Hiep – hiep – hoera!

Daar loop ek toe, soos die slegte blogger wat ek deesdae is, my vierde blog verjaarsdag hier by WordPress mis.

Dit voel soos ‘n ewigheid wat ek blog. Ek dink nie ek is meer dieselfde persoon nie, maar wat ek wel weet is:

1. Blogvriende is soms beter as regte vriende. Hulle gee om, stel regtig belang en as iemand die dag kommentaar lewer moet jy weet dis omdat hy/sy wou. Omdat jy as blogger ‘n indruk gemaak het op iemand wat jy waarskynlik nie ken nie se lewe. En dis groot. ( Ek het nog net 1 blogger ontmoet en hy’t ‘n goeie pel geraak. Eeb-star – jy rock!)
2. Om te blog is harde werk. Mense dink dis speel-speel skryf vir mense wat nie “regte” skrywers kon raak nie. Dit is nie! Jy kan nie voorgee om iets oor ‘n onderwerp te weet en ‘n opinie oor iets te hê waaroor jy eintlik niks weet nie. Die bloggers sal jou uitvang. Want vir elke onnosele blogger is daar 10 superslimmes. En moenie dink jy plaas sommer enige skryfsel nie. Jy voel gou genoeg of jy jouself verraai.
3. Blog is dalk gesigloos en vir sommiges anoniem, maar dinge kan lelik raak. Gelukkig nog nie met my gebeur nie, maar menige blogger moes al blogdeure sluit oor mense en hulle kak.
4. Jy kan elke dag iets by ‘n blog/blogger leer. Ek vind ek leer veral oor die emosionele sy van die lewe. (‘n lewensvak wat ek keer op keer dop!)
5. As bloggers net verdwyn mis mens hulle! Waar is julle heen?
6. Ek moet meer tyd maak vir blog en bloglees en kommentaar. Dit is immers by stokperdjie. Nes mense op Saterdae oggende gholf speel.

So – veels geluk NetJane – you’ve come a long way baby!

Posted with WordPress for BlackBerry.

My pedigree

Verder tot my vorige post oor voorgeslagte en geskiedenis, plaas my broer vandag hierdie berig uit die Burger van 1996 op sy Facebook profiel.

Die H.C Brink is my oupagrootjie aan my ma se kant. Die pa van die oupa op die foto in die vorige post.

KORT ná agtuur op die oggend van 2 Januarie 1896 het die Boereverkenner Jopie Fourie die ou plaashuis (c. 1870) op Vlakfontein, distrik Roodepoort/Krugersdorp, betree om die voorwaardes van oorgawe met die leiers van die Jameson invallers te bespreek.

Hy is deur genl. Piet Cronjé gestuur nadat dr. Leander Starr Jameson, administrateur van Brits-Masjona land, die voorskoot van ‘n swart vrou aan die punt van ‘n wasweep deur die grasdak van die woning gesteek as wit vlag van oorgawe. Kort hierna is Jameson, sir John Willoughby, bevelvoerder, en genl.maj. sir Robert White en nog vier offisiere per bokwa na die opstal van Oom Hendrik Brink, soos hy bekend was, op Vlakfontein gebring waar mev. Maria Elizabeth (Tant Polly) Brink ontbyt voorgesit het.

Jameson het verslae op die wa bly sit en het selfs ‘n snapsie om hom moed te gee, geweier. Die twaalfjarige Wouter, later jare lank hoof van die Hoërskool Monument op Krugersdorp, het vertel dat sy ma hom na Jameson gestuur het om te verneem of hy iets wou nuttig. Hy het slegs sy kop geskud en sy hoed oor sy oë getrek. Sowat ‘n uur later, nadat die dokumente van oorgawe deur kmdt.genl. Piet Joubert en die twee Britse offisiere White en Willoughby in die sitkamer onderteken is, het die gevolg vertrek om later die dag in die tronk op Krugersdorp opgesluit te word.

Hulle is later na die tronk in Pretoria gebring. Die (klugtige) verhoor van Jameson en sy offisiere is in Londen gehou nadat pres. Kruger daartoe ingewillig het dat die Britte dit self doen.
Oom Hendrik Christolph Brink was ‘n formidabele man, vader van dertien kinders en ‘n Boer in murg en been. Voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog was Vlakfontein een van die grootste aartappel-, kool- en appelplase in die ZAR. En dit het nie vanself gekom nie. Hy het ook sy oeste met ‘n valkoog dopgehou en nie gehuiwer om diewe gou aan te keer nie. Dié ywer om sy eiendom te beskerm het op 16 April 1902 daartoe gelei dat die Vrede van Vereeniging byna in die wiele gery is.

Dit is ‘n merkwaardige verhaal: Uitlanders het ná die slag van Vlakfontein veral oor naweke die slagveld druk besoek, sommige sonder Oom Hendrik se toestemming. En dit het gou bekend geword dat hy oortreders opsluit wat hy in sy landerye betrap. Andersinds was hulle baie welkom op Vlakfontein. Op die middag van 16 April 1902 het hy op sy werf onder die akkerbome gesit en gesien hoe vier Britse offisiere te perd kruis en dwars deur sy landerye ry asof die plaas aan hulle behoort. Nadat hulle al die gedenkwaardige plekke wat met die slag verband hou, besoek het, het hulle na die Brink opstal gery. Oom Hendrik kon sy woede nie beteuel nie toe hulle opsluit ook sy vrou se goedversorde groentetuin vertrap en by die leidam hul perde water gee. Oom Hendrik het sy twee oudste seuns, Wouter en Willem, aangesê om gewere in die huis te gaan haal, en voor die offisiere iets wis, het hulle in die lope van drie gewere vasgekyk.

Verboureerd het hulle hulself voorgestel as genl. John Denton French, kol. graaf De Crespigny, kol. lord Egerton en kapt. lord Cavendish-Bentick, almal verbonde aan lord Roberts. Waarop Oom Hendrik geantwoord het: “En ek is die lord van Vlakfontein. Ek arresteer julle omdat julle ‘n verbode gebied betree het.”

Die plaaswerkers is opdrag gegee om die perde na die stalle te neem en met ‘n gebaar het Oom Hendrik die Britse hooggeplaasdes na die waenhuis beduie waar hy hulle summier opgesluit het. Die waenhuis was indertyd bekend as die grootste in die ZAR. Oom Hendrik het die massiewe sederthoutbalke uit Libanon per skip laat invoer en van die Durbanse hawe per ossewa laat aanry. Die dik sinkdak is van Engeland ingevoer. Die res van die gebou, soos die plaashuis, was van klip gebou, met ‘n kliptrap na die ruim solder.

Tant Polly en haar oudste dogter, Maria, het die verrigtinge bekommerd gade geslaan, maar Oom Hendrik het hulle gerus gestel: die oortreders sou net ‘n uur of só daar sit om hulle ‘n les te leer, het hy gelag. Intussen het een van die plaaswerkers, wat waarskynlik ‘n beloning verwag het, hom na Krugersdorp gehaas om die Britse owerhede onder bevel van maj. Gerald Ritchie van die gebeurde in te lig. Weldra het ‘n gedugte kommando Britte vergesel van kmdt. F.J. (Frederik) Potgieter en veldkornet J.C. (Hans) Bodenstein inderhaas afgesit na Vlakfontein om die gevange offisiere te ontset.

Oom Hendrik se verduideliking aan kmdt. Potgieter was eenvoudig: Die offisiere het sonder toestemming op sy plaas oortree en op arrogante wyse sy landerye vertrap. Hy het die volste reg om sy eiendom te beskerm, en daarom het hy hulle opgesluit. Genl. French het sy opsluiting as “’n buitengewone ervaring” bestempel en gesê: “Lord Brink het ons ‘n eienaardige, maar redelike verduideliking gegee en ek voel ons moet die saak voorlopig maar daar laat. Waar is ons perde?”

Ná die Britte die plaas verlaat het, het die twee Boere offisiere aan Oom Hendrik verduidelik dat sy optrede die Vrede van Vereeniging in gevaar kon stel en dat hy die saak moet regstel. Hulle het hom aangeraai om ‘n paar vet skape na Krugersdorp te laat aanjaag sodat die Britse offisiere ‘n braai vleis kon geniet. Die skape is vergesel van ‘n brief van apologie wat deur Bodenstein geskryf is. Die voorval het later die ore van genl. Louis Botha bereik en telegramme het tussen Vereeniging, Krugersdorp en Pretoria gevlieg.

Gelukkig het die voorval geen verdere reperkussies vir die Brinks gehad nie. Dit het egter die verbeelding van die burgers gaande gehad en Oom Hendrik Brink was ‘n Boere held in hul oë. Na Oom Hendrik was die plaas in die besit van sy dogter, Maria, in later jare beter bekend as Ta’ Miemie, en haar man, Christian Nolte. Hy is in die Vryheidsoorlog deur ‘n hanskakie gevang en was ‘n krygsgevangene in Ceylon. Ta’ Miemie was vir jare ‘n bekende onderwyseres op Roodepoort. Haar broer Willem was LV en hoof van die Hoërskool Christiana.

Vlakfontein is tans nog die eiendom van Ta’ Miemie se dogter, mev. Christa van der Westhuizen, en haar eggenoot, Jannie. Dit is pas geoormerk vir die uitbreiding van die swart residensiële stad Soweto. Hieroor is mev. Van der Westhuizen verslae. Die familieplaas vir meer as ‘n eeu met sy glorieryke geskiedenis en besonderse geboue is daarmee vir altyd verlore. “Eers is al ons vee gesteel en woon ons soos beleërdes agter veiligheidsomheinings en tralies. Nou is die plaas ook daarmee heen. Dit sal net ‘n week duur nadat ons hier weg is, en geen twee klippe van die ou opstal sal opmekaar bly staan nie,” het sy gesê. “Dit is só swaar om van Vlakfontein afskeid te neem…”

http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1996/03/09/3/2.html

Posted with WordPress for BlackBerry.