Dis hoe die wêreld werk.

Ek en Liefie hou die afgelope ruk ‘n vink dop terwyl hy sy nessie bou. Die volgende naweek bou dieselfde vink nog ‘n nes reg langs die ander een. “Hy’t groot planne” dink ek nogal by myself. Ons sien vanoggend hoe hy sagte stukkies bossies afpluk om die nes uit te voer en toe ek my hare kam vlieg hy af en gryp die los hare wat val ook. Die arme ding werk hard. Mens sien net flitse geel heen-en-weer vlieg.

Vanmiddag eet ons buite toe ons sien hier’s nou grootskaalse aksie by die een nes. Me(toekomstige)vrou het kom inspekteer. Vinkie dans sy voëltjie dans, dis net vlerke wat gewapper word en tjirp-tjirp-tjirp. Vlieg mooi na die nes se ingang toe “kyk hier poppie, dis waar jy moet ingaan om saammet my te bly”. Poppie bly sit op die tak. Tjirp-tjirp-tjirp, weer na die ingang van die nes toe, wapper-wapper-wapper, hierso! Poppie vlieg met een laaste kyk weg.

Ek het ‘n middagslapie gehad en toe ons nou buite sit vir ‘n koppie tee sien ek die stukkies nes lui afwaarts grond toe val. Moertoe.

Ek dink hardop dat dit soms erg moet wees om ‘n man te wees en lief te wees vir ‘n vrou, elke nou en dan word jy geskop dat jy daaaaaar trek. (Vrouens se harte word natuurlik ook gebreek, maar ek dink altyd mans is sulke patetiese sagte goed dat dit vir hulle baie erger moet wees).

Ek sien die vink is weer besig om takkies uit te kyk en begin weer een te stroop vir ‘n nuwe nes. “Haai Liefie, kyk, hy gaan weer probeer!” (Romantiese ek, wat in liefde en rose en engele wat op harpies speel glo).

“He wants to get laid, babe. Of course he’ll try again. That’s how the world works. The bottom line is that he wants to get laid.”

Dankie Liefie. 😉

Besig ma.

Ek wou eintlik nie gehad het dat ons gesprekke so moes uitdraai nie. Dis darem ook nie al ons gesprekke nie, maar soms is dit net vir my makliker om te antwoord “besig” as sy vra hoe dit by die werk gaan.

Want wat maak die lang ure en die moeilike kliënte vir haar saak? Wil sy hoor dat ek moeg is vir Woolworths ready meals vir middagete, maar dat ek te slapgat is om broodjies in te pak? Weet sy ek was die week se Uno kampioen? Ek weet sy is bly oor my verhoging, ekstra geld is altyd handig my kind en jy werk so hard, maar weet sy wat dit vir my beteken?

Ek antwoord besig, want ek kon hoor die vraag was maar net ‘n vraag om te vra, ‘n verandering in die tempo van die tans skynbaar oneindige stroom van “ek”.

Dude, regtig?

As iemand wat nogal vreeslik baie van taal hou en woorde as ‘n tipe skat hanteer, besef ek vandag dat ek eintlik soos ‘n regte MTV-apie praat. Toe ek myself vandag vir die hoeveelste keer hoor sê  “dude, regtig?” het ek gewonder hoe oud ek is. Ek dink nie ‘n 28 jarige professionele persoon moet mense nog “dude” noem nie. Waarskynlik ook nie “china” nie – ek doen dit ook.

“This_sucks_ASS.  In_a_BIG_way” is waarskynlik ook nie iets wat herhaaldelik gesê moet word nie.

“piiiiiiiiiiiiiiiiiss my af”  (in ‘n mooi wysie gesing) is ‘n ander gunsteling. “Ek gaan crack. Ek sê julle nou. Fokken crack” – volg op elke idioot wat bel.

“Eendag as ek president is”, “whatever”, “suck it up!”, “násty”, “duuuuuuuuude”, “jy love it, jy weet jy doen”, “aw-suuum”.

Dis eintlik verskriklik!

Nou wonder ek of dit is omdat die 6 ander junior prokureurs wat saammet my werk en met wie ek vriendelik is, ook almal jonk is en die hele “vibe”  dus een van absolute malligheid is? Ook, beteken dit ek word oud as as sulke goed my nou begin pla?

(Want dít sal regtig suck. Soos in verskriklik baie. Dude.) 😉

En die derde perd kom derde.

Ek is vandag in so ‘n bui dat niemand met my kan huishou nie. Dis sulke dae wat ek eintlik wens dat ek in ‘n goed befokte bui sommer net goed kan stukkend gooi. Maar ek is nie so nie.  *sug*

Ek het hierdie week ‘n boodskap gekry. Amper soos een van daai in die cartoons. Met ‘n weerligstraal wat jou laat stop en dink: “wait a minute…” Ek ry huistoe en toe tref dit my. In een duidelike sin. Ek is kwaad. Nadat ek daardie emosie geëien het, begin ek toe sommer dink hoekom ek so kwaad is. (Ek het gedink aan daai scene uit Pretty Woman waar Richard Gere in die bad sit en vertel hoeveel duisende dollars dit hom gekos het om die sin te kan sê: “I was very angry…”).

Ek is kwaad oor ‘n duisend klein dingetjies. Daarmee kan ek lewe. Bietjie vloek, grom, ‘n ekstra koffie drink, ‘n paar skoene koop – beter voel.

Wat my egter so ongelooflik debliksem in het is die feit dat ek elke dag so behoorlik die reëls van die lewe volg.

En nogsteeds tweede kom. (Nice guys finish last, of so iets né?)

Fok, ek’s eintlik briesend.

Van kleintyd af hoor ek al hierdie sin van my ma af. Niksseggend, maar soms is dit al wat mens kan sê as daar eintlik niks te sê is nie. Haar weergawe van “Suck it up and deal with it”.

En die derde perd kom derde.

Blink oë en kinderdrome

Van kleintyd af het ek nog altyd ‘n groot fassinasie met die Russiese poppies wat so inmekaar pas gehad. Matryoshka is die regte naam, maar ek noem hulle sommer nog altyd Babushka poppe. Afrikaans het nogal ‘n mooi naam: skilpoppe. Ek weet nie of dit die uitpak en weer terugpak van die poppe is wat my so gefassineerd gehad het nie, maar ek sou omtrent enige iets gegee en gedoen het om so ‘n pop te van my eie te hê. Om nie versigtig (en met spesiale vergunning) my ma s’n uit te pak nie.

Toe ons toe besluit om Rusland toe te gaan het ek heel mal geraak. G’n niks omgegee oor enige iets anders as om so ‘n pop te koop om by my versameling te pas nie. (Mammie het goedgunstiglik haar versameling aan my geskenk). Daai russe het my van ‘n myl af sien kom. Ek kon niks gebargain kry nie, was oop en bloot ‘n “willing buyer”. Liefie het nog die “ag, asseblief, ons het nie jou toeriste crap nodig nie” houding probeer, maar daai tannie het my blink ogies gesien. Poppe en poppe en poppe uitgepak. Totdat my kop gedraai het en ek glad nie ‘n besluit kon neem nie.

Met die versameling poppe voor my sien ek toe ‘n volgende ding raak. En net daar moet ek dit ook hê. Russiese kersversierings. Veral Kersvaders. En net daar gee ons moed op om nog ‘n paar roubles te spaar en gaan aan die koop.

Van al die lande wat ek besoek het sal ek nie Rusland aanbeveel nie, tensy mens alreeds ‘n brandende begeerte het om daarheen te gaan, maar as ek na my pop en my kersvader kyk (hy’s heeljaar op “display” – dis altyd Kersfees in die NetJane huis), word ek altyd vreeslik bly. Dit voel nogal soos “iets” om ‘n kinderdroom te laat waar word.

Matrushka.IMG_5725

Waterskeiding

Laas naweek was nie vir my lekker gewees nie. Dit was lekker om my ouers te sien en lekker om by die see te wees en lekker om nie by die werk te wees nie en lekker om ontbyt in die bed te kry, maar dit was nie lekker om te moet besef: “this is it” nie. My ouers skei. Dit was die laaste keer wat ek hulle saam sou sien. In die laaste huis wat ek nog as ‘n tipe van kinder huis kon beskou.

Ek weet my gedagtes is selfsugtig en draai net om my (waarheen gaan ek vir Kersfees, gaan my kinders nou ‘n ouma en ‘n oupa moet hê en nie ‘n ouma-en-oupa nie, wat doen ek as een van die twee ‘n nuwe geliefde kry en ander belaglike vrae), maar hoe anders hanteer mens so iets? Vreeslik volwasse, rasioneel en standvastig?

Toe ek Maandagaand van die lughawe as huistoe ry, het ek dit nie veel verder as Rivonia afrit op die N1 gemaak voor my trane my ingehaal het nie. Dis donker, daar’s orals padwerke, Jane kan nottefok sien waar sy ry nie, maar ek weet net ek moet by die huis kom (Beyers Naude afrit, vir die wat JHB ken), want my Liefie wag vir my. En toe’s alles beter. Want ek het nou my eie gesin (al is daar miskien nog ‘n paar lede kort), my sussie is hier, met haar kinders, ek het my eie huis, met ‘n kamer wat myne is en ek besef dat sekere goed eintlik in die verlede hoort. Want anders loop mens nooit heeltemal vorentoe nie.

Donderdagoggend wil-wil ek nog kwaad raak vir ‘n kliënt toe my rug met so ‘n “piiiiiiing” geluid (of dis hoe ek dink die pyn sou geklink het) nie meer wil saamspeel nie. En daar sit ek toe, lekker spasma, baie werk, kliënte vergadering die middag en geen pille nie. Dis later die aand toe my suster vir my sê dis omdat ek te swaar dra aan ander mense se issues dat my rug nie meer wil nie. Die rugpyn is simbolies.

Ek voel vandag baie beter (fisies en emosioneel). Ek lees in “Eat Pray Love” ‘n heel eenvoudige sin raak. Die skrywer maak ‘n mantra daarvan en sy verklaar bloot dat sy nie langer enige negatiewe gedagtes gaan huisves nie. Ek dink dis ‘n goeie plan.

Op ‘n heel ander noot: Ek probeer tans om dinge buite my gemaksone te doen. Het toe ja gesê vir ‘n boekklub uitnodiging. Ek raai dis nie die plek vir my as niemand my boeke wou hê om te leen nie…

Ek het die volgende boeke saamgeneem (ek dog nogal dis heel okay boeke en toe wil niemand hulle hê nie!):

  1. I know this much is true – Wally Lamb
  2. Fingersmith – Sarah Waters
  3. The Savage Garden – Mark Mills

Ek weet nou hoekom ek nie goed buite my gemaksone doen nie, want dis nie gemaklik nie.

O JA! Ek is vrek opgewonde: ons gaan Desember Argentinië toe. Ons beplan ‘n road trip al langs Roete 40, wat van noord na suid langs die Andes gebergtes afloop.