Chai chai chai chai chaiiiiiii!

Een van my gunsteling Sondag gebruike is my chai in die middag. Chai, letterlik die indiese woord vir tee, is ‘n lekker melkerige tee met baie speserye in. Chai is nie die klaar verpakte nonsens wat Twinings of wie ookal in Pick ‘n Pay verkoop nie. Dis definitief nie wat mens in koffiewinkels kan bestel nie. Chai is dit wat jy in ‘n stegie in Indië uit ‘n erdeware bekertjie drink. Dit kom stomend uit die kan en word van ‘n hoë hoogte in die bekertjie gegooi om dit sodoende af te koel. Daai bekertjie word dan na die tyd summier op die grond stukkend gegooi en iewers, in ‘n ander stegie, sit iemand en maak weer nuwe bekertjies.

Chai is ‘n tyd om asem te haal. Dit vat langer as gewone tee om te maak, aangesien al die bestanddele in ‘n pot op die stoof gekook word. ‘n Stukkie lemongrass blaar word ingegooi en die los teeblare word sorgvuldig ingemeng. Dan die afmeet van die spesery mengsel. Die spesery mengsel bevat wit en swart peperkorrels, kaneel stokkies, neutmuskaat, kardamom sade, naeltjies en gemmer. Alles word dan saam fyngemaal. Wie’s die gaste? Hot or not? Ek hou van my tee sterk, beide die tee en die skop. Die lekker brand in die keel is vir my ‘n tonic. Net daar voel ek wakkerder. My suster hulle kom ook nou al op Sondae middae aangestap vir hulle koppie chai.

My koppie chai vat my reguit terug Indië toe. Die chaiwalla (outjie wat tee verkoop) wat op en af in die trein se gange loop met een eenvoudige deuntjie wat hy skree: “chai, chai, chai, chai, chaiiiii!” Die nou straatjies in Jaipur met die Indiese mans wat skaam skaam vir my plek maak op die bankie langs hulle en die eienaar van die stalletjie wat probeer verduidelik dat die tee te warm gaan wees vir my en my wit vel. Die westerse hotelle wat ‘n afgewaterde chai vir die toeriste bedien en ons wat net beduie ons soek die “real stuff” en ons wat dan omtrek stik en sluk as ons dan die “real stuff” kry.

Soveel as wat ek in my kombuis probeer om my chai soos die chai in Indië te laat proe, kry ek dit nie reg nie. Ek vermoed dit het iets te doen met die hoog met ‘n boog gooi tegniek van die verkopers, of die erdeware bekertjies, miskien is my kombuis te skoon, die gaste langs my verstaan my te maklik, daar’s nie koeie wat net rondwandel nie, mens ruik nie wierook nie en die kleure wat jy sien is nie skokkend helder nie, maar ek probeer.

Indië, my hart trek ‘n punt na jou toe.

Varanasi

Advertisements

10 jaar is ‘n lang tyd

Ek probeer tans verskriklik hard om 2 van my beste skoolvriende te oortuig om ons 10 jaar hoërskool reünie by te woon.

Die antwoord is tans (en hierdie is ‘n direkte aanhaling): “Fok, nee”.

Ek het nie vreeslik van skool gehou nie. Ek het ook nie skool gehaat nie, maar dit was regtig nou nie die arena vir my glory days nie. Ek het nie genoeg gerook, gedrink en gevry om “cool” te wees nie. Die feit dat ek sport haat en nie netbal gespeel het nie het waarskynlik daartoe bygedra. Dan was ek natuurlik ook te slim. (haha!).

My romp was nie lank genoeg, my brille dik genoeg en my vel swak genoeg om heeltemal van my ‘n loser te maak nie. Ek was een van daai medium kinders. Amper dorky, maar het darem kêrels gehad.

Ek is nog goeie vriende met net ‘n paar van my skoolmaats. Verder het ek nog Facebook kontak met ‘n paar ander. Die res is vir my maar net kinders wat saam met my op hoërskool was. Snaaks dat ek nog aan hulle as kinders dink, maar al sou ek hulle nou ontmoet, sal my brein hulle as 16/17/18 jariges onthou. Presies onthou hoe hulle was en hoe hulle met my was. Dis darem verskriklik. Met die dat ons nog in die area waar ek grootgeword en skoolgegaan het bly, sien ek dan en wan skoolmense raak. Ek hou ‘n lae profiel. Handhaaf sterk die standpunt van “jy het nie toe iets gehad om vir my te sê nie, ek twyfel of ons nou dik pelle gaan raak”. Sien ek toe gisteraand weer ‘n poppie wat eintlik uit haar pad uit gegaan het om ongeskik te wees met my op skool. Sy groet my vriendelik in die verbygaan.”Wie’s dit?” vra Liefie. Skoolslet antwoord ek. Dit was toe die waarheid, maar nou? 10 jaar is ‘n lang tyd.

Hoekom wil ek dan so graag my vriende reünie toe sleep? Ek weet nie. Ek het toe nie van die mense gehou nie, gaan waarskynlik nou nie van die mense hou nie en hulle gaan waarskynlik nie van my hou nie. Is dit nie maar eintlik ‘n bietjie soos om na ‘n ongelukstoneel te kyk nie?

Wat het ek eintlik verloor in 10 jaar terug?

Wie laaste lag, het nie die grap gevang nie

Ek kry in die week ‘n boodskap op Facebook van ‘n “chat”-buddy in Kanada. Ons klets al vir by die 8 jaar lank en alhoewel ons nog nooit met mekaar gepraat het, of mekaar ontmoet het nie, is ons redelike goeie vriende. Ek het egter baie lanklaas met hom gepraat. Die boodskap sê net dit: “your status updates are so negative lately. Are you okay?”.

Dit was asof iemand my met ‘n pap vis geslaan het. Is ek okay? My updates is seker vir ‘n buitestaander wat nie te nou in my lewe betrokke is nie, vreeslik negatief. Natuurlik sit ek die goed tong in die kies op, en net sodat ek dit nie finaal verloor nie, maar is dit die boodskap wat ek die wêreld wil instuur? My werksituasie dryf my tans na die poorte toe (as ek nou my ma se woorde mag steel). Ek is mal oor wat ek doen, maar dit voel vir my of ek een keer te veel in elke week in ‘n baksteenmuur vashol. Op top spoed.

Sit ek toe Donderdag in my baas se kantoor en bespreek iets ernstig, toe ek dit finaal verloor. Ek bars histeries uit van die lag. En ek kan nie ophou nie. Ek lag en lag en lag en lag sonder enige beheer, sonder dat ek weet hoekom ek lag, sonder dat hy weet hoekom ek lag en sonder dat ek kan ophou lag. Hy het nie eens iets snaaks gesê nie (behalwe as ek veronderstel was om die Nasionale Krediet Wet amusant te vind). Later kan ek nie meer sien soos ek lag nie en toe staan ek maar net op en loop uit. Ek dink my kollegas vermoed nou die ergste oor my gemoedstoestand.

Ek lees nou die woorde van Karen Zoid se liedjie by Wipneus raak, en ek besef weereens: dit waaroor ons ons perdjies so gereeld opsaal – dit maak nie regtig saak nie…

Lekker week – ek gaan hom skop dat hy daaaaaar trek!

Vakansie stories

Plattelandse prentjieEk is terug in die groot stad. Ek kan nie sê ek hou van die gedagte dat ek môre weer moet begin werk nie, maar dis darem altyd vreeslik lekker om weer in jou eie bed te slaap na ‘n tydjie weg.

Ek het wonderlik lekker vakansie gehou. Dit voel regtig vir my of ek vir weke aaneen weg was. Miskien is dit omdat ons net uitgerus het. Nie te veel gedoen nie, te veel geëet, lekker boek gelees voor die kaggel, rondgelê in koffiewinkels, laat geslaap en dit was vir my lekker om sommer net weer op te vang met my Liefie. Met sy huidige werk situasie (hy’s Maandae tot Donderdae nie saammet my in die groot stad nie), was dit pure bederf om hom net weer vir myself te hê.

Die troue was baie lekker – maar hel! Eerste uitrusting Teen die tyd dat die eintlike troue aanbreek is mens poegaai van al die pre-wedding events. Die rituele en kos en alles wat daarmee saamgaan was vir my interessant om te ervaar, maar teen my derde sari was ek ook half gatvol, soos die gesigsuitdrukking aandui…  Hier’s dan ‘n paar fotos van my Bollywood Extravaganza by. (Ek en Liefie gaan natuurlik toe beide na die troue toe met kameras met pap batterye. Ook maar lekker stupid!)
Tweede uitrusting Derde uitrusting

Ek het dan ook baie lekker verjaar. My Liefie het my lekker bederf met ‘n aand in die Mount Nelson (ek wil sakke geld hê en in ‘n groot pienk huis bly wat nes die hotel lyk, met groot tuine en waterfonteine en mense wat heeldag vir my “yes Madam, of course Madam, certainly Madam” sê). Ons het die aand by The Greenhouse Restaurant gaan eet en dit was ‘n fantastiese ervaring. Vir almal wat in die Kaap bly of gereeld daar kuier – ek beveel dit sterk aan!

Slaan jou oë op na die Berg Verder is hier ‘n paar fotos van die res van die vakansie in die post. Ek pos iets lekker vir die een wat eerste 5 van die plekke in die fotos identifiseer. (die goed wil nie vandag doen wat ek hulle aansê om te doen nie – kyk maar so heen en weer en deurmekaar!)

Skyn liggie skyn!

Suid!

See/sand

Aan die einde van die reënboog

Huisies

Pikkewyne