Hierdie is ‘n titel

Ek het so lanklaas geblog dat ek my wagwoord vergeet het. Dis erg.

Ook erg is dat ek nog nooit my volle adresboek van my Nokia na my Blackberry oorgeskuif het nie (dis nou al ‘n jaar) en dit elke keer besef as ek iemand wil bel om dan agter te kom ek het geen idee wat hulle nommer is nie. Nou is die Nokia ook skoonveld. So: as jy hier lees en ek het lanklaas met jou gepraat – ek is jammer. Stuur vir my jou nommer of Facebook my. Ek het min genoeg vriende, ek kan nie bekostig om iemand te verloor nie!

Laasweek gaan ek en Arjun toe Moms and Babes of Tots of whatever toe, dis wat ma’s wat tyd op hulle hande het doen. Dis ‘n klas waar die babas hande klap en liedjies sing en aan jellie vat en oor die algemeen rond gepluk word. Na die klas social die ma’s. Die laaste gedeelte van die klas het my in ‘n koue sweet laat uitslaan. My kleuterskool rapport het reeds gesê “doesn’t play well with others” en “verkies om alleen te speel”. By die klas gekom ken al die ander mammas mekaar klaarblyklik omdat hulle seker al vir 10 maande lank die klas bywoon. Ek maak myself toe maar tuis vir die les. Arjun is nie ‘n kind wat niks gewoond is en sommer vir alles huil of kerm nie, inteendeel, as hy die dag huil weet jy daar’s iets fout.

Hy’s in die klas vir 9 tot 12 maande oue babas (al die ander kruip reeds). Die eerste kind het net in sy rigting gemik toe skree Arjun blou moord. En so het dit vir die res van die klas aangehou. Die “doesn’t play well with others” is duidelik geneties. More is ons volgende klas, hou duim vas.

My laaste gedagte vir vandag is dan ook iets wat my vreeslik pla. Het die hele wereld oornag skelm geword? Is lieg en bedrieg en steel nou maar okay? Of is ek nog te goedgelowig? Ek vermoed House het ‘n punt beet met sy mantra: everybody lies.

Dit blyk ‘n simptoom van ons tyd te wees.

Posted with WordPress for BlackBerry.

Oorsig

Ek het my eerste week as huisvrou oorleef. Dit was vir my wonderlik.

Ek het gister weer ingegaan kantoor toe (ek help nog deeltyds uit tot die einde van die jaar) en terwyl ek kantoor toe oppad was kon ek voel hoe my nekspiere een vir een bymekaar trek en hoe ek kort-kort my nek diekant of daaikant toe moet draai om die ongemak beter te maak. Elke keer volg daar ‘n “klik”. Toe ek na ‘n dag se werk terugkeer huis toe tref dit my dat ek geen genot of welbehae voel oor dit wat ek verrig het nie. Ek was stokflou en kwaai teen die tyd wat ek by die huis gekom het.

Eintlik skrikwekkend waaraan mens elke dag gewoond raak. Dis eers as jy iets anders het om mee te vergelyk dat dit jou tref dat jy eintlik die kreef in die pot water was wat mettertyd al hoe warmer geraak het.

Op ‘n heel ander noot sien ek nou die dag ‘n advertensie op Facebook. Die fotograaf adverteer dat dit amper Kersfees is en dat sy nou ‘n spesiale aanbod het waar jy jou dogtertjie in mamma se trourok kan laat afneem. Wat de fok? (Of soos my engelse vriendin altyd vra: wat die fok?)

Ek was hewig ontsteld oor die idee. Ek is glad nie een vir babatjies as blommetjies aantrek en in teekoppies laat poseer nie en het al voorheen my gevoel oor duur babaklere uitgespreek. Om jou dogtertjie in jou trourok te laat afneem pla my om die volgende redes:

1. Dit maak ‘n kleintjie groot voor haar tyd en;
2. Skep die gedagte dat dit elke dogtertjie se droom behoort te wees: ‘n trourok;
3. Verder haat ek die idee van “my troudag was die mooiste en gelukkigste dag van my lewe”, want dan gaan jou huwelik maar dag-na-dag afsteek. (Min mense lyk ooit weer so mooi as op hulle troudag, myself inkluis). As jy nie ‘n aanhanger van daardie idee is nie, hoekom die dag weer probeer herleef met jou dogtertjie in die rol van bruid?;
4. Dis creepy;
5. Laat jou kind haar/sy eie drome hê. Miskien wil ‘n kind eerder as ‘n cowboy afgeneem word.

Liefie meen ek oorreageer. Hy meen mense kan doen net wat hulle wil as dit hulle gelukkig maak en as dit wettig is. Wat dink julle?

Posted with WordPress for BlackBerry.