Chai chai chai chai chaiiiiiii!

Een van my gunsteling Sondag gebruike is my chai in die middag. Chai, letterlik die indiese woord vir tee, is ‘n lekker melkerige tee met baie speserye in. Chai is nie die klaar verpakte nonsens wat Twinings of wie ookal in Pick ‘n Pay verkoop nie. Dis definitief nie wat mens in koffiewinkels kan bestel nie. Chai is dit wat jy in ‘n stegie in Indië uit ‘n erdeware bekertjie drink. Dit kom stomend uit die kan en word van ‘n hoë hoogte in die bekertjie gegooi om dit sodoende af te koel. Daai bekertjie word dan na die tyd summier op die grond stukkend gegooi en iewers, in ‘n ander stegie, sit iemand en maak weer nuwe bekertjies.

Chai is ‘n tyd om asem te haal. Dit vat langer as gewone tee om te maak, aangesien al die bestanddele in ‘n pot op die stoof gekook word. ‘n Stukkie lemongrass blaar word ingegooi en die los teeblare word sorgvuldig ingemeng. Dan die afmeet van die spesery mengsel. Die spesery mengsel bevat wit en swart peperkorrels, kaneel stokkies, neutmuskaat, kardamom sade, naeltjies en gemmer. Alles word dan saam fyngemaal. Wie’s die gaste? Hot or not? Ek hou van my tee sterk, beide die tee en die skop. Die lekker brand in die keel is vir my ‘n tonic. Net daar voel ek wakkerder. My suster hulle kom ook nou al op Sondae middae aangestap vir hulle koppie chai.

My koppie chai vat my reguit terug Indië toe. Die chaiwalla (outjie wat tee verkoop) wat op en af in die trein se gange loop met een eenvoudige deuntjie wat hy skree: “chai, chai, chai, chai, chaiiiii!” Die nou straatjies in Jaipur met die Indiese mans wat skaam skaam vir my plek maak op die bankie langs hulle en die eienaar van die stalletjie wat probeer verduidelik dat die tee te warm gaan wees vir my en my wit vel. Die westerse hotelle wat ‘n afgewaterde chai vir die toeriste bedien en ons wat net beduie ons soek die “real stuff” en ons wat dan omtrek stik en sluk as ons dan die “real stuff” kry.

Soveel as wat ek in my kombuis probeer om my chai soos die chai in Indië te laat proe, kry ek dit nie reg nie. Ek vermoed dit het iets te doen met die hoog met ‘n boog gooi tegniek van die verkopers, of die erdeware bekertjies, miskien is my kombuis te skoon, die gaste langs my verstaan my te maklik, daar’s nie koeie wat net rondwandel nie, mens ruik nie wierook nie en die kleure wat jy sien is nie skokkend helder nie, maar ek probeer.

Indië, my hart trek ‘n punt na jou toe.

Varanasi

Advertisements

9 thoughts on “Chai chai chai chai chaiiiiiii!

  1. Hanlie Mei 17, 2009 / 5:48 nm

    Jy sal nie raai wat ek nou sit en drink nie… ‘n Koppie chai! Nou wel Pick& Pay se soort en sonder melk, maar darem.

    Jy roep die beelde so pragtig op. Ek het my behoorlik ingeleef in jou storie!

  2. kaalvoetinireen Mei 18, 2009 / 5:15 vm

    Ek love chai!!!!

    Ek het die eerste keer daarmee kennis gemaak in Simonstad by ‘n regte Tibetan tea house en het dit ook uit een van daai erde koppietjies gedrink! Dit is hemels!

  3. demoerin Mei 18, 2009 / 2:25 nm

    Nee hel, na die storie is ek bly ek drink koffie!

  4. Wipneus! Mei 19, 2009 / 8:33 vm

    Wow, dit klink lekker! Ek sal hierdie op die lysie sit: Jane moet my leer regte chai maak!! Ek is ernstig!! :mrgreen:

  5. Pikkelik Mei 19, 2009 / 11:13 vm

    Koffie, koffie koffie, maar jou storie is hemels!!!

  6. rosalindfranklin Mei 24, 2009 / 6:39 nm

    Ja! Ek laaik sulke oorspronklike dinge (nice foto) probeer, en dan ‘n ritueel maak daarvan. dinge van plekke wat die oorsprong in dit vasvat. outentiek.

  7. BB Januarie 14, 2011 / 7:04 vm

    Ek kom nou net hier uit na aanleiding van jou nuutste inskrywing… ek loooooooove chai!
    Ek maak dit net ‘n bietjie andersom.
    Ek sit my spesery in die pot met water, bring dit tot kookpunt en laat dit dan prut (simmer) vir so 10 minute met die deksel op.
    Dan gooi ek warm melk en suiker by (ek drink my koffie bitter en swart, maar ek verkies chai met melk én suiker).
    Bring weer tot simmer.
    Dan sit ek die teeblare by haal van die hitte af en sit die deksel terug.
    Laat dit trek vir so 3 minute.
    Die hele proses is netso terapeuties soos die drink daarvan. Die geure is friggin’ awesome, is dit nie?!
    Ek het nogal agtergekom dat ek moet sorg dat ek vars gemmer gebruik (hahaha – ek sien al hoe gluur jy my aan met ‘n vraagteken tussen die oë – of jy wil sê: “What else???” – maar die verskil tussen vars en poeier gemmer is heeeemelsbreed).
    Ek het gemmer ontdek as een van die mees versatile, subtielste geurtoevoegings tot die meeste disse, dit het een van my geheime bestanddele in alledaagse kook geword – veral as ek met maalvleis werk.
    En met gemmer geld die goue reël: less is more.
    Héérlike post dié een van jou! Ek sal wat gee om Indië te beleef eendag!

    • netjane Januarie 14, 2011 / 8:43 vm

      Beebs, hulle sal vir jou in Indie love! Probeer ‘n stukkie lemongrass bysit. Dit moet eintlik ‘n stuk van die plant se blaar wees, maar ons bos by die huis vrek elke keer as ek ‘n steggie by skoonma kry, nou koop ek sommer so pakkie met 2 stokkies in by Woolworths (R6/R7) en sny ‘n stukkie elke keer af.

      Die speserye waarvoor ek baie lief geword het is kaneel by maalvleis (Garam Masala) en komyn. Veral by aartappels. Yum-Yum!

      Gaan comment by die Pay it Forward tag sodat ek vir jou spesery kan stuur en jy “honest and positive feedback” kan gee!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s