Daai plek

Eens op ‘n tyd was my blog my “happy place”. Ek het nie ‘n dag begin of geeindig sonder om ‘n draai op my blog en die ander blogs wat ek lees te maak nie. Deesdae is ek so besig dat my blog letterlik die laaste gedagte is wat ek het voor ek gaan slaap. En dis ‘n terloopse gedagte : “ag moer, ek het weer nie geblog nie”.

Dis eintlik sleg om ‘n happy place op te gee of nie die nodige aandag daaraan te wy nie. Daar’s ‘n rede hoekom ‘n aktiwiteit of plek jou in die eerste plek gelukkig gemaak het en al verstaan ek dat behoeftes verander, weet ek nie of mens nie steeds moet vasklou aan die lewe se klein plesiertjies nie.

Die een plesiertjie waarop ek my laaste sent en minuut sal uitgee is om ‘n boek te kan lees. Vandat ek my heel beste geskenk ooit gekry het (my Kindle) het ek double-whammy plesiertjie. Ek kan (met gemak) in die bad lees. Kindle pas in ‘n ziplock sakkie en ek kan myself pruimerig week. Niks blaaie wat nat word of ‘n gesukkel om rakkies gebalanseer te hou nie, net  die eenvoudige druk van “next page” op die Kindle. Dit is regtig gelukkigheid op sy beste.

Tot Liefie se groot ergenis het my Farmville plaas ook een van my nuwer happy places geword. Ek vermoed dit het te doen met die totale breindood aksies wat dit vat om redelik suksesvol te boer. Ek vang op die oomblik erge stres by die werk en die opgewekte en vriendelike graphics van die program staan my aan.

Vandat dit bietjie warmer is ry ek ook elke oggend en aand met my kar se dak af. Happy place galore. Ek hou daarvan dat ek al die nuwe seisoen se reuke en geluide ervaar. Ek hou daarvan om praatjies met die straatverkopers te maak en dat elke liewe een van hulle vir my se dat hulle hard gaan werk om eendag ook so ‘n kar te kan ry. Zama-Zama mama se hulle vir my. Probeer is die beste geweer.

My happiest of happy places is daar waar my man is. Dit kan enige plek wees, solank as wat hy daar is, is ek op my gelukkigste.

Met al die opgewondenheid van swanger wees is dit die een ding wat aan my bly knaag. Ek is redelik selfsugtig oor my tyd en energie en deel dit net per geleentheid met ander mense. Ek en Liefie sien eintlik alreeds min genoeg van mekaar (hierdie week verloop so: Amsterdam, Munich, klein dorpie iewers in SA, klein dorpie iewers in SA, JHB) en ek weet dat hierdie baba tyd gaan “steel” soos nog iets. Wat as ek nie eintlik gereed is daarvoor nie?

Advertisements