Sewe sakke sout

Ek het huiswerk gekry. (Son dink ‘n huisvrou sit heeldag en niks doen nie!) Ek moet 7 feite oor myself bekend maak en dan 15 ander bloggers aanmoedig om dieselfde te doen. Siende dat ek al vir jare blog is my hele lewe iewers op hierdie blogblaaie netjies uitgespel (soek en jy sal vind) en ek twyfel of daar nog iets omtrent my is wat onbekend is in blogland. 7 Sondes het ek ook nie, ek is die oorspronklike hoofmeisie-tipe (behalwe dat ek nooit ‘n hoofmeisie was nie). So wat volg is ‘n hibriede model.

(Ek gaan nie eens probeer om 15 ander bloggers te tag nie, ek lees deesdae te min blogs om die “nuwes” te ken en die “oues” is klaar gevat!)

So: my staaltjies/sondes/so-ietses is:

1. Ek verkies boeke bo mense en wil baie keer eintlik eerder my boek klaarlees as om na ander se stories te luister. Ek wens net dit was sosiaal meer aanvaarbaar om in ‘n geselskap te lees. (Ek’s gewoonlik te nuuskierig om myself heeltemal uit die gesprek te onttrek). Ek het al weggeglip van kuiergaste om na ‘n slapende Arjun om te sien net sodat ek ‘n bladsy of 2 kon lees…

2. Ek voel soms dat ek harder moes probeer het om suksesvol my werk, man en kind te behartig en voel skuldig dat ek weggestap het van die loopbaan waarvan ek ‘n paar jaar terug gedroom het al geniet ek my nuwe lewe soveel dat ek elke dag wonder wanneer laas ek so eenvoudig gelukkig was. Die engelse woord is content.

3. Ek het in matriek begin rook en opgehou net nadat ek vir Liefie ontmoet het. My ma weet glad nie daarvan nie. As ek laatmiddag ‘n koppie koffie drink dink ek (jare later) steeds dat ‘n ou sigaretjie darem nou lekker sou gewees het.

4. Ek het maklik ‘n 100 paar skoene. Dis nadat ek hulle ‘n maand terug wreed uitgedun het.

5. Ek het lank gedink Tina Turner sing van “skinny widows” eerder as “steamy windows”. Dieselfde met Lloyd se “you are my air” – ek het glad nie verstaan hoekom hy “get off my chair” sing nie.

6. Ek en Liefie het ‘n gratis konsert met Sigur Ros en Bjork in Ysland misgeloop omdat ons koud gekry het. Ons was naby genoeg om die musiek deur ons kamervenster te hoor. (Ek moet darem bysĂȘ dat ons nie geweet het wie optree nie, aangesien die gastehuis eienaar slegs genoem het dat plaaslike kunstenaars optree en dit nie duidelik gemaak wie nie).

7. Ek is met die helm gebore, of so iets… 😉

Posted with WordPress for BlackBerry.

Advertisements