Die stootwaentjie stryd

Die kinders is Swede is baie goed gemanierd, avontuurlustig en nie bang vir die wêreld nie. Ek en Liefie het in ons tydjie daar tot die gevolgtrekking gekom dis omdat hulle van kleins af aan ‘n verskeidenheid mense en situasies blootgestel word.

Kinders, veral babas, gaan (noodgedwonge, daar is nie bediendes ens. wat gou ‘n ogie kan hou nie) oral waar die ma/pa gaan. Pa’s met stootwaentjies is ‘n algemene gesig, aangesien ‘n familie verlof kry met die geboorte van ‘n baba en of die ma of die pa van die verlof kan neem.

Verder dink ek ook kinders gaan oral saam, omdat dit maklik is. As jy ‘n stootwaentjie het betaal jy nie om op die bus te ry nie, die bus se agterdeur maak oop, die bus sak netjies tot op die vlak van die sypaadjie en jy stoot net die waentjie op die bus. Binne die bus is daar plek vir waentjies. Koffiewinkels het hoekies waar daar parkeerplek vir waentjies is en tafels en stoele reg langsaan vir die ouers. By Ikea is daar ‘n spesiale koffiewinkel vir mense met kinders. Jy kan kos ens warm maak, die badkamer is naby, die meubels kindervriendelik. Verder kan mens ook omtrent enige plek ‘n stootwaentjie laat staan en die ding sal nie gesteel word nie. (Vriende uit Swede vertel my egter gisteraand dit begin nou gebeur!).

Ek en Liefie het toe onderneem dat eendag ons kinders so selfstandig sal grootmaak en hulle van kleins af aan mense en situasies blootstel. So gesê, so gedaan.

Dis moeilik in Johannesburg. Ek het begin deur daagliks met Arjun in sy waentjie te stap. Ek kry bietjie vars lug, hy leer om deur die geblaf van honde te slaap. Ek bly in ‘n stil woonbuurt, het nooit op besige tye gaan stap nie, maar tog het motors glad nie stadiger gery as hulle ons gewaar nie en een of twee het selfs getoet en handgebare na my kant gemik!

As mens met die kar uitgaan is daar nie spesiale parkeerplek vir ma’s nie. Wat beteken jy sukkel jou vrek om die kar deur wyd genoeg oop te maak om die stoeltjie uit te haal. (Ek het nog net een sentrum teegekom wat wel die parkering het). Hysbakke word nie duidelik gemerk nie en is baie keer maar yl gesaai. Binne in winkels is die loopplek so nou jy kan maar vergeet om ‘n waentjie gestoot te kry. Almal wil aan die baba vat!! (!!). Borsvoedingfasiliteite bestaan nie. (Dankie Clearwater, julle kamer is netjies). Ek het myself tot dusver tot Woolworths se aantrekhokkies gewend, wat goed werk, maar hoe moeilik sou dit vir hulle wees om ‘n hokkie permanent af te staan? Hulle is tog groot voorstanders van all things natural. Dieselfde geld vir ‘n ma wat klere wil aantrek. Die waentjie pas nie in die hokkie. Maak hokkies vir ouers! Sodat ‘n kleuter ook kan inpas!

Ek druk maar deur, dit lyk asof Arjun vreeslik sosiaal is en hy geniet dit baie meer om in die winkels rond te lê as om by die huis saammet sy ma te kuier.

Ek kry ook die gevoel dat mense eintlik ‘n pyn kry as jy ‘n baba uitneem. ‘n “bly by die huis man” kyk in hulle oë kry. Se gat.

Miskien moet ek my werk bedank en myself beywer vir baba- en kindervriendelike plekke. Ek wil nie eers dink hoe mense in rolstoele oor die weg kom nie!

Advertisements

Bloedbad

Dis Maandag Arjun se 6 week verjaarsdag (soos sy nefie sê: he’s so lucky, it’s his birthday every Monday). Tot dusver het ek niks van die “it’s all a blur”, ek weet nie of ek kom of gaan gevoelens gehad wat nuwe ma’s het nie. Ek weet ek’s baie gelukkig dat hy goed drink, goederig slaap (my mamma/pappa/ouma/tannie/Mina se bors is darem baie lekkerder as my kot), maar dis op oggende soos vanoggend wat ek besef klein babatjies is nie ‘n grap nie, maar die enigste manier om dit te oorleef is om te lag!

Net toe ek die outjie se doek begin ruil, begin my neus bloei. Half deur die wind en nog nie heeltemal wakker nie druk ek die wetwipe teen my neus. Piepie en al. Kom toe agter dit werk nie en probeer om nie op baba te drup nie, gryp ek toe maar ‘n skoon doek om die bloed te keer. Pampers Premium werk nogal goed! Intussen besluit meneertjie om gebruik te maak van die koel lug op sy boude en piepie en poef hy bietjie sonder sy doek. Hou toe glad nie van daai gevolge nie en begin skree, want hy’s honger ook.

Nou aan wat gee mens aandag? Met ‘n baba onder my arm (kaalgat, nie heeltemal skoon nie) en ‘n weggooidoek oor my gesig, strompel ek toe maar badkamer toe. Dis ‘n bloedbad. As my neus bloei dan bloei hy. Vir lank. Dis eintlik al van kleintyd af ‘n groot probleem vir my.

Intussen roep ek om hulp vir Ouma om te kom, maar sy’t gaan stap. Liefie is werk toe. Mina is nog nie op diens nie en Arjun skree. Met ‘n groot gesukkel en ‘n halwe rol toiletpapier (die doek is darem vervang) kry ek hom aan die drink, maar ek gaan omtrent dood van versmoring en bloedverlies.

Ouma kry haar S.O.S oproep en hardloop terug om te help, met al die bloed gaan sy omtrent in skok in. Arjun drink nog lekker en weet van niks nie.

Moral of the story: as jy 4kg weeg en 53cm lank is wen jy altyd. Maak nie saak wie die teenstander is nie.

Posted with WordPress for BlackBerry.