoek van my rugsak. My spiere is sterker oor die gewig van jare.

Ek is nie so onaangeraak en onbetrokke soos ek myself wysmaak nie.

Ek is wie ek is oor dit wat ek was.

Advertisements

As iemand my net gesê het!

Ek het lank terug tong-in-die-kies daaroor geblog dat my lewe soveel anders kon gewees het as my ouers my nie terug gehou het nie.

Ek sien dan ook nou dat ek eintlik baie tyd en geld gemors het om myself as prokureur te kwalifiseer.

Kim Kardashian is ‘n groot realiteits televisie ster. Cool by association is dan ook haar susters. Kim was eens deel van Paris Hilton se ss (sirkel van slette), maar sy het (soos Paris) haar eintlike roem verwerf deurdat daar ‘n seksvideo van haar uitgelek het.

Sy maak nou miljoene en het klerereekse en nou ook ‘n nuwe huisware reeks.

My vraag is dit: wat (of is dit wie?) het sy al in haar lewe gedoen wat haar hiervoor kwalifiseer?

Wat is fout met die samelewing dat enige poephol met ‘n videokamera en broadband deesdae ‘n ster kan wees met “waardevolle” opinies?

As iemand my net gesê het! Ek kon ‘n seksvideo gemaak het voordat my tieties begin hang het!

Brief vir die toekoms

Liewe Arjun

Ek skryf vir jou hierdie brief met die langhand, sodat jy kan weet dat so iets nog bestaan. As ek kon, sal ek eintlik wou gehad het dat die brief vol stempels en ‘n seël van ‘n vreemde land by jou aankom, sodat jy kan droom van verre lande en onbekende paaie. Jy kan in my seëlversameling ook gaan kyk as jy wil. Nie veel van ‘n versameling nie, maar nou ja, dit het my as 10-jarige aan die droom gesit.

Jou oom Christoph het my daarmee gehelp toe ek ‘n kermgat dogtertjie was. Hy hoef dit nie te gedoen het nie, hy is immers 9 jaar ouer as ek, maar hy’t ‘n sagte hart. Hy’t my met briewe aan die tandmuis ook gehelp. As jy teen die tyd ‘n boetie of ‘n sussie het, help hulle ook so mooi. Ek sê dit in die brief, want ek weet hoe kinders raak. Weet alles. Wil nie luister vir hul ma wat met amper trane in haar oë en ‘n vlinderslag in haar sentimentele hart oor die “outyd” wil praat nie. Dis nie “cool” nie, ma. Ek hoor jou dit al sê.

Daar’s eintlik beter woorde as cool, terloops. Doen moeite om die regte woord vir elke geleentheid te gebruik, anders is alles later een of ander vorm van “lekker”. Ek doen nie die moeite om nou sulke mooi Afrikaans met jou te praat sodat jy dit net in onbruik kan laat verval nie.

Ek en jou Pa wonder daagliks of ons goed genoeg as ouers is. Genoeg doen en gee. Ons is bang dat dit nie genoeg is om jou net onvoorwaardelik lief te hê nie. Spot dat jy ‘n tiener gaan word wat deure klap en “ek haat julle!” gaan skree. Dan dink ek dat ek eintlik heeldag Baby Einstein dvd’s moet speel, of so iets, maar jy hou nou so baie daarvan om met die besem deur die huis op jou bak klein bababeentjies te loop en vee, ek wil jou nie vermoei met “belangriker” opvoedkundige speelgoed nie. As ons nie te vrot gedoen het nie, sê dit vir ons. Ouers is maar net mense wat eens op ‘n tyd ook kinders was.

Ek weet ek moenie jou grootword vooruitloop nie, maar ek is so bang al die drome en vrese wat ek elke dag vir jou het uit my kop uit waai en dat ek gaan vergeet waaroor ek dink as ek terloops 3 uur in die oggend wakker lê – so vergewe maar jou ma vir haar krabbels. Ek het eintlik maar ‘n sagte hart.

Veral as dit by jou kom.

Baie liefde
Jou ma