Kersfees groete!

Vir al my blogvriende en getroue lesers wens ek ‘n baie Geseënde Kersfees toe!

Baie dankie vir al die kommentaar, omgee, wyse woorde en grappies – ek waardeer dit vreeslik baie.

My wense vir julle almal is eenvoudig (en ek steel eintlik Just Jinger se woorde): “Peace, love, more tolerance…”.

Geniet die trifle! 😉

merry-christmas

Advertisements

22 Desember

Ek lees al ‘n hele ruk lank Postsecret. Die strekwydte van mense se gevoelens, gedagtes en lewens vang my elke keer. Daai tipe “vang” waar iets gelyk so hartseer of mooi is dat die hartseer mooi raak en die mooi hartseer. Dis so amazing dat jou hart pyn. Human vulnerability – it gets me everytime.

Ek het toe onlang vir my een van die boeke bestel, net om op my eie tyd na die poskaarte te kan kyk. As deel van die inleiding verskyn hierdie stuk:

“To the person who mailed the postcard that read, “The thing I hate most about myself is that I’m too lazy to change the things I hate,” I read your secret and cried. I decided to look at myself and see what my problem was. More than being lazy, I realised it was about fear. I was afraid of trying my hardest and still not succeeding. But then I realised I was already living my worst case scenario by not even attempting to move forward. Today, I decided fear and laziness would not rule my life. I hope knowing you helped someone will help you too.”

Sjoe…

Ek is lui. Ek is bang. Ek is lui omdat ek bang is.

Nie meer nie. Ek het Vrydag ‘n groot besluit oor my toekoms geneem.  Ek hoop net nie ek is te lui om dit uit te voer nie..

Prysuitdeling

Juffrou Du Randt was my standerd 4 registerklas juffrou. Sy het ook vir my wiskunde gegee. Sy’t erg gebry en ek het begin wonder of mense wat lisp altyd sal opeindig met esse in hulle name en vanne, en mense wat bry met erre.

Juffrou Du Randt het graag strafwerk (met twee erge erre) uitgedeel. Juffrou Du Randt het ook graag deurtrekkers gedra. In die dae toe nog net strippers en die tipe mense wat jy nie wou hê vir jou kind se opvoeding verantwoordelik was nie, deurtrekkers gedra het. G-string Du Randt het die seuns haar genoem.

Ek dink vandag oor die eerste “geskenk” wat ek gekry het waarvan ek nie gehou het nie, maar waarvoor ek tog dankie gesê het. In standerd 4 het ek (weer – begaafde kind wat ek is) ‘n boekprys gewen. As ‘n ernstige leser het ek altyd vreeslik baie van my boekpryse gehou. Tot in standerd 4. Toe ek die papier afskeur wou ek omtrent huil. Dit was loshande die slegste “geskenk” wat ek nog ooit ontvang het.

Die titel van die boek was “Keurige kussings”. Dit was iets soos ‘n stap-vir-stap gids hoe om kussings te maak. Vir my. Die een wat nie ‘n stuk garing in ‘n naald kan sit nie. Juffrou het die volgende dag na my toe gekom en aan my verduidelik dat sy vreeslik angstig is of ek oor die boek hou, want toe sy dit sien het sy net geweet ek sou mal wees daaroor, want, en hierdie quote steek nog 15 jaar na die gebeurtenis is my geheue vas: “ek is so ‘n tipe mens”. Die boek staan nog op my rak, met die netjiese kaartjie voorin. Ek kan dit nie oor my hart kry om die boek weg te gee of te gooi nie, ten spyte van die feit dat die boek my eintlik elke keer daaraan herinner hoe sleg dit is om  iets te kry  wat glad nie by jou persoonlikheid pas nie.

Ek het hierdie jaar nog nie ‘n enkele kersgeskenk gekoop nie. Ek stel dit af en uit. Vir my is dit omtrent ‘n doodsonde om ‘n geskenk wat nie by die ontvanger pas nie, te gee. Mense gee dan en wan vir my goed wat glad nie by my pas nie en dit voel elke keer vir my soos die prysuitdeling in standerd 4.

Dinsdag

” I work all night, I work all day to pay the bills I have to pay, aint it sad!”

Ek is vandag nogal redelik gatvol. Ek wil nie meer by die werk wees nie. Ek wil veral nie by die werk wees terwyl my Liefie met verlof is en by die huis kan rondjakker nie. Ek wil vreeslik graag nie by die werk wees as die fone lui en al die idiote wakker skrik en van mens verwag om allerhande super hase uit jou multicolour hoed te ruk nie.

Ek wil in die winkels rondslenter en koffie saammet vriende drink. Ek wil soetkoekies bak. Ek wil die spieël in my badkamer ophang sodat gaste kan sien hoe hulle lyk en my pa nie moet raai waar om te skeer as hy weer kom kuier nie. Ek wil werk aan my tan.

Dinsdag kom. Dinsdag kom. Dinsdag kom. Maar daar’s nog ‘n halwe Vrydag, ‘n hele Maandag  en nog ‘n Dinsdag om deur te kom.

Hierdie tyd van die jaar lewer elke Jan Rap en sy maat natuurlik ook nuwe kalenders van alle soorte hier af. Om die jaar 2009 so voor my uitgesprei te sien maak my effe depressief. Ek mik na Dinsdag, maar dan gaan dit weer Maandag die 5e Januarie wees en dan het elke week ‘n Dinsdag waarop niks gaan gebeur nie.

My reis

Ek was die laaste ruk so half, wel, ek skat die beste woord is “half”. Half tevrede, half gelukkig, half besig, half moeg, half wakker, half honger, half bly. So net genoeg in ‘n bui om myself te irriteer, maar sonder om regtig opmerklik anders te wees. Liefie het aanhou vra “what’s wrong angel?” en ek het net gesê ek weet nie. Want ek weet nie. Is dit maar net die tyd van die jaar? Is ek maar net vol nonsens, of hoe werk hierdie tipe ding?

Toe sit ek vanmiddag en kyk na die reën en dut so bietjie en toe drink ek ‘n lekker koppie koffie en lees bietjie blogs. En toe tref dit my. In hierdie presiese woorde: “Wat de fok?”.

Ek is nie half gelukkig en half bly en half besig en half moeg en half wakker en half tevrede nie. Ek is heel.

Ek besef nou ek was op ‘n manier kwaad vir myself. Oor ek nog nie heeltemal my lewe “na Swede” in volle swang begin lewe het nie. Omdat daar nog bokse rondstaan en omdat my wasgoed omtrent elke week ‘n week agter is. My dankie sê kaartjies van die troue is nog nie geskryf of gepos nie en meeste van die geskenke word nog nie eens gebruik nie, omdat ek ‘n stupid reël gemaak het dat ek eers die kaartjie moet stuur voor ek dit mag gebruik. Ek skuld ‘n klomp mense ‘n sms en ‘n oproep en ek het soveel goeie bedoelings, maar beloftes maak skuld.

Ek het eintlik ‘n helse klomp goed deurgemaak hierdie jaar. Ek is ontwortel, moes ‘n nuwe lewe uit ‘n ou ene maak, moes ‘n troue reël, het getrou (!) en dit alles in die tyd van die jaar waar dinge nie stadiger raak nie, maar woester!

Ek’s nou weer reg. As ‘n beloning vir myself het ek toe gedink ek gaan ‘n re-cap van van die jaar se beste herinneringe vir myself maak. Net om te onthou: “you’ve come a long way baby”.

montage1

Kan, wil en moet

Ek dra nog rompe en rokke wat bo my knie sit. Ek dra sulke netjiese snyerspakkie rokkies werk toe en oor naweke dra ek graag rompe. Ek dra dit nie omdat ek vreeslike mooi bene het nie, maar omdat my bene nog netjies is en ek dit nog kan doen.

Baie mense wil nog goed doen, maar kan nie noodwendig nie. Wat my by my vraag bring: wanneer moet iemand ophou om iets te doen? As hulle nie meer wil nie, as hulle nie meer kan nie, as ander mense dink hulle kan nie meer nie, as dit ‘n kombinasie van wil en kan is?  Wanneer moet mens ophou mini’s dra? Wanneer moet mens ophou werk? Wanneer moet mens ophou kinders hê? Is daar reëls of sosiaal aanvaarbare praktyke? Of behoort ons so vry in ons besluitneming te wees dat “wil” bo “kan” die deurslaggewende faktor moet wees?

Ek vra al hierdie vra, nie omdat ek noodwendig oor my mini dra wonder nie (ek gaan ophou sodra ek 30 is, terloops), maar omdat ek saammet ‘n bejaarde dame werk. Sy is verder ook nie vreeslik gesond nie, en het veral die afgelope jaar vreeslik met haar gesondheid gesukkel. Sy kom werk egter nou elke dag, is vriendelik, het die nodige bekwaamheid om die take te verrig, maar alles dit maak nie op vir die feit dat sy oud is nie. Sy is stadiger as die res van ons. Sy raak ongeduldig as goed nie onmiddelik na haar sin verloop nie. Sy het nie heeltemal die memo oor die nuwe Suid-Afrika gekry nie en is vreeslik uitgesproke oor haar geloof. (In die kantoor is ‘n Hindu dame getroud met ‘n Jordaniese moslem, ‘n ateïs, ‘n stil gelowige Christen en ek – nie heeltemal wat ek ‘n gebedsgroepie sal noem nie).

Op ‘n BBC Lifestyle program sien ek ‘n ma en pa van ‘n tweeling (3), waar die verskil tussen ma (28) en pa (62) 34 jaar is. En die kindertjies is heel in hulle moere in. Was dit regverdig van die pa om nog in te stem om kinders te hê? Net omdat hy kan en wil, beteken dit hy moes?

Net omdat vrouens kan boks, beteken dit hulle moet?

Net omdat ek nog ‘n sjokolade wil eet, beteken dit ek moet?

Of het die hele storie niks met my uit te waai nie?