A rose by any other name

Ek en Liefie stamp tans kop oor baba name. Nie omdat een van ons enige idees oor ‘n naam het nie, maar bloot omdat ek al hoe meer bekommerd raak oor die feit dat ons nie ‘n naam het nie en hy veels te rustig hieroor lyk.

In die Gujarati Indiese gemeenskap kry ‘n baby sy/haar naam op die 7de dag na geboorte. Die tyd en datum van geboorte bepaal die voorsetsel van die naam en daarvandaan word ‘n naam gekies. ‘n Priester gee die lys voorsetsels (byvoorbeeld Pra/Am/Ro), mens kies een en kies dan ‘n naam. By die benamingseremonie word die naam en die kind dan aan die familie en vriende voorgestel. Sekere heilige woorde en aksies word gedoen, ‘n nuwe stel klere word vir die baba aangetrek nadat sy/haar naam aangekondig is en die baba is dan “gedoop”. Jy sal dus selde kry dat ‘n Indiese persoon jou voor die geboorte van jou baba vra of jy al aan ‘n naam gedink het.

Dis tans die vraag wat ek die meeste kry. Ek dink die Wit/Indiese baba is vir meeste mense ‘n interessante verskynsel en die meng van kulture ook en tot nou was ek en Liefie maar net ek en Liefie, maar nou’s daar ‘n nuwe toevoeging wat ‘n mengsel van die twee van ons gaan wees, so dit pla my glad nie dat mense so belangstel nie, maar ek voel ek het ‘n groot verantwoordelikheid teenoor hierdie babatjie, aangesien hy nie net ‘n Suid-Afrikaner gaan wees nie, maar ook ‘n Afrikaner en ‘n Indier. Mens moet weet waar jy vandaan kom en kultuur is nie iets wat mens sommer net weggooi nie en dis hoekom ek wil he dat sy naam dit weerspieel.

Ek gaan nou waarskynlik ‘n paar mense kwaad maak, maar ek wil nie ‘n naam he wat bietjies-bietjies van ander name is wat saamgeflans word nie. Ek wil nie ‘n naam he wat net ‘n naam is nie. Ek wil nie ‘n Engelse naam he nie, want niks van die kind gaan Engels wees nie. Ek wil ‘n naam he wat iets beteken en ‘n aanduiding van sy herkoms gee. Ek verkies ‘n Indiese naam, omdat ek van die name en klanke hou en die kind deur Afrikaans te praat daardie deel van sy herkoms sal kan uitleef. En dis waar die haakplek kom.

As ‘n deels Afrikaanse kind wil ek hom nie ‘n te volksvreemde naam gee nie. Oupa en Oupa (om nie eens van die Mamma te praat nie!) moet darem die naam kan uitspreek. En ek hou van die idee dat die naam by die tyd en dag van geboorte pas – volgens my gee dit die kind ‘n plek en houvas op die lewe (hoe stupid dit ook al mag klink om dit te se). As iemand met ‘n naam met ‘n storie (my ouma was Johanna Elizabeth en my ma wou nie vir my ‘n te oudmodiese naam gee nie, toe kry ek Jeanne Liezel) hou ek nogal daarvan dat daar omtrent nooit iemand saammet my op skool/universiteit/werk was met dieselfde naam nie. Ek het daarvan gehou toe ons in Indie na Varanasi (Stad van Lig) gegaan het en Liefie se naam baie glimlagte en vriendelike diens uitgelok het, aangesien sy naam Lig beteken. ‘n Naam moenie net ‘n naam wees nie.

Die Sanskrit name is pragtig, maar ek weet te min om ‘n ordentlike keuse te maak – Liefie lag kort0kort vir ‘n keuse, aangesien die naam dan stok-oud is, iets soos om jou kind Gysbertus te noem. (Jammer aan al die Gysbertusse daar buite!).

My nuutse keuse (en dit hang saam met die Bhagavad Gita wat ek al vir jare lank stuk-stuk lees) is Arjun.

Arjun is volgens legende aantreklik, sensitief, standvastig, braaf,  lojaal teenoor vriende en het ‘n streng pligsbesef. Daar is ‘n gedagtegang wat meen dat ‘n naam ‘n kind se karakter bepaal – en as ek sou kon kies sou ek graag hierdie eienskappe in my seun wou sien.

Advertisements

Sê niks dan is daar niks nie

Ek is nie iemand wat op die koop toe loop met my oortuigings en gedagtes nie. Ek sal miskien vir ‘n pel sê dat ek dink hy/sy is besig om nonsens aan te vang, maar sal nie ure spandeer om die persoon te oorreed my siening aan te neem nie.

Live and let live. Make love not war. Whatever dude, as dit jou gelukkig maak en nie eintlik ‘n impak op my lewe het nie, good for you.

Ek’s seker maar te lui om heeltyd ander te wil oortuig dat ek eintlik reg is. Die enigste plek waar ek in ‘n hewige debat sal betrokke raak is as dit oor my werk gaan. Want kliëntediens, spoedige transaksies en die beste gebruik maak van die regte tot jou beskikking is vir my belangrik.

Wat my tieties egter deesdae lam(mer) maak is al die advies wat ek oor baba grootmaak kry. Het jy nog nie op ‘n naam besluit nie? Die hartjie gaan nie weet waaaaaar hy inpas nie. Het jy nog nie ‘n cot/wiegie/camping cot/karstoel/borspomp gekoop nie? Jy beter gou spring, jy moet gereed wees vir jou baba. Het jy nog nie nagklere vir die hospitaal gekoop nie? Koop dit nou, mens sukkel so om ordentlike nagklere te kry. Gaan jy borsvoed? Mens moet dink oor hierdie goed hoor, jou kind se gesondheid is op die spel.

En my nuwe gunsteling: waar gaan die baba gedoop word?

“Hy gaan nie” laat almal wat die vraag vra in hulle tee stik en angsaanvalle kry. Maar hoekom op dees aarde nie?! *geskokte uitdrukking* *hande wat na die bors toe fladder* *vlakkerige asemhaling*. Want, tannie, nie almal van ons glo dieselfde ding nie. Maar, maar, tuitmond, jy’s dan gedoop. Ja tannie, ek verstaan dit. Ek dink net bietjie anders oor goed. Dan gaan ek vir jou moet bid! En die arme ongebore dingetjie ook. Dankie tannie, tannie is welkom.

En vir dae na die gesprek word ek blootgestel aan “religious bullying”. Ek kan nie aan ‘n ander naam dink nie. Let wel, ek is nie besig om met die ander persoon oor hulle besluite en godsdienstige oortuigings te stry nie. Ek sê niks as hulle hulle meerderwarig teenoor my hou nie. Ek hou my bek, want ek glo dat elke mens geregtig is op sy/haar siening en leefwyse solank as wat dit nie die gemeenskap erge skade berokken nie.  Hoekom word ek aangeval?

Ek’s nou gatvol.

Het gister vir die laaste tannie gesê dat ek nie die baba gaan laat doop nie, maar wel reël vir ‘n Gujarati Chatthi (benamings seremonie wat op die 6de dag na geboorte plaasvind). Sy was sprakeloos. 😈

Van nou af gaan ek sommer sê dat my “doop” gaan behels dat ek die plasenta gaan gebruik as groeimedium vir ‘n nuwe boom in my tuin, sodat die kind altyd kan weet dat hy aan die aarde behoort. Of is dit te erg? 😉

2 Jaar

My Liefste

Toe ek gisteraand by die kamer uitstap en jy met soveel verwondering in jou oe na my kyk en vir die hoeveelste keer vir my se dat ek vir jou pragtig is, toe klop my hart nogsteeds soos die eerste keer wat ek met jou kennis gemaak het. Ons kennismaking kom al ‘n lang pad, nog lank voor ‘n aangesig-tot-aangesig ontmoeting was my hart al joune en tot vandag toe nog dra jy my hart in jou hart. Met soveel sorg en waardering en aandag en liefde pas jy my op.

Ek dink nie ek is altyd die beste vrou vir jou nie, jou hemde is nie altyd gestryk nie en ek steel elke aand die duvet, maar jy bly na my kyk met daai kyk van eindelose liefde en ontsag. Dankie daarvoor. Omdat jy my prins en my held is voel ek elke dag soos ‘n prinses. En al lag jy nou vir my omdat ek groot panties moet dra en my broeke nie meer wil vasmaak nie en ek al stadiger begin loop, sien ek daai liefde wat jy vir my in jou hart dra loop oor vir die baba in my maag.

En ek spot jou oor jou grys hare (wat jou eintlik nog net sexier maak) en jy brom dat jy eintlik vir jou ‘n nuwe 19 jarige moet gaan soek, maar al waar ons wil wees is waar die ander een is.

En ek weet op papier is ons more eers twee jaar getroud, maar vir my sal ‘n ewigheid saammet jou nooit genoeg wees nie.

Ek is, doodeenvoudig, mal verlief op en smagtend lief vir jou.