‘n Oop boek

Ander mense raak verveeld en dan is die ander onskuldige bloggers (soos ek) deel van die collateral damage.

Beide DMI en Nelba het my getag om myself bloot te stel aan ‘n vrae-vraery. Ek het gedink na bykans 3 jaar van blog sal almal alles van my weet, maar kom ons sien!

Julle kan vra net wat julle wil en ek sal eerlik antwoord. So maklik soos dit.

Ek tag vir:

Jan Twak

Murphy

Boendoe

 

 

 

Advertisements

Jou naam gat maak

Demoerin vra dat ek ook moet vertel van die dag toe ek my naam lekker vergat het. Ek moes mooi dink, aangesien ek dit nogal gereeld regkry, veral omdat ek ‘n geneigdheid het om nie my mond te hou nie…

In 2005 trou my vriendin in Italie met ‘n Italianer. Jane is ‘n strooimeisie en oor epos word my mates aangestuur Londen toe (waar my vriendin in ‘n hotel werk) en die rok word oor die internet bestel. Dit klink al of dit ‘n geneuk kan afgee, maar ek kom ‘n week voor die troue in Milan aan en alles pas perfek! Ek bly die week voor die troue by die bruidegom se ouers, met hulle (en hy) wat omtrent geen Engels praat nie en ek wat geen Italiaans praat nie. Vriendin tolk woes heen-en-weer. Ek eet soos ek nog nooit vantevore in my lewe geeet het nie (“Mange” het die omie elke dag vir my geskree – Eet!). Elke aand pas ek maar die rok aan vir die wis en die onwis, aangesien ek vermoed het die etery kan ‘n probleem afgee met die made-to-measure deur-die-pos rok. If only.

As deel van die pre-wedding ceremonies is daar toe een aand (nog) ‘n ete. Van die gaste het al gearriveer en met die dat my vriendin in ‘n hotel in Londen werk is daar ‘n klomp uiteenlopende kulture tussen die Afrikaanse en Italianers ingegooi. Ons eet. En drink wyn. En drink wyn. En drink wyn. Een van die gaste is ‘n god. Alles wat mens dink van Italiaanse mans, net beter. Hy flirt natuurlik te lekker met al die vroulike gaste en al die vroulike gaste flirt terug. Veral met al die wyn. (Liefie kom my eers later vir die troue ontmoet, so ek flirt ook maar halferig…) Die aand is jolig en luid. Almal praat in tale (letterlik) en met die groet slag begin almal heen-en-weer soen. Klapsoene op die wang vir die Italianers, mond soene vir die Afrikaanse tannies, wang-wang-wang vir die Franse (ek dink). In die internasionale soen fees gebeur dit toe ook so dat ek vir die god moet totsiens se/soen.

Behalwe dat Jane teen daai tyd al goed gekoring is en met al die duisende soene wat reeds uitgedeel is kry die Italianer toe (per ongeluk, regtig!) ‘n halwe soen op die mond van my af.

Doodse stilte heers skielik in die vertrek. Die bruidegom staan daar met ‘n “wat_de_fok” uitdrukking op sy gesig asof ek die pous beledig het. Die bruid lag haarself pap, want sy sien natuurlik wat gebeur het en dat ek net so geskok is deur die skielike stilte en sy begin woes in Italiaans tolk. “You must never!!” fluister die bruidegom vir my. Die god gee my ‘n vet knipoog en hy’s daar weg.

Die dag met die troue het ek maar gefokus op air kisses.

Die deur-die-pos rok.

 

Pay it forward tag

 

Ek het myself daar by Son in die “moeilikheid” gekry, omdat ek nooit my mond kan hou nie en nogal van ‘n uitdaging hou.

Dis hoe dit werk:

Ek belowe hiermee plegtig om aan die eerste 5 mense wat by hierdie inskrywing kommentaar lewer, voor die einde van 2011 iets te pos wat ek self gemaak het. Met my eie twee hande. (Dis baie belangrik dat ek myself tot die einde 2011 gee, want ek is ‘n verskriklike uitsteller, maar beloftes maak skuld).

Sorg asb dat jou kommentaar ‘n geldige e-pos adres het, want ek is nie lus vir inspekteur Snuffels speel as dit nodig is om die gelukkige wenners te kontak vir ‘n posadres nie.

Onthou dan net, in hierdie lewe is niks vir niks nie en sodra jy as een van die eerste 5 kommentaar lewer, speel jy ook saam. Wat beteken jy vervat dan weer die belofte op jou blog/ Facebook en so gaan die storie aan.

Omdat ek al vantevore geblog het oor hoe lief ek vir chai is en vandat ek die spesery resep by Liefie se ma kon afbedel (have spice grinder, will grind), sal my handgemaakte produk ‘n botteltjie tee masala wees.

Nou vir die kommetators. Mooi dink!

Vele hande ligte werk

Al het ek as kind met ‘n voltydse inbly bediende grootgeword, het die aankoms van Willemina, my nuwe voltydse inbly bediende, nie Maandagoggend my hart met sang vervul nie. Ek en Liefie het tot dusver goed reggekom met ou Stefina wat twee keer ‘n week ingekom het om stof rond te skuif (sy’t nie juis meer skoongemaak nie, ook maar goed sy’t nou afgetree) en om Liefie se werkshemde te stryk (baie belangrik, aangesien ek glad nie stryk nie) en ek voel nou soos ‘n vreemdeling in my eie huis.

Ons het die besluit geneem om ‘n voltydse bediende te kry met die oog op die nuwe baba en siende dat elke liewe bababoek nuwe ouers aanmoedig om soveel hulp as moontlik te kry, maar in hierdie interim periode raak ek nou effens kriewelrig… Dit irriteer my al genoeg om nie by die werk te wees nie, om nou nog elke dag ‘n skedule te moet uitdink vir my nuwe werknemer gaan my laat crack. Verder is die huis eintlik maar klein en ons behoeftes min, daar is (nog nie) so baie werk nie. Ek het maar altyd die basiese skoonmaak self gedoen, self die wasmasjien en wasgoed hanteer, dieselfde met die skottelgoedwasser. Nou’s daar iemand wat ek eintlik betaal om dit te doen wat hande in die sye staan…

‘n Ruk terug vra Sweedse vriende van ons (wat intussen vir 2 jaar die skuif na SA gemaak het) hoe die hele bediende ding in Suid-Afrika werk, want dis vir hulle vreemd om iemand in hulle spasie te he. (Hulle het darem na een keer se self grassny ‘n tuinjong gekry – hulle huur ‘n huis met ‘n moewiese erf in Craighall). Ek het lekker braaf gese “ag man, meeste van ons word so groot, so mens raak maar net gewoond”. Ek het geen probleem met in die huis wees met my suster se Willemina of my ma se Sylvia of ‘n ander vriendin se Hannah nie. Ek drink lekker aan die tee as die skinkbord daar neergesit word, maar somehow kan ek myself nou net nie begin indink as die “Madam” nie.

Hierdie bediende kort nie opleiding nie, sy’t immers jare vir ‘n ander huisgesin gewerk, ek kan al klaar sien dat die huis skoon lyk en die strykwerk is netjies, maar wat nou en wat nog? Ek is nie ‘n Madam se gat nie.

Die jaar wat was

WordPress stuur vanoggend vir my ‘n mooi opsomming oor my blog vir 2010. Dit maak my eintlik skaam – hulle meen nog as ek ‘n knoppie druk kan ek die data op my blog publiseer, maar dit sal beteken dat ek moet erken dat my mees populere posts uit 2008 dateer. WordPress sit ‘n positiewe “spin” daarop: “your blog has staying power!”.

Wat het ek in 2010 gedoen? Dit pla my nou al van voor die 31ste Desember af, want ek wou graag ‘n stocktaking blog gedoen het, bietjie planne vir 2011 gemaak het en oor die algemeen maar net ordentlik afskeid geneem het van nog ‘n jaar. My baie eenvoudige antwoord op my 2010 vraag is dit: ek was besig. So besig soos ek eintlik nog nooit in my lewe was nie. Te besig. En nie altyd met dit wat saak maak nie.

Ek is in Februarie as ‘n direkteur by ons firma aangewys en met dit het daar hope werk en verantwoordelikheid gekom. My departement was nie winsgewend nie, daar was potensiaal, maar iemand moes omgee. Daai iemand was ek. Toe ek hier aan die einde van Maart partytjie by my huis hou om te vier (as ek nou daaraan dink pyn my kop sommer weer!) het ek regtig nie gedink die goeie wense en prestige gaan net so ver gaan nie. Ek het lang ure gewerk, na-uurs by die huis het Liefie my gehelp met beter sisteme implementeer, ek kon darem twee nuwe werknemers aanstel en eweskielik was ek nie meer heeltemal deel van die cool kids club nie, want ek was ‘n “baas”. Maar, ek kan vandag met trots se dat my departement die finansiele jaar in die groen gaan afsluit, die department het genoeg wins gemaak om bonusse te betaal en die firma as ‘n geheel doen baie goed.

In Mei is ons Dubai en New York toe – ‘n vriendin vra my ‘n week terug hoe het ek New York geniet, toe kon ek nie eens onthou ons het gegaan nie! Ek is mal oor travel, dis waarop ek die maklikste geld uitgee en in my kop loop ek altyd en droom oor die volgende bestemming. Van New York af het ek met ‘n ekstra stukkie gewig teruggekom in die vorm van ‘n swangerskappie…

En van toe af is my goed geordende lewe eintlik in paniek ingegooi. Dis iets wat ons beplan het, maar ek het nou regtig nie gedink dit gaan so vinnig gebeur nie! (Kom my ma se woorde aan my as ‘n tiener nou weer klokhelder terug: Sussie, ons familie is baie vrugbaar, my ma het gese as die man nog net sy broek oor die bedstyl hang is ons vrouens al swanger.) Quite.

Aan die einde van April het ons ‘n erf op ‘n balju veiling gekoop en as ‘n aktevervaardiger pyn dit my om dit te erken, maar ons kon eers op 15 Desember transport neem – die transaksie het in die hof ‘n draai gaan maak en vir ‘n prokureur om aan die ontvang kant van regspapiere te wees is glad nie lekker nie! Die transaksie het swaar op my hart gerus, omdat dit so ‘n groot droom van my en Liefie is om ons eie huis te kan bou – so ek hoop alles werk nou verder goed uit. Die huisbou planne sal wag tot 2012, ek vermoed ek gaan nie veel omgee oor badkamers en kombuise met ‘n nuwe baba nie.

So alles in ag genome was 2010 vir my ‘n goeie jaar, maar ek het nie genoeg na myself, Liefie en my tyd om gesien nie. Dis ‘n les wat ek moet leer.

Vir 2011 is daar reeds ‘n klomp opwindende dinge wat wag, die eerste daarvan natuurlik die baba wat teen einde Januarie sy verskyning behoort te maak – ek is vreeslik opgewonde en bang en opgewonde en bang en opgewonde en soms net bang… Teen Julie sal ek weer terug gaan werk toe en dis vir my sleg om my semi goed-geoliede masjien nou te los net wanneer dinge begin lekker loop – dis die control freak in my, nog iets waaraan ek moet werk.

In Augustus trou vriende van ons in Berlyn en ek sien baie uit om die troue by te woon. (Ek verbeel myself solank reis met ‘n baba is net plesierig!).

Liefie het hierdie jaar groot uitdagings by die werk en ek voorsien dat hy lang ure gaan moet werk, weer nou nie eintlik iets wat by babas pas nie.

2011 is dan ook die jaar waarin ek 30 word. Vir nou gaan ek niks verder daaromtrent se nie.

Beste wense vir 2011. Dankie vir al die getroue lesers (al antwoord ek nie op kommentaar nie, ek waardeer dit). Aan al die ander bloggers – ek lees daar by julle, belowe!

Hou die blink kant bo. 🙂

Ek trek vir 2011 my rose glasses aan (nevermaaind net die tint, ek gaan groot) . Hierdie paar het sommer liggies wat flits en tekere gaan ook. Hee-haw 2011!