Vele hande ligte werk

Al het ek as kind met ‘n voltydse inbly bediende grootgeword, het die aankoms van Willemina, my nuwe voltydse inbly bediende, nie Maandagoggend my hart met sang vervul nie. Ek en Liefie het tot dusver goed reggekom met ou Stefina wat twee keer ‘n week ingekom het om stof rond te skuif (sy’t nie juis meer skoongemaak nie, ook maar goed sy’t nou afgetree) en om Liefie se werkshemde te stryk (baie belangrik, aangesien ek glad nie stryk nie) en ek voel nou soos ‘n vreemdeling in my eie huis.

Ons het die besluit geneem om ‘n voltydse bediende te kry met die oog op die nuwe baba en siende dat elke liewe bababoek nuwe ouers aanmoedig om soveel hulp as moontlik te kry, maar in hierdie interim periode raak ek nou effens kriewelrig… Dit irriteer my al genoeg om nie by die werk te wees nie, om nou nog elke dag ‘n skedule te moet uitdink vir my nuwe werknemer gaan my laat crack. Verder is die huis eintlik maar klein en ons behoeftes min, daar is (nog nie) so baie werk nie. Ek het maar altyd die basiese skoonmaak self gedoen, self die wasmasjien en wasgoed hanteer, dieselfde met die skottelgoedwasser. Nou’s daar iemand wat ek eintlik betaal om dit te doen wat hande in die sye staan…

‘n Ruk terug vra Sweedse vriende van ons (wat intussen vir 2 jaar die skuif na SA gemaak het) hoe die hele bediende ding in Suid-Afrika werk, want dis vir hulle vreemd om iemand in hulle spasie te he. (Hulle het darem na een keer se self grassny ‘n tuinjong gekry – hulle huur ‘n huis met ‘n moewiese erf in Craighall). Ek het lekker braaf gese “ag man, meeste van ons word so groot, so mens raak maar net gewoond”. Ek het geen probleem met in die huis wees met my suster se Willemina of my ma se Sylvia of ‘n ander vriendin se Hannah nie. Ek drink lekker aan die tee as die skinkbord daar neergesit word, maar somehow kan ek myself nou net nie begin indink as die “Madam” nie.

Hierdie bediende kort nie opleiding nie, sy’t immers jare vir ‘n ander huisgesin gewerk, ek kan al klaar sien dat die huis skoon lyk en die strykwerk is netjies, maar wat nou en wat nog? Ek is nie ‘n Madam se gat nie.

Advertisements

11 thoughts on “Vele hande ligte werk

  1. BB Januarie 11, 2011 / 3:16 nm

    Ek is nou al 5 jaar ‘ousie’-loos… en all-of-a-sudden het dit my nou vir die eerste keer in al daardie tyd begin ‘vang’. Ek is ôp! Op-gemop! :mrgreen:
    Die strykgoed laat doen ons nou al vir baie lank by die wassery – Eenkeer per week laai ek daar ‘n bondel af wat gestryk moet word, maar verder doen ons alles self (darem saam, maar steeds self). En toe ek gisteraand (mens begin mos maar half so ‘n bietjie roetine vorm) die kombuisvensters poets, tref dit my en daar eindig ek uiteindelik op in ‘n jammerhartige hopie snot-en-trane uit die niet… en ek weet nie wat dit is nie, maar ek is opgesuig ook. En die hemelse (helse spul) skuifspieël-deure in die kamer wag vir my dié week nog.
    Jy hoef nie te “Madam” nie; maar ai, behalwe vir die begin se j(n)euk, sal jy die een of ander tyd dié stil skim gewoond raak en sy jou. En dit kán pure hemel raak! Gee vir haar ‘n ander ‘naam’ wat sy jou kan noem – my Gladys het my desjare ge”Nô” – (seker oor té groot – lees té oud 😉 was vir “Nonna” of “Nonnie”).
    Ontspan en geniet en waardeer dit!

    • netjane Januarie 11, 2011 / 3:28 nm

      Plaas jy nou dinge in perspektief BB – ek moet dit waardeer. In Swede het hulle ‘n term: “dagens ilandsproblem” – soortgelyk aan die Afrikaanse “kla met die witbrood onder die arm”. Dis basies ‘n probleem wat mens net ervaar as ‘n probleem omdat jou lewe andersinds so goed vlot. My gekla oor ‘n ousie is eintlik bourgeois. Duidelik ‘n ilandsproblem!

      Willemina roep my nou “Mamma” – nie die stadige “Mama” van Afrika nie, maar die kort Afrikaanse “Mamma”, want met my hoogswanger pens is dit duidelik wat ek gaan wees! 😉

      Sterkte met die vensters, laat my dink aan ‘n sin uit een van John Irving se boeke uit: “Keep passing the open windows”.

      • Son Januarie 11, 2011 / 4:05 nm

        Jy (en jou baba) gaan nog baie lief raak vir Willemina. Goeie “ousies” is ‘n geskenk uit die hemel. Ek het nie meer klein kinders nie, of enige ander kinders in die huis nie, so ek maak self skoon en sal ook nie nou meer my spasie wil deel nie. Maar toe die kinders klein was, was Jeanette haar gewig in goud werd.

  2. Jan Twak Januarie 11, 2011 / 3:49 nm

    Vandat ons ousie my in my tiervelonderbroek gesien het, werk sy dat dit klap en die huis is silwerskoon!

  3. toortsie Januarie 11, 2011 / 4:21 nm

    Ek het al die jare vir Eva gehad. ons was LIEF vir haar, sy was amper een van die gesin. Maar ek het die meeste inisiatief aan haar oorgelaat. Deesdae met baie min kinders oor in die huis, leef ons sommer bo-oor die vullis. Kate kom 2 dae per week in – een dag maak sy skoon en die ander dag stryk sy. Ruite word 1x per jaar gewas… Ek het gelukkig borde, hoef nie van die vloere af te eet nie. Maar soos almal hierbo reeds noem – geniet die weelde!! en die baba!!

  4. Twilight Januarie 11, 2011 / 5:22 nm

    Kan net beaam wat die ander sê: Mens raak dit een of ander tyd gewoond. Ek het vreeslik geskop daarteen. Wou als self doen, maar ai… wanneer die kinders eers op die ouderdom is dat hulle van mors aanmekaar gesit is, dan bars mens. Ek het nou ‘n tweede Thobile gaan huur wat maak dat daar nou Maan-Vry iemand is. So kan ek my aandag aan die kinders gee met die tuisonderrig en wanneer die nuwe baba kom sal dit ook makliker wees. Sterkte nietemin, dit IS ‘n aanpassing.

  5. PlaasJuppie Januarie 11, 2011 / 6:19 nm

    Gisteraand halftien het ek ‘n breinflatus gehad …of dalk was dit net ‘n breinfloute… terwyl ek besig was om die kantoor se vloere te was sodat ek kliente kan ontvang vandag.
    Huiswerk maak van my ‘n lelike en bitter mens wat onreine gedagtes jeens die vervaardigers van moppe en stofsuiers koester en wat ookal die huiswerkers vra, ek sal dubbel betaal. Ok dit was twee breinflatusse maar wie tel in elk geval.

  6. demoerin Januarie 12, 2011 / 9:05 vm

    Ek haat stryk, maar het ookal aan myself bewys ek sal nie doodgaan daarvan nie. Ons het ‘n baie oulike houseboy. Shevland kom elke Vrydag vir skoonmaak. Die lekker ding is dan ook, hy kan beddens en kaste sonder te veel moeite rondstoot ens. Definitief ‘n pluspunt om ‘n man-bediende te hê. My plafonne is ook MOER hoog, so as ‘n globe blaas… TADA – Shevland doen sy ding! Ek dink as ek eendag moet trek… gaan Shevland saam!

  7. Willa Januarie 13, 2011 / 12:57 nm

    Ons het sonder die huishulpe groot geword, maar soos ons self kinders gekry het, het die nodigheid ontstaan vir ‘n huishulp. Ek was nooit dankbaar en het baie gekla, noudat ek weer aan die anderkant van die heining staan en alles self doen besef ek dat alles nie altyd maklik was nie. Sy mag dalk by ander mense gewerk het, maar maak jou huishulp volgens jou hand wys, sy sal nog goudwerd raak vir jou. Onthou die dae wat jy alles gedoen het, die seer die moeg, wees toeganklik maar ferm, respekteer en verdra. My 2c.

  8. ekisanna Januarie 14, 2011 / 10:40 vm

    Asseblief! As jy haar nie wil he nie, stuur haar vir my. My Maria het twee jaar gelede werk gekry by die munisipaliteit vir baie meer as wat ek haar ooit kan betaal. Voor dit het sy sestien jaar by my gewerk en vandag is ek trots om haar “vriendin” te noem. Vandat sy weg is het ek die een fiasko na die ander gehad wat huishulpe aanbetref. Soveel so dat ek nou maar so nou en dan wanneer die strykgoed dreig om my onder te kry, iemand kry om te kom stryk…. vir die res is ek saam met Toortsie.

  9. cat@juggling act Januarie 14, 2011 / 10:55 vm

    Ek moet se dat sonder Lucy sou ons verlore gewees het. Lekker om jou te ontmoet.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s