Dis fantasties!

Toe ek vanoggend iets ervaar het ek vinnig gedink ek moet ‘n post daaroor doen, maar met die dat ek deesdae so ‘n lui b(l)ogger is, het die gedagte gekom en gegaan. Totdat ek nou die verskeidenheid posts oor ons land, misdaad, emigrasie en regstellende aksie gelees het. Oor mense wat moed verloor en daagliks in vrees lewe. Toe is ek vreeslik bly oor die effense ompad wat ek en Liefie vanoggend gery het omdat ons op soek was na iets so alledaags as teëls.

Soos wat ons die stukkie pad om Nasrec ry merk ek en Liefie op hoe baie die area verander het. Aan albei kante van die pad is netjiese voetpaadjies uitgelê, lanings boompies groei al mooi, regte funky straatligte buig elegant oor die pad. En toe draai ons en voor ons lê Soccer City, die ou FNB sokkerstadion. En ek is so opgewonde soos ‘n klein kindjie. 2010 is ‘n werklikheid. Die stadion lyk pragtig. Nes die kalbas waarop dit basseer is. Dis groot en netjies en lyk wêreldklas. En ek voel verskriklik trots daarop. Dis toe dat ek weer besef dat die advertensieveldtog se slagspreuk waar is: South Africa is alive with possibility. Dis wat die land fantasties maak. Daai gevoel dat enigeiets enigetyd kan gebeur. Of dit nou goed of sleg is. Ek het nooit daardie gevoel in Swede gehad nie.

Oor meeste goed dink ek met my brein, maar oor my land voel ek met my hart. Ek raak kwaad as mense slegte goed daaroor sê. Ek is (omtrent) elke dag positief daaroor. Ek probeer die kleinste goedjies raaksien, want dis wat die hoop laat brand. Toe die kantoor kermgat in die week iets oor Jeremy Clarkson se artikel kwytraak, het ek rooi gesien. Iemand sê iets positiefs oor Johannesburg, maar dis ook nie goed genoeg nie.

Die kantoor ken my al as die een wat altyd “ek dink dis fantasties” sê. Want ek dink dit is fantasties. Alles wat veral in my stad gebeur. Alles wat elke dag in die land en my lewe gebeur.Dat daar genoeg trokke en mense en teer en ingenieurs en landmeters is om die hele stad se hoofweë om te dolwe en beter en groter te maak. Dat daar daarna nogsteeds genoeg trokke en mense en teer en ingenieurs en landmeters is om die Gautrein te bou en die lughawe te verbeter. Dat daar genoeg geld is! Dat SARS e-filing so fantasties vir my as aktevervaardiger werk dat ek nie weet hoe ons ooit hereregte daarsonder betaal het nie. Dat die City of Johannesburg my vanoggend op my selfoon bel om ‘n probleem wat ek op hulle website gelog het op te los. Dat ek op my bank kan lê en indiese chai kan drink wat ek self gemaak het met spesery wat Liefie se ma gemaal het, terwyl ek ‘n koeksuster eet en die son sien ondergaan. Dat daar laasnaweek 4 Finne en ‘n Belg hier kon braai, omdat hulle almal na Suid-Afrika getrek het nadat hulle een keer hier ‘n projek gedoen het, omdat hulle so baie van die land en die mense hou. Ek dink Suid-Afrika is fantasties.

Kyk net weer ‘n slag.

Advertisements

15 thoughts on “Dis fantasties!

  1. Jo-Ann Maart 7, 2009 / 8:02 nm

    Dit help om te kyk na die goed wat fantasties is en om die goed wat sleg is te probeer miskyk. Dit sit huppel in mens se stap.

    Ek kry koue rillings elke keer as ek by die M5 wisselaar in wording verbyry…. dit gaan vrek baie help as dit klaar is. Nou veroorsaak die werk slakkeverkeer, maar voor 2010 behoorlik ingewy is, sal dit klaar wees en dan gaan ons zip deur daardie knoop.

    Ek onthou toe Century City nog Winter Wets was, toe die verkeer middae amper tot stilstand geruk het met elke nuwe baksteen wat gelê is…. en kyk nou, ‘n wêreldklasontwikkeling! Ek onthou toe die Waterfront nog net bekend was vir Qay4 en kyk nou….massief en baie gewild.

    Ons stadion se dak is op en dinge begin bymekaar kom. Ons lughawe se werk vorder fluks. En ja, daar is mannekrag, daar is toerusting en daar is materiaal… of ons nou iewers baie geld skuld of nie… jan alleman trek aan die einde van die dag voordeel.

    As die ouens nou net die slaggate op my pad werk toe wil uitsorteer…. :-)…. en brieke sit aan die kospryse….

  2. Wipneus! Maart 8, 2009 / 9:05 vm

    En ek is mal oor: Centurion.

    Dis baie lekker om hier te bly! Daar is ook probleme soos die Centurion Lake wat vuil is, paaie etc maar die ander mooi maak op vir hierdie probleem (wat hulle hopelik gou gaan uitsorteer). Dis hoekom ek nog hier is! 😉

    Ons bly in ‘n mooi land met “fantastiese” mense! Daar is nou wel so nou en dan ‘n “weirdo” maar jy kry hulle orals 😆

    “Fantastiese” positiewe inskrywing Jane!

  3. Jaco Maart 8, 2009 / 5:05 nm

    Ek is bly jy kan nog so voel. Soveel lojaliteit teenoor iets wat jou voortdurend in die tanne skop is prysenswaardig.
    Maar moet asseblief nie te hard oordeel teen dié wat nie meer so positief is nie, en die soos ek wat net niks meer voel nie. Ons was ook eens op ‘n tyd positief . . .

  4. boerinballingskap Maart 8, 2009 / 5:50 nm

    Ek dink Jaco maak ‘n nugtere punt. But optimism surely remains the best tool to cope with adverse circumstances. As long as your optimism doesn’t evolve into a kind of self-brainwashing, you’re on a good track.

  5. rosalindfranklin Maart 8, 2009 / 8:07 nm

    BiB net soos wat mense se negatiwiteit hulle laat prespektief verloor en laat evolve in ‘n tipe brain-washing.

    SA het nie probleme nie. Ons is nie arm nie en ons land is fine. Of is ek die enigste een wat regtig in “”donker afrika” travel, in lande waar daar net een k@k hospitaal is, (daar is drie skitter hospitale binne 10km van my huis), waar al die mense arm, aag, wat ek los dit maar (sorry jane)

  6. Sonkind Maart 8, 2009 / 9:24 nm

    Ek ook NetJane – ek stem ook saam. Daar kom beslis dae wat mens negatief voel en ek het ook al gewens ek is iewers anders. Maar all in all sal ek nooit êrens anders aard nie. For better or for worse 😆

  7. netjane Maart 8, 2009 / 9:38 nm

    Jo-Ann: Daai slaggate laat my erge woorde kwytraak! 😉

    Wipneus: Ek moet kom kuier, dan kan ek met nuwe oë na Centurion kyk! 🙂

    Jaco: Ek veroordeel glad nie – ek probeer net verstaan hoekom mense deesdae nie meer een goeie ding in ‘n dag kan raaksien nie. Nie eens een klein klein klein dingetjie nie…

    BiB: Ek het nie ‘n antwoord vir jou nie. Ek dink glad nie ek is optimisties nie. Ek neem net waar en kies om iets goed te sê oor dit wat ek waarneem, beteken nie ek ervaar en sien nie die sleg ook nie…

    Rosa: Ek sien jy verstaan. Ons is seker ewe onnosel! 😉

    Sonkind: Om positief te wees beteken mos nie mens mag nooit negatief wees nie, ek het ook my dae! 🙂

  8. Jaco Maart 9, 2009 / 10:27 vm

    Jane dit is nie asof mens nie die mooi en die goeie dinge raaksien nie. Dit word net so verswelg deur die slegte en lelike dat daardie mooi beeld nie lank bly nie.
    Soos Rosie glo ek ook nie Suid Afrika sal ten gronde gaan soos die DRC of Zim nie, en ek het baie begrip vir die taak om al die mooi en lekker dinge wat ek tot dusver geniet het beskikbaar te maak vir almal in die land. Ek is meer as bereid om my deeltjie te doen om daardie doel te bereik, maar dit voel meestal soos om ‘n rugbywedstryd te speel en die ref is omgekoop om die ander span te bevoordeel. Jy wonder hoekom jy nog enigsins probeer. Veskoon die beeldspraak, maar dit is al hoe ek in woorde kan uitdruk hoe ek voel oor die saak.

  9. boerinballingskap Maart 9, 2009 / 2:31 nm

    Rosa, ek verbeel my jy raak dalk geirriteerd met my, maar glo my – dis nie my doel nie. 😉
    Jou stelling “SA het nie probleme nie” ondermyn egter die legitimiteit van jou argument. Ek wil glo jy het eintlik bedoel: “In vergelyking met baie ander Afrikastate, het SA nie probleme nie”. In daardie geval, kan ek maar net se dat wanneer jy jouself met die slegste vergelyk en jouself dan op die skouer klop, werk jy middelmatigheid in die hand. ‘n Strewe na uitnemendheid vra juis dat mens jouself aan die beste moet meet en met niks minder tevrede behoort te wees nie.

    netjane, nie jy of enige iemand anders hier is onnosel nie. 🙂

    Miskien druk ek my verkeerd uit, want ek dink dat my betoog misverstaan word. Daar is niks verkeerd om positief te wees en op die goeie te fokus nie (daar is ook baie positiewe dinge in SA). Ek probeer slegs daarteen waak dat mense gewoond raak aan ‘n abnormaal gewelddadige samelewing en dit begin aanvaar as die norm.

  10. Nelba Maart 9, 2009 / 3:49 nm

    Ek het die afgelope week bietjie navorsing gedoen vir ‘n vriendin se kind vir ‘n debat. Haar span moet die standpunt: Dis beter om Suid-Afrika te verlaat, ondersteun.

    Dit is nie my standpunt nie. Die redes is uiters persoonlik en ek besef dat ekself nie daagliks met die slegte dinge in SA gekonfronteer word nie.

    Ek het na statistiek gaan kyk. Misdaad, armoede. korrupsie…Ek het na mense wat wel ge-emigreer het se standpunte gaan kyk. Het julle geweet drie of vier uit elke vyf mense wat die land verlaat, doen dit met die voorneme om weer terug te kom? ‘n Ierse immigrant en ek het eenkeer hieroor gepraat. Hy’t gese hy gaan NOOIT WEER terug Ierland toe nie. Hy wil nie. Maar dat die meeste SA emigrante weer wil terugkom SA toe en die land geweldig mis. Ag, ek kan nog uitbrei, maar ek volstaan met: Ek weet nie hoekom ek met NetJane saamstem nie, maar ek doen.

  11. rosalindfranklin Maart 9, 2009 / 4:07 nm

    Bib: nee ek raak nie geirriteerd nie. alles reg. natuurlik kan mens nie se alles is wel as jy eenoog is in die land van die blindes nie. vergeleke met die die res van afrika is ons die beste daaraan toe.
    maar ek het dit gebruik, want ek hoor die hele tyd dat mense se ons gaan dieselfde pad loop as die res van afrika, en dit glo ek nie vir een oomblik nie, vandaar my vergelyking.

    die mens neig die hele tyd om te strewe na ‘n utopia waarin alles net goed, lekker en wel is. en dit bestaan nie. selfs nie in die beste 1ste wereldse land nie.

    neem bv brittanje, waar die pond sterk is ect, maar die gesondheidstelsel in totale duie gestort het. mense kom hierheen vir groot operasies.

    ek persoonlik, sou ek ‘n ernstige siekte kry, sal ‘n opinie inwin van ‘n dokter verbonde aan ‘n akademiese staatshospitaal, nie ‘n privaatsektor-spesialis nie. die beste breine is aan die akademiese hospitale – waarlik skitter-dokters, beter as in talle ander lande.

  12. Emil Maart 11, 2009 / 9:21 nm

    Dit is fantastiese. Tog kom dit ongelukkig voor dat ons soms saam ander hier in ‘n vreemde lande woon. Suid-Afrika rocks!

    Hoe waar is daardie slotsin “kyk net weer ‘n slag” nie!!!!

    Hierdie gesprekke oor identiteit en die verdoemenis waarheen Suid-Afrika ongekeerd op afstuur, maak my toleransievlakke deesdae erg daal. Vedraagsaamheid beteken nie ek hoef almal se geykte menings te aanvaar nie! Rosa, ek is 100 – en – 90% saam met jou. Dis aldag en heeldag net negatiewe snert wat ons moet aanhoor!

    Dankie, netjane, vir ‘n sonskyn-inskrywing. Viva Suid-Afrika! Viva!

  13. boendoe Maart 12, 2009 / 1:56 vm

    Hoekom sien ek hierdie nou eers raak? 😉

    Jane, jy skryf PRESIES wat ek ook voel. Ja, natuurlik is daar probleme, maar dit voel vir my of almal NET op die negatiewe wil fokus. En dan daarop hamer en hamer en hamer en hamer…en… 😦

    Dankie, hierdie was nou goed vir die siel.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s