Tower blomme

Ek het ‘n klomp orgidieë by my ma geerf toe sy getrek het. Hier en daar nog een of twee as geskenk gekry.

Toe die klomp plante een jaar klaar geblom het, sit ek die potte buite die agterdeur, om “later” die nodige stappe vir die volgende jaar se blom se neem.

Raymond is my tuinjong. Ek het hom saammet die huis gekry en dis nie eintlik my tuin nie. Dis Raymond s’n. Dis maar net terloops dat my huis binne die tuin is. Raymond kry toe die orgidieë voor ek die nodige stappe neem. Plant toe sommer die klomp blomme in twee potte en skuif die potte waar dit vir hom mooi lyk. Ek is ook toe te lui om iets daaromtrent te doen en die goed staan maar so. Sonder ekstra sorg, bemesting of liefde.

Lo and behold. Die volgende seisoen is daar takke blomme. En die volgende seisoen weer. En weer. Almal vra oor die blomme, wat ek doen dat die goed so mooi blom. Glo my nie as ek sê “niks nie”. Die een pot staan in die wind en weer in die vol son. Die ander pot aan die koue kant van die huis by die badkamer venster.

My ma se nefie se vrou soek vroeër vanjaar ‘n tuinjong en ek beveel vir Raymond aan. Sy bel later en sê hy werk vreeslik hard en is sterk, maar weet ek dat hy ‘n sangoma is?

Nou maak die blomme vir my sin.

Posted with WordPress for BlackBerry.

Suutjies poep

My tannie het destyds twee bediendes gehad. Dit was die Vrystaat in die laat 80’s/ vroeë 90’s, sommige boere het bediendes gehad wat net soggens en saans die gordyne oop-en toe getrek het, but I digress. Een van die twee bediendes was stadig, oud, effens. My 4 nefies het haar suutjies poep genoem.

Die naam lui vanmiddag weer ‘n klokkie in my brein toe ek eensklaps moeg (verby moeg, gatvol eintlik) raak vir effens wees. Vir nice wees. Vir gemanierd wees. Vir die regte ding wat nie seermaak nie. Fok dit alles.

Ek verstaan daar’s social niceties en die konsep van ‘n wag voor jou mond plaas is mooi aan my in Sondagskool geleer, my pa het gedurig aan my verduidelik dat mens 2 ore en 1 mond vir ‘n rede het, maar sekerlik is daar sekere verhoudings waar hierdie reëls nie so absoluut geld nie?

Soos tussen goeie vriendinne, susters, lewensmaats, ouer en kind?

Daar het net onlangs te veel goed met my gebeur waar ek “nice” was. Gemanierd was. Die regte ding gesê het. Nie heeltemal die waarheid oorgedra het nie, want die waarheid sou seer maak.

Ek wil ook my sê kan sê en nie met verwyte, trane en tirades beantwoord word nie. Ek aanvaar dat mense die reg het om met my ook heeltemal eerlik te wees, want dis my goeie reg om hulle in hulle moere te stuur. Dis my reg om kwaad of hartseer te raak en dan te besluit of die situasie en verhouding weer “gepatch” kan word. Of bloot die woorde te aanvaar vir wat dit is.

‘n Opinie uit liefde gelig.

Posted with WordPress for BlackBerry.

Liewe blog

Liewe Blog

Ek verlang na jou.

Jy het my gehelp om my gedagtes te orden en gebeurtenisse vas te vang. Deur jou kan ek oor die afgelope paar jaar nadink en spesifieke ervarings en emosies onthou, want dit staan in swart en wit geskryf.

Deur jou het ek maatjies gemaak. En jy weet hoe moeilik dit vir my is om maatjies te maak. Ek weet nie hoe hulle “lewendig” lyk en ruik en klink en voel nie, maar hulle weet eintlik soveel meer oor my as van my ander “regte” maatjies en is altyd daar met ‘n goeie woord of twee.

Deur my blog maatjies en ander blogs het ek raad gekry. Goed geleer. Grappies gemaak. Tyd gemors, ontlaai.

Ek weet dat jy aanvanklik vir my soos ‘n nuwe speelding was en dat ek elke dag met jou gespeel het. Ek het baie tyd gehad, sien, want ek was in ‘n vreemde land, ver van my mense met baie nuwe ervarings.

Nadat ek terug gekom het was ek te besig om net te oorleef en my voete weer te vind en mettertyd was jy al hoe laer op my lys van aandag gee.

Weet net ek het nooit opgehou om aan jou te dink nie. Klomp halwe inskrywings lê iewers in ‘n laai van my brein, ek het hulle nooit as geskenke vir jou gebring nie.

Ek is jammer, want hier is jy nog. Sonder ‘n enkele onlangse inskrywing doen jy nog moeite om kommentaar op te lewer. Dankie ou getroue Blog. Jy rock.

Ek kom kuier van nou af meer dikwels by jou. Belowe.

Groete
Jou Jane