Deurtrekker

Vandat ek klein is waarsku my ma my om nie my goed deur te bring nie. Sy’t nooit die term op pas gebruik nie, altyd aangehou met die deur bring. Dit ook vreeslik sleg gevind as iemand wel goeie goed gehad het en dit dan deurgebring het. Doodsonde.

Afrikaans het eintlik ‘n goeie term daarvoor: deur jou gat trek.

Vandag lees ek op Facebook oor iemand wat vir haar “trash the wedding dress photo shoot” gaan en omdat ek toe ek eers dink “dit kan nie wees nie” google ek die storie toe maar. Dit lyk my dis ‘n nuwe trend. Na die troue neem jy fotos in jou trourok terwyl jy goed doen wat jy nie normaalweg in jou trourok sou doen nie, aangesien dit die rok tydens die troue sou beskadig. Soos spring in die swembad, besmeer jouself met sjokolade, hardloop deur lang gras en modder, ry op ‘n perd, klim in ‘n boom – so bottom line (die NetJane weergawe in elk geval) – jy gaan trek jou rok deur jou gat terwyl iemand professionele fotos daarvan neem.

Fok. What a waste. Asof daar nie iemand in hierdie land is wat eerder nut vir jou trourok het nie. Dis die absolute toppunt van die term “verbruiker”. Ek raak nie sommer op my perdjie oor goed nie, maar hierdie tipe storie wil my laat kots. Regtig.

Ek het in die Laerskool gekyk hoe ‘n maatjie op haar broodjies spring omdat sy nie lus was vir konfyt broodjies nie en toe kalm gese dat ek nie meer haar maatjie wil wees nie. Ek probeer nie maak asof ek nooit iets mors nie, maar wragtag, daar’s ‘n verskil tussen per ongeluk te veel rys kook en ‘n trourok opfok.

MILF

Ek kom terug van New York af en my ma is op ‘n dating site.

As iemand wat my man deur die internet ontmoet het sal dit seker “the pot calling the kettle black” wees as ek iets daaromtrent kwytraak, maar dis vir my vreemd. Nie die feit dat sy ‘n metgesel soek nie, maar die hele dating site ding, so half hartseer, maar ek weet daar’s baie mense wat eensaam is en ek weet dat dit moeilik is om mense te ontmoet, so ek ek weet nie eintlik hoekom dit my pla nie…

Ek dink my ma is ‘n vangs. Sy’s aantreklik, goed gebou, slim met ‘n goeie humorsin. Sy’t nie juis bagasie nie en is ‘n free-spirit. Ek wil net he dat sy iemand kry wat vir haar goed sal wees, wat haar sal toelaat om haarself te wees, dat sy kan kry wat sy nog altyd wou gehad het, bietjie pret kan he. Ek weet net nie waar anders sy kan soek nie!

Miskien moet ek ‘n blog reeks begin: Wie wil Jane se ma date?

Any takers? 😉