Stoorplek

Ek het onlangs ‘n sin in Agaat raakgelees wat my net daar vir ‘n ruk lank laat ophou lees het. Ek weet nie hoe dit gekom het dat ek so verskriklik aangegryp is deur een sin in ‘n boek van 718 bladsye nie. Erger nog, ek kan nie die sin onthou nie, maar slegs die begrip.

Ons is almal iemand anders se argief.

Ek het eerste die begrip ontstellend gevind. So asof ons lewe om ander mense se stories en lewens te onthou, maar wie onthou ons s’n? Ek het dit veral ontstellend gevind omdat ek besef het wat ek kies om in my argief te hou. Nie die blye gedagtes en herinneringe nie. Die pyn en seer word gestoor. Sodat mens later weer die rofie kan afkrap om te voel of dit nog seer is… Stories oor geliefdes wat ek miskien tweedehands gehoor het, maar stoor as my eie. Issues wat ek geërf het by my ma en my pa, omdat hulle gekies het om daai issues in hulle argief te hou.

Ek het vir ‘n hele week met die begrip van iemand se argief wees rondgeloop voor ek besef het dat ander mense daagliks ‘n argief van my lewe ook word. Eers selfsugtig gekerm oor wat ander mense aan my gedoen het, voor ek besef het dat ek miskien ook besig is om onuitwisbare herinneringe en gevoelens by ander te skep.

Elke mens lewe eintlik met ‘n verskriklike verantwoordelikheid. Wat kies jy om van ander te onthou en wat gee jy ander om van jou te onthou?

Advertisements

Hoe trek ‘n blog behoorlik?

Ek het op 1 Junie 2007 my eerste blog post by iblog geskryf. (www.justjane.iblog.co.za). Op 10 Februarie is dit my 1 jaar blog verjaarsdag hier by WordPress.

My iblog blog is nog oop, maar nie meer aktief nie. Wat doen ek met die maande se inskrywings wat ek daar het? Dit voel vir my verkeerd om die blog te sluit en die inskrywings verlore te laat gaan. Hoe dra mens inskrywings oor? Ek wil die rekord hê, maar nie noodwendig die ou goed weer opnuut plaas nie.

Enige raad van die ander blog trekkers?

Aksie rakker

Ek hou nie van oefening nie. Ek is nie ‘n gym bunny nie en die paar tekkies in my kas is eintlik heel terloops daar. Ek stap in ‘n goeie week so 2 of 3 keer 5km ver. Ek doen dit nie omdat dit vir my lekker is nie. Ek voel nie beter na die oefening nie, ek voel nie die endorfiene nie. Ek haat dit om te sweet.

Ek speel vanaand twee “action netball” wedstryde. Twee! Ek weet nie presies hoe dit gekom het dat ek “ja” gesê het nie. Die kantoor het so ‘n gemengde spannetjie op die been gebring en probeer my al lankal betrek. Ek staan nog heeltyd sterk. Ek sou buitendien net ‘n las vir die span wees en het die ball sense van ‘n kapstok. Balle maak my bang. Ek sal koes as ek die ding nader sien kom. Die span kort vanaand ‘n dames speler en daai dame gaan nou ek wees. Ek het daarop aangedring dat ek net verdediger sal speel, aangesien dit vir my na die posisie met die minste aktiwiteit gelyk het. Ek is 1.63m lank. As die doel ‘n man is, is die span in hulle moer in.

Dis nou waar my “just do it” houding my kry.

Just do it!

My eerste week terug by die werk het my heel onkant betrap. Ek droom nog van “easing into things” toe die dinge in my in “ease”. En net so voel die bietjie vakansie wat ek gehad het asof dit nooit plaasgevind het nie. Gmf.

Ek het besluit 2009 is my jaar van doen. Sal maar sien hoe lank dit hou. (Ek skat tot aan die einde van Januarie…)

Die “doen” sluit lyk my nie blog skryf in nie. Ek is te lui vir blog. Ek het vir ‘n rukkie oorweeg om die blog met blogvakansie te laat gaan, maar ek kon dit nie oor my hart kry om die “maklike” uitweg te neem nie…

Wat ek wel gedoen het:

1. Testament opgestel;

2. E-filing;

3. Ingeskryf vir Sarie bruid van die jaar;

4. Dankie sê kaartjies klaargemaak (!!)

5. Hierdie inskrywing gedoen.

Miskien is ek hierdie week beter. Miskien nie.

Gastehuis Jane

Groot sug.

My gaste is weg.

My skoonmense het die 29ste Desember geland en vanmiddag weer weggetrek. Die normale “skoonma” bordjie kan glad nie om my skoonma se nek gehang word nie en my skoonsus en haar twee kinders is heel aangenaam. Dis maar net dat 4 gaste in my spasie aan my gevat het.

Ons bly in ‘n 3 slaapkamer huis, met ‘n aparte studeerkamer wat ons in ons tv en “chill out” kamer omskep het. Dit laat ons met ‘n aparte sitkamer en eetkamer en ‘n lekker kombuis.Die tuin is baie groot en die stoep is lekker om op te sit. Daar was dus genoeg spasie vir almal om te “wees”, maar die groot probleem het elke oggend teen omtrent 7 uur begin. Tok-tok-tok op die Jane/Liefie slaapkamer deur. “Are you guys awake?”. Liefie wat elke oggend knor: “We are now”, met die ironie wat elke oggend verlore gaan. Die tweede badkamer in die huis het net ‘n bad in. Die hoofslaapkamer se badkamer het die stort in. Nie een van my gaste het gedink hulle kan vir ‘n paar dae bad in pleks van stort nie. Nie een van my gaste het gedink hulle kan miskien in die aand stort sodat daar nie ‘n aanhoudende tou vir my badkamer was nie. Nie een van die gaste het gedink hulle sal eers vir Jane/Liefie kans gee om te piepie en tande te borsel voordat hulle die stort annekseer nie. Nee wat.

So elke oggend om 7 is ek uit my bed gegooi, want ek het nog nie heeltemal gemaklik gevoel om styf in my man se omhelsing voor my skoonma te lê nie. Ek haat dit ook om met pyjamas te slaap, maar nou ja, dit moes ook verander. Die een oggend wat ons gesê het ons is nog nie wakker nie en gee ons net ‘n minuut, het daar ‘n groot “Oh!” as antwoord gekom. Wat my toe lus gemaak het om te skree: “Nee! Ons is NIE besig met wilde seks nie, maar as ons was, so what? Ons is getroud! En dit is ons huis!”.

My gaste is ook vegetariërs. Ek het hulle net nooit sien groente eet nie. Die kinders is heel vol kak en vir twee tienerdogters is hulle eetgewoontes pateties. Selfs nadat ek gevra het of ek iets spesifieks moet koop en hulle nee geantwoord het, is ek nog steeds snaaks aangekyk toe ek sê ek het nie Strawberry Pops in die huis nie.

Ek is stokflou en kan nie glo ek moet al weer môre by die werk wees nie.

Groot sug.