A rose by any other name

Ek en Liefie stamp tans kop oor baba name. Nie omdat een van ons enige idees oor ‘n naam het nie, maar bloot omdat ek al hoe meer bekommerd raak oor die feit dat ons nie ‘n naam het nie en hy veels te rustig hieroor lyk.

In die Gujarati Indiese gemeenskap kry ‘n baby sy/haar naam op die 7de dag na geboorte. Die tyd en datum van geboorte bepaal die voorsetsel van die naam en daarvandaan word ‘n naam gekies. ‘n Priester gee die lys voorsetsels (byvoorbeeld Pra/Am/Ro), mens kies een en kies dan ‘n naam. By die benamingseremonie word die naam en die kind dan aan die familie en vriende voorgestel. Sekere heilige woorde en aksies word gedoen, ‘n nuwe stel klere word vir die baba aangetrek nadat sy/haar naam aangekondig is en die baba is dan “gedoop”. Jy sal dus selde kry dat ‘n Indiese persoon jou voor die geboorte van jou baba vra of jy al aan ‘n naam gedink het.

Dis tans die vraag wat ek die meeste kry. Ek dink die Wit/Indiese baba is vir meeste mense ‘n interessante verskynsel en die meng van kulture ook en tot nou was ek en Liefie maar net ek en Liefie, maar nou’s daar ‘n nuwe toevoeging wat ‘n mengsel van die twee van ons gaan wees, so dit pla my glad nie dat mense so belangstel nie, maar ek voel ek het ‘n groot verantwoordelikheid teenoor hierdie babatjie, aangesien hy nie net ‘n Suid-Afrikaner gaan wees nie, maar ook ‘n Afrikaner en ‘n Indier. Mens moet weet waar jy vandaan kom en kultuur is nie iets wat mens sommer net weggooi nie en dis hoekom ek wil he dat sy naam dit weerspieel.

Ek gaan nou waarskynlik ‘n paar mense kwaad maak, maar ek wil nie ‘n naam he wat bietjies-bietjies van ander name is wat saamgeflans word nie. Ek wil nie ‘n naam he wat net ‘n naam is nie. Ek wil nie ‘n Engelse naam he nie, want niks van die kind gaan Engels wees nie. Ek wil ‘n naam he wat iets beteken en ‘n aanduiding van sy herkoms gee. Ek verkies ‘n Indiese naam, omdat ek van die name en klanke hou en die kind deur Afrikaans te praat daardie deel van sy herkoms sal kan uitleef. En dis waar die haakplek kom.

As ‘n deels Afrikaanse kind wil ek hom nie ‘n te volksvreemde naam gee nie. Oupa en Oupa (om nie eens van die Mamma te praat nie!) moet darem die naam kan uitspreek. En ek hou van die idee dat die naam by die tyd en dag van geboorte pas – volgens my gee dit die kind ‘n plek en houvas op die lewe (hoe stupid dit ook al mag klink om dit te se). As iemand met ‘n naam met ‘n storie (my ouma was Johanna Elizabeth en my ma wou nie vir my ‘n te oudmodiese naam gee nie, toe kry ek Jeanne Liezel) hou ek nogal daarvan dat daar omtrent nooit iemand saammet my op skool/universiteit/werk was met dieselfde naam nie. Ek het daarvan gehou toe ons in Indie na Varanasi (Stad van Lig) gegaan het en Liefie se naam baie glimlagte en vriendelike diens uitgelok het, aangesien sy naam Lig beteken. ‘n Naam moenie net ‘n naam wees nie.

Die Sanskrit name is pragtig, maar ek weet te min om ‘n ordentlike keuse te maak – Liefie lag kort0kort vir ‘n keuse, aangesien die naam dan stok-oud is, iets soos om jou kind Gysbertus te noem. (Jammer aan al die Gysbertusse daar buite!).

My nuutse keuse (en dit hang saam met die Bhagavad Gita wat ek al vir jare lank stuk-stuk lees) is Arjun.

Arjun is volgens legende aantreklik, sensitief, standvastig, braaf,  lojaal teenoor vriende en het ‘n streng pligsbesef. Daar is ‘n gedagtegang wat meen dat ‘n naam ‘n kind se karakter bepaal – en as ek sou kon kies sou ek graag hierdie eienskappe in my seun wou sien.

Advertisements

12 thoughts on “A rose by any other name

  1. Natasja November 1, 2010 / 12:41 nm

    Ek hou ook baie van Arjun. Maar wat dan nou van die voorsetsel vir die maand van geboorte storie? Of is Ar reeds die voorsetsel wat gegee sal word vir die maand waarin jy dink jy gaan geboorte gee? Of is ek nou deurmekaar?

    • netjane November 1, 2010 / 1:43 nm

      Jy’s nie deurmekaar nie, maar ek begin al hoe meer dink as ek ten minste ‘n naam kry waarvan ons albei hou, is dit goed genoeg! 😉

      • Natasja November 1, 2010 / 5:11 nm

        Daai logieka maak baie sin. En ten minste kan jy dan in jou uitnodiging aan die kerkbazaar tannies na die plasent-onder-die-boom diens, ‘n naam neerskryf. 🙂

  2. Roer November 1, 2010 / 9:30 nm

    Beautiful. Nou moet die Afrikaners hom net nie Arrie begin noem nie. 😉 Jy wil nie weet watse afskortings alles van my naam gemaak was nie… ‘n Naam is bitter belangrik. Dis goed dat jy soveel ‘thought’ daarin sit.

  3. Twilight November 1, 2010 / 11:41 nm

    Ek dink ook dis ‘n mooi naam en ek is dit met jou hartroerend eens dat ‘n naam ‘n geskiedenis moet hê of ‘n definitiewe betekenis.

  4. Spear The Almighty November 2, 2010 / 12:21 nm

    Ons baba kom die 25ste November. Dit is ‘n dogtertjie. Ons het steeds nie ‘n naam nie.

  5. demoerin November 3, 2010 / 9:03 vm

    Dis ‘n baie mooi naam. Kort en sterk.

  6. Wip November 7, 2010 / 4:30 nm

    Ja!!!! ek hou van die naam 🙂

  7. rosalindreloaded November 8, 2010 / 5:42 nm

    Jy geweet die Indiense gemeenskap laat dit glad nie toe dat mense aan hulle kop vat nie, omtrede dit die tuiste van die siel is, dus vat mens nie aan die kop nie. Ek dink ek is baie Indies van aard 🙂
    Ek stem ‘n naam se baie van ‘n kind, mens kies nie net sommer ‘n naam nie. Good vir julle dat jul soveel aandag daaraan skenk.

  8. Siener van Rensburg November 16, 2010 / 10:49 nm

    Weet nie wat die naam Schalk beteken nie, maar ken ‘n persoon met daai naam wat al die volgende einskappe het (aantreklik, sensitief, standvastig, braaf, lojaal teenoor vriende en het ‘n streng pligsbesef) cool blog,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s