Kersboom

Ek het gisteraaand die kersboom opgeslaan. Ek vermoed die korrekte werkwoord is “opgesit” of so iets, maar vandat ek kan onthou is opslaan die woord wat in ons familie gebruik word.

Dit was vir my soos ‘n episode van die “Travel Channel”. Ek en Liefie probeer iets wat as ‘n kersversiering kan dien te koop in elke land wat ons besoek en gisteraand se uitpak het my toegelaat om al ons reise weer te herleef. Natuurlik, toe ek deur ons fotos kyk besef ek in hoeveel lande ons niks gekoop het nie, maar nou ja, as is verbrande hout en ek het mos al geblog oor en ek Liefie wat baie goed is daarmee om iets te wil hê en dan nie te koop nie!

Die Kersboom lyk vir my pragtig en in Liefie se woorde “rather tarted up”, maar ek en hy het gisteraand te lekker gesit en na die flikkerende liggies gekyk.

Van die versierings op die boom lyk so (met die land se foto en ‘n storie wat daarby pas):

 Indie was die eerste plek waar ek Kersfees uit Suid-Afrika spandeer het, maar toe ons in die kleinste klein dorpie sit op Kersaand en twee seuntjies kom met hierdie poppies te voorskyn as geskenke vir ons, toe smelt my hart darem. Indie is ‘n land waarvoor ek baie lief is en ek sal graag teruggaan!

Nog ‘n land waaroor ek net goeie herinneringe het is Japan – ek skat dis deels omdat ek daar wittebrood gehou het, maar alles van die land het my aangestaan, die mense, die kultuur, die besienswaardighede. Hierdie “7 Lucky gods” het klokkies in en maak die mooiste geluid as mens aan hulle raak.

Japan is natuurlik propvol “cute” goed om te koop en mens kan eintlik ‘n hele kersboom se versierings daar koop! (Ek vermoed Liefie sal my nie toelaat om ‘n Hello Kitty kersboom te he nie…)

In Argentinie het ons hierdie “Nativity scene” gekoop en dit was vir my goed om een sonder sneeu te sien. Aangesien ons verlede jaar met Kersfees in Argentinie was, is hierdie die eerste jaar wat ek dit kon uitpak en ek het eintlik al vergeet hoe dit lyk!

Hierdie absolute verlatenheid in Patagonia het my laat terugdink aan die rit af see toe deur die Karoo elke Desember vakansie.

In Delft het ons ‘n pakkie Delft-blou kersfees balle gekoop – die goed was so vrek duur, ons kon net die drietjies bekostig!

My heel gunsteling kersversiering kom uit Rusland en as ek nou terugdink is ek vreeslik spyt ek het nie meer as 1 gekoop nie. Die kersvader is vir my so mooi dat ek hom eintlik heeljaar in die huis sal uitstal.

In Venesie is ons na die eiland van Murano wat vir die glaswerk bekend is. Dis ‘n regte “tourist trap”, maar ons kon darem hierdie twee glas engeltjies koop.

Ons het van Oostenryk af vir ‘n naweek na Venesie toe gery en was in die winter daar, wat eintlik die ervaring baie beter gemaak het, want ek verstaan dis verskriklik besig en stinkerig (volgens my pa) in die somer.

My tyd in Swede het ook natuurlik gulde geleentheid verskaf vir kersversierings koop en ek kon pakke en pakke glasballe koop deur na Kersfees op die uitverkopings te gaan shop. (Mens sukkel so om mooi glas versierings in Suid-Afrika te kry, hoekom is dit so?). My gunsteling Sweedse versierings en veral omdat dit so tradisioneel is, is die rooi voeltjie hieronder. In Swede (Dankie Ikea!) het ek ook die wonderlikste liggies gekoop wat met batterye werk, so mens kan die enige plek gebruik en jy hoef nie met koorde en kragproppe te sukkel nie.

Ons boom word verlig deur kersliggies uit Liefie se kleintyd uit. Eintlik voor dit, die liggies was al die jare in sy ma en pa se winkel as kersversierings gebruik, dit raak nou eintlik heel delikaat en breekbaar om te gebruik en Liefie moes die stel al so ‘n paar keer herbedraad, maar die detail op die liggies is te mooi.

Wat van ‘n kersboom-tag?

Advertisements