Afrikaners is plesierig

Daar was ‘n mini-bekgeveg daar by Un-pee-cee. Ek wil nie die ander blogger link nie, want ek weier om op hierdie blog vir hom lugtyd te gee, die hemel weet wat hy oor my as Afrikaner sal kwytraak en dan praat ek nie eens van Arjun nie. In elk geval – UPC het hom toe nogal mooi geantwoord.

Dis ‘n tema wat al keer op keer hier in blogland gedraai het, sommiges was meer ernstig, sommiges minder ernstig en ek self het ook al baie oppervlakkig daaroor gewonder.

Ek het egter so baie van UPC se antwoord op die ander vent se kommentaar gehou dat ek toestemming by hom gekry het om sy antwoord weer hier te plaas.

“Ek is ‘n Afrikaner. Dit wroeg my as ander Afrikaners vir my wil voorse hoe ek as Afrikaner moet optree en hoe ek moet dink. Indien mense nie hou van hoe ek my Afrikanerskap uitleef nie moet hulle ‘n volksvergadering hou, standaarde vir Afrikanerwees opstel en op grond daarvan my insluit of uitsluit.
In 1734 het my voorouers  (2 Brink broers) op die Walrus in Dassen-eiland gestrand. Daar was nie genoeg blanke vrouens nie en die een het teruggekeer na Holland terwyl die ander een met van die bruin mense getrou het. Ek is ‘n kleurling.
My ander voorouers het by Dordrecht in die Oos Kaap geboer as menslike skilde tussen die kolonie en die Xhosas. Die stamvader het in 1672 op die Meermin in Kaapstad geland en in Wellington begin boer.
My oupa (Hendrik Brink) het Trustbank en die Reddingsdaadfonds gestig om Afrikaners op te hef. Hy het in Woolworths gestaan en protesteer om in Afrikaans bedien te word en Federale Volkbeleggings gestig om die Afrikaner ‘n toegang tot kapitaal te verskaf. (Hy was ook seker ‘n kleurling…) Bertie Brink was ‘n stigter van die Randse Afrikaanse Universiteit en Afrikaner Werkersbeweging, en was die predikant wat die Voortrekkermonument oopgemaak het. Sy oupa was Onze Jan Hofmeyer, stigter van die Broederbond en Afrikanerleier in die Kaap.
My ma se oupagrootjie was Danie Theron, stigter van die Rapportryers wat by die slag van Paardeberg tussen die Britse linies deurbeweeg het om boodskappe te stuur.
Naspers is gestig om Afrikaners weer ‘n stem en hoop te gee, en het die Afrikaner verneder, verkleineer en verwronge gevind in 1914 en ons op die pad gehelp om een van die mees gerespekteerde nasies op aarde te word. My oupa was stigtersdirekteur van die maatskappy.

Ek was in Casspirs in die lokasies in die vroee ’90′s, en ek weet dat oorlog geen oplossing vir enige probleem is nie. Mense wat oorlog voorstaan (Malema en sommige ver-regse en linkse groepe, blank en swart) was bykans voor die voet nognie in ‘n oorlog nie, en het geen idee wat in ‘n oorlog gebeur nie. Jou kind word uit ‘n kar getrek en deur die kop geskiet, jou ma word verkrag en jou huis en besigheid word afgebrand dat jy letterlik niks het nie. LETTERLIK niks. Een hemp, een broek, een paar kouse en een paar skoene. Jou kredietkaart werk nie want die bank is oorgevat. Voor mense oorlog praat moet jy eers een hemp kies, een broek, een paar kouse en een paar skoene. Dra dit vir 24 uur sonder enige kos en besluit of dit nodig is vir oorlog. Vra vir die ouens in Sarajevo, Bam, Maxixe of Srebrica hoe dit is om niks te he nie.

Ek voel ek is ‘n bloubloed Afrikaner, en as daar ‘n Afrikaner koningshuis was, was ek waarskynlik iewers ‘n prins.
Ek is besonder trots om ‘n Afrikaner te wees, en ek is besonder trots op die rol wat my voorouers in die ontwikkeling van die Afrikaner nasie gespeel het.
Daar is miskien dinge waaroor ek meer trots is. Bertie Brink het in 1960 protes aangeteken teen aparte kerkdienste, ‘n posisie wat hom teen Andries Treurnicht in konflik laat kom het. Slegs die duiwel verhoed mense om te kan bid waar hulle wil. Slegs die duiwel verhoed mense om te kan bid waar hulle wil. Slegs die duiwel verhoed mense om te kan bid waar hulle wil. Slegs die duiwel verhoed mense om te kan bid waar hulle wil…
My oupa het besighede op die Kaapse vlakte gefinansier om die kleurlinggemeenskap op te hef. My pa het in beursfondse, skole, opleiding en ontwikkeling van alle rasse in Afrika gestig tydens sy rol by die Kamer van Mynwese en ek het opleidingsstrukture by my maatskappy gestig waar ons fantastiese vakleerlinge (blank, swart, bruin en indier) opgelei het. My huidige maatskappye in Suid Afrika en Mosambiek behandel alle mense voor die voet voortreflik.

Ek is ‘n Afrikaner, en my volk voel soos ek. Ons is deel van Afrika, en Afrika is deel van ons. Niks kan my losmaak van Afrika nie, maar niks kan ook Afrika losmaak van my nie. Ek kan nie weghardloop van my medemens wat voor my hier was nie. Sonder die Afrikaner is Suid Afrika niks. Sonder Suid Afrika is die Afrikaner niks.”

So hier’s ‘n “tag”. Wat maak JOU ‘n Afrikaner (al dan nie)?