Skryf dit op

Ek hou al lank dagboek. ‘n “Sielsdagboek” en ‘n datum dagboek. Ek hou van goed neerskryf.

Liefie lag hom dood oor ek alles met die hand inskryf en nie net alles elektronies doen nie, maar laat ‘n elektroniese dagboek jou toe om die etiket van die lekker tee wat jy nounet gedrink het af te skeur en saam te dra?

Ek het regdeur hoërskool my huiswerkboekie vol goed geskryf en geplak. Seker ‘n vorm van scrapbooking voor dit nog populer was. Ek het nog ‘n jaar van skool behoorlik in ‘n groot boek met sulke blou bladsye (mens koop hulle nog by CNA) opgeteken. Ek kyk nou die dag weer daardeur. Eksamenroosters, fotos, die sparkler wat by my 16e verjaarsdag aangesteek is, fliekkaartjies, notas oor kêrels en gesteelde soen (punte vir die kêrels en soene!). Buskaartjies, rapporte, drome. Wat doen mens met so ‘n boek? Die ding gaan mettertyd vergaan, maar as ek nou daardeur kyk kan ek amper nie glo hoe ek was nie. Wat vir my belangrik was nie. Waaroor ek gedroom het nie.

Elke jaar het ‘n dagboek gehad. Soms het die een agtergebly en dan het ek gedeeltes in ‘n nuwe een geskryf. Nie fancy boeke nie. Croxley A5 boeke, met die dik swart omslag. Netjies oorgetrek in ‘n papier wat my aangestaan het en dan disifix bo-oor. Hierdie boekies het oral saammet my gereis. Deur universiteit het ek steeds dagboek gehou, maar minder gereeld en amper net oor groot gebeurtenisse. Teen die tyd wat ek begin werk het was in my dagboek skryf vir my meer iets gerusstellend as noodsaaklik.

Toe trek ons Swede toe en ek ontdek blog. En hierdie blog en die een voor hom, word my dagboeke. Ek besef nou hoeveel waarde hierdie blog tot my lewe toegevoeg het, want sou ek nie oor die goed geblog het nie, sou ek dit teen hierdie tyd vergeet het. Veral met die dat ek fotos neem, maar dit nie noodwendig laat uitdruk nie, is dit lekker om nou en dan ‘n klompie fotos hier te plaas.

Noudat ek weer ‘n normale lewe lei, kom ek agter hoe min ek blog. Die laaste maand of twee is my gemiddeld seker een keer ‘n week (in ‘n goeie week!). Ek mis dit vreeslik. Net soos wat ek altyd mettertyd my dagboek inskrywings begin mis het. ‘n Blog het natuurlik die bonus dat mens in ‘n gesprek betrokke kan raak. Ek het nie genoeg tyd om ‘n blog en ‘n dagboek in stand te hou nie. Dit beteken noodwendig dat alles op my blog moet verskyn en tot dusver werk dit goed, maar anders as ‘n dagboek is bloglesers waarskynlik nie so geduldig soos ‘n dagboekleser (jyself) nie.

Hoe minder ek blog, hoe minder lesers het ek. Dit pla my nie noodwendig nie, maar as iemand wat die interaksie tussen bloggers waardeer is dit nogal sleg. Natuurlik lees ek deesdae ook al hoe minder blogs, omdat ek nie tyd het nie. Wat beteken ek lewer minder kommentaar, wat dan weereens minder lesers beteken.

Blogskryf is eintlik ‘n voltydse stokperdjie, besef ek nou.

Advertisements

9 thoughts on “Skryf dit op

  1. Sonkind Maart 22, 2009 / 7:14 nm

    Ek skryf ook nie meer so baie soos wat ek graag wil nie, maar dit beteken nie my kop loop nie oor van gedagtes nie. Wens mens kon betaal word vir blog skryf 🙂

    Ek het ook anderdag op ‘n hele boks met ou dagboeke afgekom – 3 A5 boeke waarin ek aanhalings uit boeke wat ek gelees het, neergeskryf het en nog 2 groot A4 boeke waarin ek dieselfde tipe goed geskryf het waaroor ek nou blog – dis hartsgoed en ek sal dit altyd hou.

    Elk geval, ek geniet dit altyd om hier by jou te kom lees. 🙂

  2. Jo-Ann Maart 22, 2009 / 7:28 nm

    Ek het nie opgeskryf nie… maar ek het ‘n nostalgieboksie… daar is kaartjies van goed soos die kabelkar, kurkproppe met datums op, ‘n hospitaalbandjie van Kevin, ‘n miniatuurbotteltjie met ‘n sandskildery van Namibië, ens, ens daarin. Hartsgoed van my ma, kinderkunskaartjies van my kiddie, en nog meer. Selfs ‘n interresante knoop met ‘n geskiedenis, ‘n spesiale keppie en ‘n sleutelhouer van anderland,…. kosbare nuttelose onthougoed. As ek die dag af voel, krap ek in die boksie en loop op ver paaie terug tot ek vergeet hoekom ek so af gevoel het. My pa sorteer nou nog uit aan my ma se onthouboksie… wat bietjie baie groot was… 🙂

  3. Zee Maart 22, 2009 / 8:49 nm

    NetJane, jou blog daar anderkant was een van die eerstes wat ek begin lees het. Alhoewel jy nie meer so gereeld blog nie, lees ek tog wel elke inskrywing wat jy maak. En ja, mens mis dit as jou ou blog vriende nie meer so baie inskrywings maak nie, maar mens se prioriteite verander daagliks. Dalk eendag kry jy weer die tyd om wel meer te blog. 🙂

  4. Hanlie Maart 22, 2009 / 9:48 nm

    Ek sal maar altyd hier wees, al skryf jy net een keer per maand!

    Ek weet regtig nie hoe mense wat voltyds werk en ‘n gesin het, tyd het vir blog nie!

  5. corlivandermerwe Maart 23, 2009 / 12:34 nm

    Opskryf is basies maar my lewe, dis seker die dat ek `n joernalis geword het. Ek is dan ook nog sentimenteel ook, so ek is ook geneig om goedjies te bêre en dit dan en wan op `n stil Sondagmiddag uit te grawe en te ONTHOU. Die blog en die koerant self is ook deel van my opskrywery. Die blog is fantasties vir persoonlike goed (maar die werk kruip regtig baie ook daar in) en die koerant se argiewe laat my vinnig terugdink aan dáái dag of dáái storie of dáái rubriek – en natuurlik hoe ek gevoel het toe ek dit geskryf het. Daarsonder sal ek dit nie kan maak nie.

  6. Wipsnoet Maart 24, 2009 / 9:03 vm

    Hello Jane ek hou ook sielsdagboek! Maar op ‘n private blog, vêr van hier af!!! Dis soms lekker om daar te lees, veral as mens jou probleme deur gewerk het, en weer die pad gevind het.

    Ek sal altyd jou blog lees, ek dink meeste van ons sukkel deesdae met tyd? Ek sweer die wêreld se horlosie het gebreek! 😯 LOL

    Lekker dag

  7. demoerin Maart 24, 2009 / 12:19 nm

    Ek het ook die ander dag gesit en dink, met die min tyd saam voel dit al amper soos ‘n werk.

  8. Emil Maart 24, 2009 / 4:46 nm

    Ek blog te veel. Ek kan nie byhou met alles wat in my kop omwentel nie. Blogging is nog nooit vir my werk nie. Dat mens wel af en toe afstand neem, is wel so. En blogblok is ‘n vreeslike dinge, want dis dan waneer ek die druk van “werk” voel.

    Ek sou nooit kon dink dat blogging my so kon oorheers nie!

  9. Wenchy April 11, 2009 / 10:51 vm

    Blogskryf is ‘n voltydse stokperdjie, maar soos Emil is daar baie dinge in my kop wat wil uit, so vir my is dit nog a moet.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s