Die klein plesiertjies in die lewe

Skuins voor een, elke weekdag van Maandag tot Donderdag, hoor mens ‘n snaakse geritsel in die kantoor. Terwyl telefoonoproepe gemaak word en besprekinge gehou word gaan die geritsel voort. Sjjjjjrrrrrt. Tok-tok-tok. Sjjjjjjjrrrrt. Tok-tok-tok.

Klokslag om 1 uur draai daar ses dwarrelwinde deur die kantoor. Nie nou tyd vir praat of werk nie. Belangriker goed om te doen. Kos word in die kombuis warmgemaak en dan jaag al 6 deur stoep toe. Die met toebroodjies sit reeds daar. Niemand wil ‘n stoel met slegte mojo hê nie en langs wie jy opeindig neem baie beplanning. Die tyd het aangebreek. Kliënte moenie dink ons is daar vir hulle tussen 1 en 2 nie. Base moenie dink dis tyd vir vrae vra nie. Telefoonboodskappe word geneem. Dis Uno tyd.

Elke Maandag tot Donderdag tussen 1 en 2 speel die 6 junior prokureurs in die kantoor Uno. Ja, daardie kaartspeletjie wat eintlik vir 4 jariges bedoel is sodat hulle hulle syfers en kleure kan leer. Ons speel met oorgawe en drif. Almal in die kantoor is al nuuskierig oor die Uno kampioenskappe en ons het elke dag toeskouers. Ons speel vuil en kantoormaats wat normaalweg saamwerk en lessenaars langs mekaar deel raak haaks en vreeslik kwaai met mekaar. Die plus 4 strafkaarte word soos weapons of mass destruction gebruik en as een speler verskriklik ly, lag die ander hulle pap. Om meer rondtes in te kry het ons twee pakke kaarte, om sodoende skommel en deel tydmors te voorkom. Ons speel nie net vir speel nie. Ons speel vir punte. Ons het reëls. 4 spelers om ‘n kworum te vorm. Beste 3 tellings van elke week, mits jy al 4 dae gespeel het, anders moet jy maar vat wat jy het. Die prys? Gratis middagete op Vrydag. Vrydae is lunch-club in Rosebank.

Ek het die pas afgelope week gewen. Dit was fantasties.

Vir my sussie

Ek wens mense het nie vreeslik baie draadwerk gehad nie. Ek wens dat mense nie liggeraak en vol issues was nie. Ek wens dat woorde nie kon seermaak nie. Ek wens ek het altyd geweet wat die regte ding is om te sê  en die regte ding op die regte tyd gesê.

Ek wil jou nie seermaak deur my woorde nie. Ek wil jou nie verkleineer deur my raad nie. Ek wil jou help. Omdat ek lief is vir jou en omdat jy my sussie is.

Ek is die een wat nie goed is met mense nie. Ek is die een met wie mense nie graag praat nie omdat ek hulle vreemd en ongemaklik laat voel. Ek is die een wat nie verjaarsdae en kinders se name onthou nie. Jy is die nice een. Die vriendelike een. Die een van wie mense hou. Omdat jy omgee. Omdat jy soveel van jouself vir ander gee dat jy naderhand niks meer vir jouself oor hou nie. Ek is die selfsugtige een. Ek is die een wat gereeld in my grot verdwyn  en vreeslik uitgesproke is. Ek het nie ‘n benul oor koeitjies en kalfies nie. Ek het eintlik nie ‘n benul oor mense nie. Hulle maak my bang. Diep emosie maak my bang. Ek praat nie oor hoe ek voel nie en “wipe” ontstellende gebeurtenisse so maklik soos wat mens kryt van ‘n swartbord vee. Jy is die een wat vra hoe mense “voel”. Wat luister vir die antwoord. Ek is die een wat die probleem wil regmaak. Oplossings wil bied. Goed wil beter maak. Sodat ek net kan aan beweeg.

Verstaan jy ons is verskillend? Dat ons goed op verskillende maniere benader? Dat dit maar net is hoe ons is? Dat dit ons nie minder lief vir mekaar maak nie? Dat ons maar net nou en dan koppe stamp want dit is wat sussies doen? Dat my hart soms te hard is, maar dat joune soms te sag is ook?

Ek is lief vir jou. Ek gee om vir jou. Dis hoekom ek sê en doen wat ek doen. Oor geen ander rede as liefde nie.

Ek is jammer. Nie oor wat ek gesê het nie, maar omdat ek nie ‘n minuut langer daaroor gedink het nie, want dan sou ek geweet het dit is die regte ding om te sê, maar my tydsberekening was heeltemal verkeerd.

Hoop jy kon darem vandag lekker verder verjaar.

Feeling hot hot hot(el)!

Die uiteinde van ‘n vreeslike lang storie is dat ek hierdie week knus agter my Liefie se rug in ‘n splinternuwe hotel in Sandton slaap.

Dis vreemd om in ‘n hotel wakker te word en dan werk toe te moet gaan, maar ten minste is die verkeer stukke beter.

So, toodles tot later! (Kan enige iemand tweede wittebrood spel!?)  😉

Woensdag skrywe

Verhoudings is verskriklik baie werk.

Ons in daagliks in soveel verhoudinge betrokke. Met geliefdes, vriende, familie, werkskollegas, kliënte en tussen al hierdie verhoudings deur, onsself. Seker die verhouding wat die maklikste afgeskeep word.

Ek dink wat verhoudings en verhoudinge so verskriklik moeilik maak is dat elke liewe mens op die aarde nie dieselfde as enige ander mens op hierdie aarde is nie, maar steeds moet ons maniere vind om betekenisvolle inter-aksie met mekaar te hê. Sommige mense is meer suksesvol as ander op die gebied van mense verhoudinge (ek self vaar maar swak op die gebied en dit is regtig net genade dat ek dit hoegenaamd regkry).

Soos wat ek ouer word vind ek dat dit vir my moeiliker en moeiliker word om verhoudinge in stand te hou wat vreeslike werk kos. Ek is onverdraagsaam as dit by my tyd kom en mense wat my tyd mors en/of steel maak my briesend. Ek raak meer en meer gekluister aan dit wat vir my bekend en gemaklik is en vind die aanknoop van nuwe verhoudings byna onmoontlik.

Ek weet nie hoe om dit te verander nie. Ek weet nie of ek dit wil verander nie.

Ek verstaan dat interaksie met moderne tegnologie eintlik veronderstel is om makliker te word. Mens kan vinnig sms, op Facebook sien wat aangaam, ‘n email stuur. Dis egter nie die metodes van interaksie wat verhoudinge vir my moeilik maak nie, dis die gee van myself. Ek weet dit is verskriklik selfsugtig, maar met al die “side-shows” in ‘n grootmens lewe, voel dit soms vir my of die werklike gee van my tyd, energie en aandag omtrent die enigste ding is waaroor ek regtig beheer het.

Ek het die afgelope paar weke veral weer so gevoel.

As ek ‘n slegte pel is – jammer.

As ek ‘n slegte suster is – jammer.

As ek ‘n slegte dogter is – jammer.

As ek ‘n slegte blogger is – jammer.

As ek ‘n slegte baas is – jammer.

Ek kan darem met ‘n skoon gewete trots erken dat ek ‘n baie goeie vrou en beminde vir my Liefie is.