O hel!

Ek was vir 2 en ‘n 1/2 dae met verlof. (Dit was lekker by die see!)

My kliënte was nie.

Ek sal moontlik weer eendag tyd hê vir blog! 😉

Advertisements

Kwart

‘n Week het 4 aande in. Vrydagaand tel nie. Dis naweek.

Jy slaap 1 aand in daai 4 langs my.

Ek kry ‘n kwart van die tyd waarop ek geregtig is.

Soos die kwart liter melk wat genoeg is vir my tee in die aande. ‘n Kwart liter petrol, werk toe en terug. ‘n Kwart pizza wat oorbly. Ek eet halfte, ek steel vir myself nog ‘n stukkie voor ek gaan slaap (jy weet mos) en nog ‘n sny vir ontbyt. Ek slaap in ‘n kwart van die bed. Hoe mis ek nou ons ou dubbelbed – die king voel so groot vir net my. Kwart oor agt, kwart voor nege, kwart oor nege, kwart voor tien. Slaaptyd. My slaaptyd so anders as joune. Kwart oor ses. Ek’s wakker. Jy’s nie langs my nie. ‘n Kwart brood, genoeg vir my week se werks toebroodjies. Vrydae eet ons uit. Teen die middel van die week is ek moeg vir broodjies en gaan ek Woolworths toe. Waar ek wonder watter ready meal om vanaand te eet.

Ek wens dit was net ‘n kwart van my wat jy saammet jou neem elke keer wat jy weggaan.

Skryf dit op

Ek hou al lank dagboek. ‘n “Sielsdagboek” en ‘n datum dagboek. Ek hou van goed neerskryf.

Liefie lag hom dood oor ek alles met die hand inskryf en nie net alles elektronies doen nie, maar laat ‘n elektroniese dagboek jou toe om die etiket van die lekker tee wat jy nounet gedrink het af te skeur en saam te dra?

Ek het regdeur hoërskool my huiswerkboekie vol goed geskryf en geplak. Seker ‘n vorm van scrapbooking voor dit nog populer was. Ek het nog ‘n jaar van skool behoorlik in ‘n groot boek met sulke blou bladsye (mens koop hulle nog by CNA) opgeteken. Ek kyk nou die dag weer daardeur. Eksamenroosters, fotos, die sparkler wat by my 16e verjaarsdag aangesteek is, fliekkaartjies, notas oor kêrels en gesteelde soen (punte vir die kêrels en soene!). Buskaartjies, rapporte, drome. Wat doen mens met so ‘n boek? Die ding gaan mettertyd vergaan, maar as ek nou daardeur kyk kan ek amper nie glo hoe ek was nie. Wat vir my belangrik was nie. Waaroor ek gedroom het nie.

Elke jaar het ‘n dagboek gehad. Soms het die een agtergebly en dan het ek gedeeltes in ‘n nuwe een geskryf. Nie fancy boeke nie. Croxley A5 boeke, met die dik swart omslag. Netjies oorgetrek in ‘n papier wat my aangestaan het en dan disifix bo-oor. Hierdie boekies het oral saammet my gereis. Deur universiteit het ek steeds dagboek gehou, maar minder gereeld en amper net oor groot gebeurtenisse. Teen die tyd wat ek begin werk het was in my dagboek skryf vir my meer iets gerusstellend as noodsaaklik.

Toe trek ons Swede toe en ek ontdek blog. En hierdie blog en die een voor hom, word my dagboeke. Ek besef nou hoeveel waarde hierdie blog tot my lewe toegevoeg het, want sou ek nie oor die goed geblog het nie, sou ek dit teen hierdie tyd vergeet het. Veral met die dat ek fotos neem, maar dit nie noodwendig laat uitdruk nie, is dit lekker om nou en dan ‘n klompie fotos hier te plaas.

Noudat ek weer ‘n normale lewe lei, kom ek agter hoe min ek blog. Die laaste maand of twee is my gemiddeld seker een keer ‘n week (in ‘n goeie week!). Ek mis dit vreeslik. Net soos wat ek altyd mettertyd my dagboek inskrywings begin mis het. ‘n Blog het natuurlik die bonus dat mens in ‘n gesprek betrokke kan raak. Ek het nie genoeg tyd om ‘n blog en ‘n dagboek in stand te hou nie. Dit beteken noodwendig dat alles op my blog moet verskyn en tot dusver werk dit goed, maar anders as ‘n dagboek is bloglesers waarskynlik nie so geduldig soos ‘n dagboekleser (jyself) nie.

Hoe minder ek blog, hoe minder lesers het ek. Dit pla my nie noodwendig nie, maar as iemand wat die interaksie tussen bloggers waardeer is dit nogal sleg. Natuurlik lees ek deesdae ook al hoe minder blogs, omdat ek nie tyd het nie. Wat beteken ek lewer minder kommentaar, wat dan weereens minder lesers beteken.

Blogskryf is eintlik ‘n voltydse stokperdjie, besef ek nou.

My stempel

So halfpad deur laasweek kom ek agter dat ek eintlik gatvol is. Veral by die werk. Omdat ek so hard werk en so baie van my werk hou en elke dag my alles gee. Omdat ander mense nie so hard werk en nie so baie van hulle werk hou en nie elke dag hulle alles gee nie. Omdat die dat ek so graag werk beteken dat ek al hoe meer hooi op my vurk kry, wat beteken dat ek nog harder werk, wat beteken dat ek nog werk kry – want ek doen dit dan. Catch 22 noem mens dit, dink ek…

Ek gaan nie kwaad word nie, ek gaan nie my humeur verloor nie, ek gaan nie brom nie. Ek gaan maar net doen wat ek beste doen – my werk doen.

Wat ek wel gaan doen (ten minste in my drome) is om ‘n stempel aan te skaf. Die stempel gaan baie eenvoudig wees, net 3 letters. Alles hoofletters. GFY. En dit staan nie vir “Good for you” soos wat ‘n ouer kollega dink nie. As ek wil kwaad word, of wil moed verloor of net negatief wil raak gaan ek my droom stempel uit die droomlaai uithaal en op die situasie aanbring. En die stempel gaan my laat beter voel. Net om daaroor te dink laat my beter voel.

Dis nie mooi woorde nie, maar ek is verby mooi woorde. Die GFY staan vir: gofuckyourself. Alles een woord.

Enige bestellings?

Opgesmuk

Toe ek vanoggend werk toe ry beland ek weer in die string motors wat van die Northcliff koppie af na Beyers Naude toe oppad is. Daai tyd van die oggend het meeste van die motors skoolkinders in en met die dat die verkeer stadig loop het ek genoeg tyd om almal in die motors om my te bestudeer. Dis maar wat ek doen.

In die motor voor my is daar twee skooldogters. Ek herken die skooldrag as die van my alma mater. Die jong dame op die agtersitplek sit met ‘n “compact” in haar hand. Daai grimeertoestelletjies met die poeier en die spieëltjie in. Sy poeier haar neus vir ‘n vale. Toe kom die oogpotlood en mascara uit. Teen die tyd wat ons by die robot kom smeer sy lipglans aan. Toe word die slierte hare stuk vir stuk uit die (eens) netjiese ponie getrek. Maandag oggend en sy lyk soos iemand wat nounet uit ‘n club gestrompel het. Mammie sit voor in die motor en praat met die een op die agtersitplek se sussie/vriendin. Oblivious.

Ek is hierdie jaar 10 jaar terug in matriek gewees. Seker ‘n leeftyd as mens dit so in woorde sien, maar dit voel nie vir my so nie.

Die volgende reëls het vir ons gegeld: 1. Hare mag nie gekleur wees nie. 2. Een paar oorbelle. Ringetjies of studs. 3. Een seëlring 4. Geen grimering 5. Romplengte: 4 vingers bo die knie as jy op jou knieë staan. 6. Geen kuiwe of slierte in die gesig nie. 7. Hare wat aan die kraag raak in ‘n ponie. 8. Rekkies en knippies in skoolkleure 9. Geen naels wat uitsteek as jou handpalm opwaarts wys nie. 10. Skoolhemp ingesteek, das netjies, sokkies een keer gevou.

Ek het nie die skool as streng ervaar nie. Ek het nogsteeds gekyk hoe my vriendinne hulle rompe een of twee keer oprol om sexier te lyk. Hier en daar was ‘n goth met eyeliner. Meeste meisies se naels was te lank. Die verskil was dat ons altyd geweet het dat die reëls daar is en dat dit toegepas word en dat ons uitgevang kan word en dat daar gevolge is. Ons was altyd besig om op die lyn te loop, met so ‘n halwe toon wat nou en dan oortrap. Ons het nie so ooglopend en absoluut die reëls verontagsaam en verbreek nie.

Is ek heeltemal onnosel om te dink dat daar geen rede vir ‘n skoolmeisie is om met ‘n gesig vol grimering skool te gaan nie? Die kind in die kar het meer grimering as ek aangehad! En ek werk!

Of word ek net oud?

Dis fantasties!

Toe ek vanoggend iets ervaar het ek vinnig gedink ek moet ‘n post daaroor doen, maar met die dat ek deesdae so ‘n lui b(l)ogger is, het die gedagte gekom en gegaan. Totdat ek nou die verskeidenheid posts oor ons land, misdaad, emigrasie en regstellende aksie gelees het. Oor mense wat moed verloor en daagliks in vrees lewe. Toe is ek vreeslik bly oor die effense ompad wat ek en Liefie vanoggend gery het omdat ons op soek was na iets so alledaags as teëls.

Soos wat ons die stukkie pad om Nasrec ry merk ek en Liefie op hoe baie die area verander het. Aan albei kante van die pad is netjiese voetpaadjies uitgelê, lanings boompies groei al mooi, regte funky straatligte buig elegant oor die pad. En toe draai ons en voor ons lê Soccer City, die ou FNB sokkerstadion. En ek is so opgewonde soos ‘n klein kindjie. 2010 is ‘n werklikheid. Die stadion lyk pragtig. Nes die kalbas waarop dit basseer is. Dis groot en netjies en lyk wêreldklas. En ek voel verskriklik trots daarop. Dis toe dat ek weer besef dat die advertensieveldtog se slagspreuk waar is: South Africa is alive with possibility. Dis wat die land fantasties maak. Daai gevoel dat enigeiets enigetyd kan gebeur. Of dit nou goed of sleg is. Ek het nooit daardie gevoel in Swede gehad nie.

Oor meeste goed dink ek met my brein, maar oor my land voel ek met my hart. Ek raak kwaad as mense slegte goed daaroor sê. Ek is (omtrent) elke dag positief daaroor. Ek probeer die kleinste goedjies raaksien, want dis wat die hoop laat brand. Toe die kantoor kermgat in die week iets oor Jeremy Clarkson se artikel kwytraak, het ek rooi gesien. Iemand sê iets positiefs oor Johannesburg, maar dis ook nie goed genoeg nie.

Die kantoor ken my al as die een wat altyd “ek dink dis fantasties” sê. Want ek dink dit is fantasties. Alles wat veral in my stad gebeur. Alles wat elke dag in die land en my lewe gebeur.Dat daar genoeg trokke en mense en teer en ingenieurs en landmeters is om die hele stad se hoofweë om te dolwe en beter en groter te maak. Dat daar daarna nogsteeds genoeg trokke en mense en teer en ingenieurs en landmeters is om die Gautrein te bou en die lughawe te verbeter. Dat daar genoeg geld is! Dat SARS e-filing so fantasties vir my as aktevervaardiger werk dat ek nie weet hoe ons ooit hereregte daarsonder betaal het nie. Dat die City of Johannesburg my vanoggend op my selfoon bel om ‘n probleem wat ek op hulle website gelog het op te los. Dat ek op my bank kan lê en indiese chai kan drink wat ek self gemaak het met spesery wat Liefie se ma gemaal het, terwyl ek ‘n koeksuster eet en die son sien ondergaan. Dat daar laasnaweek 4 Finne en ‘n Belg hier kon braai, omdat hulle almal na Suid-Afrika getrek het nadat hulle een keer hier ‘n projek gedoen het, omdat hulle so baie van die land en die mense hou. Ek dink Suid-Afrika is fantasties.

Kyk net weer ‘n slag.