Argentinie – Tweede bestemming

Tweede bestemming: Salta

Ek en Liefie het oorspronlik besluit om na die noord-weste van Argentinie te kom omdat ons bittergraag op die “trein na die wolke” wou reis. Die trein volg ‘n roete  na Chile toe wat mens letterlik bo die wolklyn neem. Ons het tot ons spyt uitgevind dat die trein eers weer in Maart begin loop, maar aangesien die reisgids Salta as een van die mooiste dorpe in Argentinie beskryf en aangesien mens deur ‘n werelderfenis gebied kan ry het ons besluit om tog vir Salta by ons reisplanne in te sluit.

Ek vind die beskrywing dat Salta mooi is, vreemd. Die dorp le in ‘n vallei, tussen ‘n klomp berge en as sulks is die ligging mooi, maar die dorp is baie soos die ander dorpe wat ons sover gesien het, so half vuilerig en deurmekaar. Die winkels en huise vloei die een in die ander  in, oral is daar telefoonlyne en rondloperhonde. Die plek laat my dink aan sekere dele van die Kaapse vlaktes. Nie heeltemal shacks en townships nie, maar ook nie heeltemal eerstewerelds nie. Die karre hier is verby oud, die mense het te veel kinders, die kafees is te klein en te donker. Teenoor dit staan die goeie buurte, met die tuinjonge en bediendes en groot karre, die polo velde, die privaat klubs en golfbane. Die gaping is groot en mens kan dit aan hoe die mense lyk sien. Dis al of die “beter” klas mens van Spaanse afkoms is en die ander duidelike die inheemse bevolking is. Is dit nie maar amper altyd die geval nie?

Ons het ‘n motor gehuur en noord gery, deur die Quebrada de Humahuaca, ‘n werelderfenisgebied. Dis ‘n groot canyon met rotse in die mooiste kleure en klein dorpies al tussen die heuwels weggesteek. Om ‘n padwyser in Argentinie te wees gaan my voor my tyd oud maak. Die paaie verskyn en verdwyn, padnommers en bestemmingsborde bestaan nie, of bestaan net vir padnommers en bestemmings wat nie op my padkaart is nie, mens deel die pad met koeie, skape, bokke, hoenders en perde, asook die groot ou Ford pick-ups wat hier gery word asof die goed Ferrarris is. Verder volg die Argentyne nie internasionale standaarde deur padaanwysings deur middel van prentjies weer te gee nie, maar sit hulle ‘n groot geel bord op en verduidelik vir jou (in Spaans!) wat gaan gebeur. Dis handig as jy Spaans kan lees. Vir ons beteken dit dat ons die “precaution”verstaan en dan die woord “camino”wat pad beteken, herken. Goed dan, ons weet ons moet iets omtrent die pad oplet…

Ons het dan ook suid gery, deur ‘n tweede canyon, al langs die R68, wat tussen Salta en Cafayate loop. Alhoewel hierdie gebied nie die werelderfenisgebied sticker dra nie, het ek dit baie meer intens ervaar as die ander roete (langs die R9). Die panoramas was vir my groter, nader en die kleure meer intens. Cafayate is dan ook ‘n pragtige dorpie, tussen die berge en wingerde. Baie netjies en glad nie soos die ander dorpe wat ons al gesien het nie. Die winkeltjies is oulik, die restaurante netjies en die hele gevoel was net een van ‘n dorpie wat as naweekwegbreek sal dien. As mens net  1 dag het, sal ek regtig die Quebrada de Cafayate ver bo die Quebrada de Humahuaca aanbeveel.

‘n Vragie vir die wynkenners en boere: in watter toestande groei wyndruiwe die beste? In Cafayate het mens letterlik groot kaktusse tussen die wingerde sien staan. Die goed staan daar in die middel van amperse woestyn. Ek weet in Upington is dit ook so, maar is dit nie tafeldruiwe nie? Die son brand teen 40 grade af en in die middae reen dit.

Ons volgende stop is Patagonia. Ons ruil hitte vir koue – ek sien die temperature vir waarheen ons gaan is tussen 3 en 13 grade… Brr!

Advertisements

Argentinië – Bestemming 1

Iguazu.

Daar waar die muskiete jou deur tabard byt dat die bloed (letterlik) loop, die son jou brand dat jy visioene begin sien en ook die tuiste van die wereld se wydste waterval en ‘n Unesco Werelderfenis gebied. Dis regtig iets om te beleef!

Ek is oor die algemeen nie mal oor oerwoude nie, nie omdat ek tot nou toe enige verwysingsraamwerk gehad het nie, maar omdat ek nie juis van goggas en gediertes hou nie en in die oerwoud kan die goed van bo af ook op jou val. Die miere is so groot soos my duim se eerste lid, die muskiete laat bytmerke waaruit die bloed vloei en die goggas is groot en vat nie nee vir ‘n antwoord nie.  Gelukkig bestaan ons dieet uit vreeslik baie knoffel, so die muskiete het net effens aan my geknibbel, maar ek het ander toeriste gesien wat gelyk het om hulle een of ander dodelike siekte het. Net rooi hobbels wat soos pruime onder die vel lyk,  waar mens kyk.

Ek was vreeslik opgewonde om op ons eerste dag 2 toucans te sien, minder opgewonde oor die iguanas en baie opgewonde oor die coatis, totdat ek agtergekom het dat die goed half soos die bobbejane by Kaappunt geraak het en toeriste eintlik maar net as ‘n bron van kos sien en blykbaar vreeslik aggresief kan raak. Hondsdolheid is nou nie eintlik op my lys van must haves nie. Ek wou baie graag ‘n capabera gesien het, maar nou ja, ek het seker nie hard genoeg gesoek nie. Ons het wel ‘n Capuchin apie met die mooiste gesiggie gesien – ek dink die apie in Night at the Museum is ‘n capuchin apie. Ek het dan ook besluit dat ek ‘n agoutie as ‘n troeteldier wil he. Die ding lyk regtig soos ‘n kruising tussen ‘n marmot en ‘n duiker bokkie. En oral is daar skoenlappers. Duisende skoenlappers. In elke kleur. Amazing.

Dis sleg om te dink dat al hierdie diertjies se habitat daagliks kleiner word.

Die watervalle is pragtig. Daai dun piepiestraaltjies wat ons in Suid-Afrika riviere noem is minder as ‘n stroompie teen hierdie rivier. Ons het aan die Argentynse kant begin en die paadjies en bruggies neem mens tot reg teenaan die watervalle en plek-plek word jy sopnat. Ons het dan ook die taxi-bestuurder se raad gevolg en na die Brasiliaanse kant ook gegaan. Vir R300 het Angel ons van die hotel na die park aan die Brasiliaanse kant en terug hotel toe geneem, al die grenspos werk vir ons gedoen en die 2 of 3 ure wat ons besig was vir ons gewag. Ek is nou nog verbaas dat ek Argentinie kon verlaat, Brasil kon binnegaan, Brasil kon verlaat en Argentinie weer kon binnegaan sonder om een keer uit die kar te klim of om my gesig aan ‘n beampte te wys.

 Dis goed om die twee kante van die watervalle te sien. Van Brasil af sien mens die hele groep valle as ‘n eenheid en kry mens baie mooi ‘n gevoel van hoe indrukwekkend dit regtig is en  aan Argentinie se kant kry jy stuk-stuk  met die groepe valle te doen en besef jy dat dit wat jy van ver gesien het eintlik baie, baie, baie groter is as wat mens eers gedink het. Die volume water en die hoeveelheid reenboe en die konstante geruis van water is asemrowend.

Ek skop nou net elke tweede minuut my eie gat omdat ek nie Spaans praat nie. Die ‘Teach yourself Spanish’ gids en CD’s le nou al seker ‘n goeie 3 jaar in die studeerkamer, maar nou ja. Op die oomblik moet gebare taal maar doen. Ons het vanoggend so beduie dat ons met 1 koppie koffie en 3 croissants opgeeindig het.

Next stop: Salta.

Totsiens 2009!

Ek wou nog behoorlik baai sê voor ek Argentinië toe gaan en ek wou nog vir almal ‘n Geseënde Kersfees toewens, maar die laaste twee weke het so inmekaar gevloei, dat ek nou hier na ‘n groot partytjie sit en ‘n vinnige boodskap tik, voor ek môre oggend vroeg vlieg.

Geseënde Kersfees. Geniet Desember. Die wat vakansie gaan hou -julle verdien dit. Ek’s terug in Januarie, met baie fotos. Belowe.

Hasta la vista baby!