She works hard for her money

…So hard for it honey…

Ek’s terug werk toe. Dit was ‘n vreeslike moeilike besluit om te neem, maar ek het nou al die eerste maand oorleef en ek en Arjun cope.

Eintlik ek cope, Arjun floreer. Ek het ‘n engel uit die hemel wat hom bedags oppas en ek kan sien hoe lief is hy vir sy Miena. (My suster se bediende is ook Wilhelmina en haar kinders het mooi vir Arjun verduidelik “hulle Miena” en sy Miena is nie dieselfde nie). Ek werk op papier van 9 tot 3 en ek moet sê dat my werkgewers my daar baie tegemoet gekom het, maar ek kry dit nog nie heeltemal reg om by daardie ure te hou nie. Die afgelope week was daar krisis na krisis, maar ek kan sien dat ek meer afstand tussen myself en my werk kan plaas, aangesien ek die tyd wat ek wel met Arjun kan spandeer ten volle wil benut.

Hy is nogsteeds die mooiste baba in die hele wêreld en ek kan my lewe glad nie sonder hom voorstel nie. Hy verskaf soveel pret in my lewe dat my hart soms voel of dit wil bars van liefde.

Ons vlieg die 4de Augustus Duitsland toe vir vriende se troue in Berlyn en na pakke papierwerk het ek en Arjun visums. Ek kort nog ‘n balrok om aan te trek, maar met my post pregnancy grootte boude en borsvoeding grootte tieties is ek maar traag en skrikkerig vir aantrekhokkies.

Ek hoop ek kan al die ysters in my vuur goed hanteer, maar my hart trek darem maar ‘n punt en my kop voel maar skuldig as ek smiddae by die huis kom en Arjun se armpies waai van opgewondenheid om sy mamma te sien. My eerste salaristjek na 6 maande was egter baie welkom.

Hou vir my duim vas, want ek is nie Superwoman nie.

Posted with WordPress for BlackBerry.

Kommin, met ‘n hoofletter k, ‘n kappie o en ‘n i

Son het lekker geblog oor haar kommin streek.

Ek het vir jare gemeen kommin is die laaste woord wat gebruik kan word om my te beskryf, maar deesdae weet ek nie meer so mooi nie.

Miskien het my skool kêrel ‘n punt beetgehad toe hy my afgesê het en onder andere bygevoeg het dat ek en hy in verskillende klasse is. (En hy’t nou nie skoolklas bedoel nie!)

Ek koop in die algemeen by Pick ‘n Pay, maar elke nou en dan slaan ek die Checkers Hyper in ‘n groot manier. Ek dra tweedehandse klere. Ek meng my taal. Ek sê laaik en smaak dit stukkend. As ek die dag regtig dink iets is ‘n goeie idee is dit piele. In my hart smag ek eintlik daarna om ‘n Kurt Darren CD te besit.

Ek lees hygromans en kyk Noot vir Noot en 7de Laan. My baba dra klere van PEP, want ek dink Naartjie is pretentious. Ek gebruik afslagkoupons. Ek vat my eie koeldrank en lekkers in my handsak fliek toe. Ek besit crocs.

Ek is mal oor China Mall en al die crap wat mens daar kan koop. Ek dra plastiek krale en armbande. Ek loop sonder ‘n bra rond en besit ‘n veloer sweetpak.

Ek is Jane en ek is eintlik kommin.

Posted with WordPress for BlackBerry.